Hoe het meerminne in die Sahara beland?

’n Visfossiel in die woestyn waar daar eens diep water gestaan het.

’n Visfossiel in die woestyn waar daar eens diep water gestaan het.

Ons lees in die Griekse epiese gedig van Homerus, die Odussee, van hulle – die sirene wat met hul lieflike sang bemannings met hul skepe en al na die rotse gelok het om te vernietig.

Deur die eeue het seelui gereeld gemeld dat hulle meerminne gesien het. Hulle het vermoedelik na diere van die orde Sirenia verwys, wat uit een spesie dugon en drie spesies manatanees bestaan. Die Sirenia is plantvretende soogdiere, met die wyfies wat prominente tepels het, en stellig bygedra het daartoe dat seemanne gemeen het hulle het meerminne te siene gekry.

Een spesie, die Wes-Afrikaanse manatanee kom ook in die geïsoleerde Tsjadmeer voor – ’n meer sonder enige uitloop in die woestyn.

Hoe het hierdie diere wat langer as 2 m word en tot ongeveer 500 kg kan weeg in dié meer beland?

Om dié vraag te beantwoord, moet sowat 6 000 jaar in die geskiedenis teruggegaan word. Toe was die voorloper van die Tsjadmeer die grootste varswatermeer op aarde en op sy hoogste vlak ongeveer die grootte van die Kaspiese See. Dit was ook die grootste van vier reusemere in die Sahara.

Hierdie meer, bekend as die Paleomeer Mega-Tsjad, het wel na ’n rivierstelsel gedreineer, wat in die Nigerrivier uitgemond het. So word die teenwoordigheid van die hedendaagse “meerminne” in die vlak Tsjadmeer verklaar.

Die oermeer se oppervlakte was 360 000 km2 met ’n diepte van tot 170 m terwyl die teenswoordige Tsjadmeer 355 km2 groot en selde meer as 10 m diep is. Vandag is daar duine en visfossiele waar daar eens ’n groot varswatermeer was, en die verandering het oor slegs ’n paar eeue plaasgevind toe die klimaat verander het.

’n Interessantheid is ’n deel van die oermeer, wat vandag as die Bodélédepressie bekend staan. Dit is die grootste enkele bron van stof in die atmosfeer. Wetenskaplikes glo hierdie stof is die hoofbron vir die verryking van die grond van Suid-Amerikaanse woude. ’n Omvattende ondersoek na die oermeer deur verskeie akademiese instellings in Londen, en wat pas in die vakjoernaal Proceedings of the National Academy of Sciences gepubliseer is, wys egter daarop dat die deel van die depressie wat van die meeste stof oplewer, tot ’n duisend jaar gelede nog met water bedek was. Dit beteken dat wyer gekyk moet word na hoe die uitgeloogde woudgrond gevoed is.

Erkenning: University of Royal Holloway, Londen

Hoofbron: ScienceDaily

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Gedoriewaar, Wêreldnuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Berhalet Beukes ·

Fratsgolf? :-) Grap net! Die wêreld is werklik vol verrassings, mens kan net kopkrap oor al die dinge wat onthul word met verloop van tyd!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.