Hamas berei reaksie voor op Israel skietstilstand-voorstel  

Lede van die Israelse weermag in die Gaza-strook. (Foto: Israelse weermag/AFP)

Hamas bestudeer en berei ʼn reaksie voor op Israel se jongste voorstel vir ʼn skietstilstand van 40 dae in die oorlog in die Gazastrook.

Dit is in ruil vir die vrylating van talle gyselaars wat sedert die Palestynse militante groep se aanvalle op 7 Oktober aangehou word.

Die Hamas-afvaardiging het teruggekeer na Katar ná die jongste samesprekings in Kaïro en gesê hulle sal “die idees en die voorstel bespreek… Ons is gretig om so vinnig as moontlik te reageer,” het ʼn Hamas-bron aan AFP gesê.

Antony Blinken, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, het die bepalings van die skietstilstand as “buitengewoon vrygewig” beskryf. Bemiddelaars van Egipte en Katar is gevra om druk op Hamas te verhoog om die jongste voorstel te aanvaar.

Pres. Joe Biden van die VSA het Egipte en Katar versoek “om alle pogings aan te wend om die vrylating van gyselaars wat deur Hamas gehou word te verseker””, en gesê dis “die enigste struikelblok” om verligting vir burgerlikes in die beleërde strook te verseker.

Die VSA, Egipte en Katar poog al maande lank om ʼn nuwe ooreenkoms tussen Israel en Hamas te bewerkstellig. Tydens ʼn week lange skietstilstand in November is 80 Israeliese gyselaars verruil vir 240 Palestyne wat in Israeliese tronke aangehou is.

Blinken het die noodsaaklikheid beklemtoon vir Hamas om “vinnig te besluit” oor die jongste voorstel. Hy het op ʼn spesiale vergadering van die Wêreld Ekonomiese Forum gesê hy is “hoopvol dat hulle die regte besluit sal neem”.

Sameh Shoukry, Egipte se minister van buitelandse sake, het op dieselfde vergadering gesê “die voorstel het die standpunte van beide kante in ag geneem”.

“Ons is hoopvol,” het hy bygevoeg.

Volgens Israel word daar nog sowat 129 gyselaars in Gaza aangehou – 34 van hulle wat vermoedelik reeds dood is.

Hamas se aanval het gelei tot die dood van ongeveer 1 170 mense in Israel.

Israel se vergeldingsoffensief het volgens die Hamas-beheerde ministerie van gesondheid die lewe van minstens 34 488 mense, meestal vroue en kinders, geëis.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

capie ·

My magies. Die ANC kan tereg ontsteld wees oor die oorlog tussen Hamas en Israel. Die dodetal onder “burgerlikes” is in ‘n vinnige berekening dubbel die van die moordsyfer in Suid Afrika. Die ANC word lelik in die skadu gestel.

George ·

@capie, mens kan nie crime meet teenoor oorlog nie. Mense wat so redeneer, was duidelik nog nie in n oorlogsone of in oorlog self gewees nie.

Grassie ·

As Hamas nie die voorwaardes aanvaar nie gaan Israel Rafah aanval en verwoes. Daar sal baie ongevalle wees. Ek dink Natanyahu hoop in stilligheid dat Hamas dit nie aanvaar nie want hy was onder geweldige druk van die VSA om in te stem. Sy doelwit is steeds om Hamas totaal uit te roei.

Republikein in die Wes Kaap ·

Israel gaan Hamas en die Palestynse Jihad vernietig. Daarna is dit Hezbollah se beurt. Intussen kan Israelis nog ernstige terreur aanvalle verwag.

capie ·

@ George ” mens kan nie crime meet teenoor oorlog nie ” Dit is juis die punt. As crime so erg raak dat mens dit al kan meet. Dalk skerm jy maar net vir jou base. En dan dink ek jy onderskat my ouderdom.

Kerneels ·

@Grassie Stem 100%
Glo en vertrou Netanyahu sal sy doelwit bereik.

Cherokee ·

George, jou misplaaste poging tot sarkasme in antwoord aan capie, laat soos meer kere as slegs nou, die vraagteken ontstaan oor waar presies jou lojaliteit lê, wanneer gepraat word oor Israel en Palestina.

Kerneels ·

Nee cherokee, ek dink eerder dis capie wat se onderrok vêr uithang. Die anc se houding jeuns Israel laat veel te wense oor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.