Hokaai met KI-ontwikkeling vra kenners

Argieffoto (Foto: Pixabay)

ʼn Ope brief waarin prominente rolspelers soos Elon Musk en Steve Wozniak, medestigter van Apple, vra dat verdere ontwikkeling van kunsmatige intelligensie (KI)-stelsels eers gestaak word, het woeste reaksie ontketen.

Timnit Gebru en Emily Bender, wie se akademiese navorsing verkeerdelik in die brief aangehaal word, het hulle misnoeë hieroor uitgespreek.

Gebru het Donderdag op Twitter geskryf dat die artikel eintlik daarteen waarsku om sulke opgeblase aansprake oor KI te maak. “Die skrywers van die brief haal ons as bron aan, maar hulle sê basies die teenoorgestelde van wat ons bevind het.”

Bender meen die brief is niks meer as ʼn ligsinnige bohaai oor KI nie. “Die risiko’s van KI het nooit gegaan oor KI wat ‘te kragtig’ is nie, maar eerder oor konsentrasie van mag in die hande van mense, oor die hervervaardiging van stelsels van onderdrukking, en oor skade aan die inligting-ekostelsel.”

OpenAi se bekendstelling van GPT-4, ʼn opdatering van ChatGPT, het volgens ʼn berig op AFP aanleiding tot die ope brief gegee.

Die brief is Woensdag op die webwerf, Future of Life Institute, wat deur Musk befonds word, gepubliseer en dit is deur meer as 1 000 mense onderteken. Mededingers van OpenAI, soos Stability AI se hoof, Emad Mostaque, en Canadian AI se Yoshua Bengio, het ook hulle handtekeninge hierby gevoeg.

In die brief versoek kenners dat die ontwikkeling van KI-stelsels vir ses maande gestaak word.

“KI-stelsels met mens-mededingende intelligensie kan groot risiko’s vir die samelewing en die mensdom inhou. Dit kan eers verder ontwikkel word sodra ons vol vertroue is dat die uitwerking daarvan positief sal wees en risiko’s hanteerbaar is,” lui die ope brief met die titel “Pause Giant KI Experiments”.

Bengio het tydens ʼn virtuele perskonferensie, wat in Montreal aangebied is, gewaarsku dat die samelewing nog nie vir so ʼn instrument en die moontlike misbruik daarvan gereed is nie.

“Kom ons verminder die spoed waarteen ontwikkeling plaasvind en maak eerder seker dat beter veiligheidsraamwerke ontwikkel word,” het Bengio gesê.

Hy het versoek dat ʼn deeglike internasionale bespreking oor KI en die implikasies daarvan plaasvind, net soos wat daar vir kernkrag en kernwapens gedoen is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

KAIROS ·

Dit is n manier om mag te oefen , Elon Musk het onttrek uit AI. Nou wil hy dit halt

Marisa W ·

Kunsmatige intelligensie sal die einde van menslike intelligensie beteken – waarom self dink as iets anders vir jou kan dink…

annie ·

Die KI-gedrogte wat reeds gemaak is, is erg genoeg en skynbaar reeds met die oog op oorlogsvoering. Die gebruik as tegniese hulpmiddele is vooruitgang, maar nou kan dit glo miljoene se werk oorneem, wat seker groot ongelukkigheid sal veroorsaak. Misbruik sal nie verhoed kan word nie.

Cherokee ·

Wat komies sal wees, is wanneer bliksoldate ontwikkel word, en teen mekaar veg in oorloë.
Met ‘n glimlag gesê, maar nadat ek dit geskryf het, het ek die realisme daarin gesien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.