Hof bekragtig Ruto se oorwinning in Kenia

Aangewese Keniaanse president William Ruto sal volgende week beëdig word. (Foto: Tony Karumba/AFP)

Kenia se verslane presidentskandidaat Raila Odinga sê hy respekteer die beslissing van die hooggeregshof wat sy teenstander, William Ruto, se oorwinning in die verkiesing bekragtig het – maar hy verskil “heftig” daarvan.

Maandag se hooggeregshofuitspraak bring ʼn einde aan weke lange politieke onsekerheid en is ʼn slag vir Odinga wat aangevoer het daar was verkiesingsbedrog.

“Dít is ʼn eenparige beslissing. Die petisie word van die hand gewys en gevolglik verklaar ons die eerste respondent [Ruto] as aangewese president,” het hoofregter Martha Koome in die uitspraak gesê.

Adj.pres. Ruto (55) het net-net tot ʼn oorwinning deurgeskraap – met minder as twee persentasiepunte – in ʼn taai stryd teen Odinga, ʼn veteraan-opposisiepolitikus wat nou deur die regerende party gesteun word.

Odinga het verlede maand ʼn petisie by Kenia se hoogste hof ingedien en aangevoer hy het “voldoende bewyse” dat hy inderwaarheid die verkiesing – een van die duurste nog op die vasteland – gewen het.

Stemdag het vreedsaam verloop, maar die uitslae het opruiende betogings tot gevolg gehad in gebiede waar Odinga groot steun geniet. Daar was ook vrese dat die dispuut tot geweld kan lei in ʼn land wat reeds ʼn geskiedenis daarvan het.

Regters het die afgelope twee weke deur bokse bewysstukke gesif om te bepaal of daar wel enige ongerymdhede was om die verkiesingsuitslag nietig te verklaar.

Die hof het egter bevind die verkiesing het voldoen aan die standaarde vir integriteit, verifieerbaarheid, sekerheid en deursigtigheid.

Enige “ongerymdhede” was nie van so ʼn omvang dat dit die finale verkiesingsuitslae sou raak nie en die hof het die aansoek verwerp.

Albei kandidate het onderneem om die hofbeslissing te aanvaar.

“Ons het nog altyd die oppergesag van die reg en die grondwet voorgestaan. In hierdie verband respekteer ons die mening van die hof, hoewel ons heftig van die besluit verskil,” het Odinga ná afloop van die uitspraak in ʼn verklaring gesê.

Ruto sal nou op 13 September as president beëdig word. Hy word Kenia se vyfde president sedert onafhanklikheid in 1963 van Brittanje verkry is en neem die leisels oor van ʼn land wat geteister word deur inflasie, hoë werkloosheid en ʼn verlammende droogte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

Tipies Afrika: die liberation movement wat by die koloniale heersers oorgevat het, móét blykbaar vir ewig aan bewind bly, al wys verkiesingsuitslae iets anders. Mark my words, dit gaan nog in SA ook gebeur: die ANC gaan ‘n algemene verkiesing verloor en dan óf die EFF se beleid 100% oorvat en met die EFF in koalisie regeer, óf die verkiesingsuitslag nietig verklaar en Zimbabwe-styl die weermag en polisie ontplooi om opstandige mense stil te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.