Hollywood: Bekendes boos oor modehuis se skokfoto’s; William, Kate kuier in VSA

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Kim Kardashian vies vir modereus

Kim Kardashian en haar oudste dogter, North West. (Foto: AFP)

Balenciaga het onlangs mense wêreldwyd ontstel met ʼn bemarkingsveldtog wat dié modehuis op sosiale media van stapel gestuur het.

Kinders is as modelle in die veldtog gebruik, en verskyn in foto’s saam met teddiebere wat seksuele en suggestiewe uitrustings aan het. Balenciaga het sedertdien alle foto’s van sy Instagram-bladsy verwyder en ʼn verklaring geplaas om verskoning te vra.

Een van dié ontstelde mense is Kim Kardashian, ʼn ma van vier en verteenwoordiger van die modereus. Kardashian is self deur probleme in die gesig gestaar nadat sy aanvanklik nie enigiets gesê het oor die veldtog en haar betrokkenheid by die handelsmerk nie.

“Ek was stil vir die afgelope paar dae, nie omdat ek nie gewalg en verontwaardig is oor die onlangse Balenciaga-veldtog nie, maar omdat ek met hulle span wou praat om vir myself uit te pluis hoe dit kon gebeur,” het sy op sosiale media gesê.

“As ʼn ma van vier is ek geskok oor hierdie foto’s. Die veiligheid van ons kinders moet as die belangrikste geag word en enige pogings om kindermishandeling te normaliseer mag nie enige plek in ons samelewing hê nie.”

Na haar ontmoeting met Balenciaga, is Kardashian seker dat die modereus die erns van die saak verstaan, maar oor haar toekoms met die handelsmerk is sy nie seker nie.

“Ek is tans besig om my verhouding met die handelsmerk te heroorweeg.”

William, Kate besoek VSA

Prins William en sy vrou, Kate, tydens hul besoek aan Boston in die VSA. (Foto: Instagram/The Royal Family)

Die prins en prinses van Wallis, William en Kate, het vir die eerste keer in agt jaar ʼn besoek aan die VSA afgelê.

Dié besoek is ten bate van die Earthshot-prys, die prins se omgewingstoekenningsgeleentheid wat Vrydag plaasgevind het. Dit is ook die heel eerste besoek wat die koninklike egpaar as prins en prinses van Wallis aflê.

Die toer is egter vertroebel deur ʼn rassisme-klag op William en Kate se tuisbodem. Prins William se peetma, lady Susan Hussey, het uit haar posisie as hofdame getree nadat sy ʼn besoeker aan Buckingham-paleis herhaaldelik gevra het waar sy “eintlik” vandaan kom.

Die monargie moes vure begin doodslaan toe Ngozi Fulani, ʼn Britse welsynshoof, onthul het wat Dinsdag tydens haar besoek aan die paleis gebeur het.

Lady Hussey, wat ook as koningin Elizabeth II se hofdame gedien het, het intussen verskoning gevra vir die gebeure.

Sommige toeskouers het William en Kate tydens ʼn NBA-wedstryd in Boston uitgejou.

Prins Harry en sy vrou, Meghan, het intussen die koppe laat draai vir ʼn ander rede. Die dokumentêr Harry & Meghan word binnekort op Netflix bekend gestel en beloof om kykers ʼn unieke blik in hul lewens te gee.

Kyk hier na die lokprent :

Verkragtingsaak teen ‘That 70’s Show’-akteur uitgegooi

Danny Masterson, bekend vir sy rol in die treffersitkom That 70’s Show, en sy beweerde slagoffers sal tot volgende jaar vir ʼn uitkoms in ʼn hangende hofsaak moet wag.

Danny Masterson in die hof. (Foto: Lucy Nicholson/Pool/AFP)

Masterson (46) is in 2020 daarvan aangekla dat hy drie vroue tussen 2001 en 2003 verkrag het. Die drie vroue was ten tyde van die beweerde verkragtings in hul 20’s.

ʼn Jurie in Los Angeles kon egter nie tot ʼn beslissing in die hofsaak, wat in November vanjaar afgeskop het, kom nie. Die saak word in Maart voortgesit.

Indien hy skuldig is, kan Masterson tronkstraf van soveel as 45 jaar opgelê word.

Kyk: Lokprent van ‘That 90’s Show’

ʼn Opvolgreeks van die bekende sitkom That 70’s Show is in 2023 op Netflix beskikbaar.

Kyk hier na die lokprent van That 90’s Show:

Bykomende bronne: BBC News, Sky News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tredoux ·

Daar is niks meer irriterend en lagwekkend as “celebs” en hul dramas nie.

Niklaas ·

Oor watter groot talente beskik hierdie Kardashian vrou nou eintlik ? Behalwe om op partytjies te verskyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.