Grootste vuurpyl toe nie gelanseer

Starship. (Foto: SpaceX/Twitter)

Die kragtigste vuurpyl wat nog ooit gebou is om ruimtevaarders na die maan en Mars te stuur, is toe nooit Maandag gelanseer nie.

Elon Musk se SpaceX het Maandag op die nippertjie besluit om die lansering van Starship tot later vandeesweek uit te stel. Starship sal na verwagting Donderdag vir die eerste keer lanseer word.

Musk voer aan dat ʼn “tegniese fout” die lansering tot ʼn stilstand gedwing het. Minder as 10 minute voordat Starship lanseer sou word, is daar ʼn fout met die drukking in een van die versterkers opgemerk. Die betrokke klep het glo gevries.

Die private ruimtemaatskappy het nietemin met ʼn “kleedrepetisie” voortgegaan en die klok is 10 sekondes voordat dit sou lanseer, gestop.

“Vandag baie geleer, laai nou dryfmiddel af en probeer weer oor ʼn paar dae,” het Musk getwiet.

Voordat hy Donderdag as die nuwe lanseringsteiken aangekondig het, het SpaceX gesê die eerste vlug sal met minstens 48 uur vertraag word om die vloeibare metaan en suurstof wat die vuurpyl aanvuur, te herwin.

Musk het vroeër gewaarsku dat daar moontlik ʼn vertraging in die lansering van die vuurpyl sou wees.

“Dit is ʼn baie riskante vlug. Dit is die eerste lansering van ʼn baie ingewikkelde en reusagtige vuurpyl,” het hy gesê.

“Daar is ʼn miljoen maniere waarop hierdie vuurpyl kan misluk. Ons gaan wel baie versigtig wees en as ons iets sien wat kommerwekkend is, sal ons die vlug uitstel.”

Starship sal na verwagting nou Donderdag om 15:30 SA tyd van SpaceX se platform in die Amerikaanse deelstaat Texas gelanseer word. Die vlug sal sowat 62 minute lank duur.

Die Amerikaanse ruimte-agentskap Nasa het die Starship-ruimtetuig gekies om ruimtevaarders teen die einde van 2025 na die maan te neem, ʼn sending bekend as Artemis III.

Starship bestaan uit ʼn 50 m hoë ruimtetuig wat ontwerp is om sy bemanning en 100 ton vrag na die maan of na Mars te vervoer.

“As dit ʼn wentelbaan kry, is dit ʼn groot sukses,” het Musk gesê.

SpaceX hoop om eindelik Starship in ʼn wentelbaan te plaas en dit dan met ʼn ander Starship aan te vul sodat dit op ʼn reis na Mars of selfs verder kan voortgaan.

Die doelwit is om eindelik basisse op die maan en Mars te vestig en mense op die pad te plaas om ʼn “multi-planeet‑beskawing” te word.

“Ons is op hierdie oomblik in tyd waar dit moontlik is om ʼn multi-planeet‑spesie te word,” het Musk gesê.

“Dit is ons doelwit en ek dink ons staan ʼn kans.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Anna84 ·

Of al Musk se drome ‘n werklikheid gaan word, is nog onseker, maar hierdie is nietemin baie interessant. Ek sal die hele dag na hierdie tipe videos op Youtube kan kyk. Dis net so ongelooflik hoe tegnologie die mens in staat stel om hierdie tipe ekspedisies uit te voer.

annie ·

Ons sal binnekort nie meer skoon drinkwater hê of selfs in die see kan swemnie weens besoedeling, maar ons sal baie geld in sekondes opbrand vir roem. Groot dele van die duur vuurpyl gaan in die see inplof in die proses en ‘hopelik’ herwin word. Die massiewe wêreldbevolking laat wetenskaplikes glo ons moet elders ook beset… Vir meer of dalk erger van dieselfde…

Vriendelike Frikkie ·

Sê eerder dankie vir mense soos Elon wat die grense van tegnologie druk. Dis weens sulke tegnologiese vordering dat jy in staat is om per rekenaar oor diesulkes te kan kla.

Renier ·

Ok Annie,opsie 2 is ons vermoor helfte van die planeet se mense.

Koen ·

Onthou. Werk is ‘n werkwoord. Die afdanking was ‘n eenvoudige besigheidsbesluit. Indien die SA maatskappye dieselfde voorbeeld volg, was ons baie beter af.

Marthinus W ·

Nogal snaaks: die Russe [bou die beste vuurpyle], die Chinese, die Indiers, die Pakistanis, almal bou vuurpyle wat die ruimte ingaan, net in Amerika staan hulle stil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.