Hollywood-akteur bring dinosourus-skedel terug na Asië

Nicolas Cage. Foto: Nicolas Cage by die Venice Film Festival deur Nicolas Genin via Wikipedia

Nicolas Cage. Foto: Nicolas Cage by die Venice Film Festival deur Nicolas Genin via Wikipedia

Die Hollywood-akteur, Nicolas Cage, het vandeesweek ingestem om ʼn dinosourus-skedel wat hy in 2007 by ʼn veiling aangekoop het, aan Mongolië in Asië terug te besorg. Dié dinosourus-skedel word glo as ʼn nasionale skat van die land beskou.

Die stuk is oorspronklik in Maart 2007 vir $230,000 by die IM Chait Gallery and Auction House in Los Angeles aan die akteur verkoop. Dit was bemark as ’n “uiters seldsame” Tyrannosaurus-skedel uit die laat Kryttydperk, wat sowat 65 miljoen jaar gelede geëindig het.

ʼn Woordvoerder van die akteur sê hy was onbewus daarvan dat die skedel gesteel was. Ná die akteur in kennis gestel is van die owerhede se vermoede dat die skedel gesteel is, het hy sy volle samewerking gegee tot die ondersoek voltooi was.

Federale aanklaers in New York het vroeër vandeesweek vir goedkeuring van die hof gewag om die 32 duim-skedel weer in besit te kan neem, maar Cage het ingestem om die skedel  aan Mongolië terug te besorg.

Die ondersoekbeamptes sê glo dat die skedel in Junie 2006 uit die Gobi-woestyn in Mongolië geplunder is en verskeep is via Japan na Gainesville, Florida. Ondersoekbeamptes het sedert 2012 verskeie dinosourusfossiele, klein prehistoriese akkedisse, skilpaaie en ander skatte aan Mongolië terugbesorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.