Nuwe dokkie gee ‘kwesbare blik’ op Harry, Meghan se verhouding

Dié langverwagte reeks beloof om ‘n intieme blik op die paartjie se verhouding te gee. (Foto: Twitter/Netflix)

“Wanneer daar so baie op die spel is, maak dit dan nie meer sin om ons storie by ons te hoor nie?”

Só sê Meghan Markle, die hertogin van Sussex, in die eerste lusmaker van haar en prins Harry se langverwagte Netflix-dokumentêr, eenvoudig getiteld Harry & Meghan.

Volgens Netflix verken dié “ongekende dokumentêre reeks” die omvang van die bekende paartjie se verhouding – van die vroeë dae van hul hofmakery tot die uitdagings wat hulle later aangespoor het om van die Britse koninklike familie afstand te doen.

Die egpaar werp ook lig op hul besluit om hul verhaal self vir die eerste keer op dié wyse te deel.

“Hoekom wou jy hierdie dokumentêr maak?” word hulle in die kort lusmaker gevra, wat reeds meer as 1,6 miljoen trefslae op YouTube het.

“Niemand sien wat agter geslote deure gebeur nie,” sê Harry. “Ek moes alles doen wat ek kon om my gesin te beskerm.”

Die reeks span oor ses episodes en bevat ook onderhoude met familie en vriende wat nog nooit voorheen in die openbaar oor die egpaar se verhouding gepraat het nie, aldus die reeks se amptelike beskrywing.

In die kort lusmaker flits talle persoonlike foto’s van die hertog en hertogin wat ook nog nooit vantevore deur lede van die publiek gesien is nie, waaronder hul huweliksonthaal, asook informele foto’s van die paartjie in hul huis. Een foto wys selfs hoe Meghan mismoedig op ʼn bank sit en huil.

Die hertogin het in ʼn onlangse onderhoud met Variety erken dat sy en prins Harry opgewonde is om dié reeks met lede van die publiek te deel, “al beteken dit dat dit dalk nie is soos ons dit sou vertel het nie”.

Maroela Media het vroeër berig dat dié dokumentêr – wat nog nie ʼn amptelike bekendstellingsdatum het nie – een van verskeie winsgewende ooreenkomste is wat die egpaar met media-instansies die afgelope twee jaar gesluit het.

Daar word beweer dat die stromingsreus Spotify $30 miljoen (R340 miljoen) vir die hertogin se Spotify-podsendingreeks, Archetypes, betaal het en prins Harry se opspraakwekkende memoir, Spare, sal in Januarie 2023 te koop wees.

Die Harry & Meghan-lusmaker is enkele ure uitgereik ná prins William en Kate Middleton vir ʼn amptelike koninklike besoek in die VSA aangekom het.

Bronne: Netflix, People, CNN.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

bolletjie blom ·

Is hulle dan nog hertog en hertogin. Hulle wil dan niks meer met die adelikes te doen hê nie.

Pietertjie ·

Die eerste sin van die artikel sê dit alles. Ons storie. Ons weergawe. Ons. Ons ons. Die wêreld het nie meer plek of tyd vir die waarheid nie. Net vir “ons” en “ons storie”.

My Mening ·

Dis alles goed en wel dat hulle hul storie wil vertel, maar nou wonder ek net….wie neem al die fotos van wat ek sou dink nogals persoonlike oomblikke is?

Gawie ·

Dit sal goed wees om vir ‘n slag hulle kant van die storie te hoor. Al wat verslaggewer is praat met almal behalwe die paartjie self. En duidelik het die koningshuis ‘n agenda om te probeer beskerm, so mens hoor altyd net daardie kant. Sien uit om die reeks te kyk.

Oppiestoep ·

Ek kyk eerder hoe verf droog word. Baie meer opwindend!

Adri ·

Wie het die persoonlike fotos geneem in die kombuis en op die bank? Hulle is dan so geheimsinnig en wil privaatheid hê!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.