Meghan praat vir eerste keer oor koningin se dood

Meghan Markle verskyn in die jongste uitgawe van Variety. (Foto: Variety/Instagram)

Meghan Markle, die hertogin van Sussex, het vir die eerste keer oor die uitwerking van wyle koningin Elizabeth II se afsterwe in ʼn nuwe onderhoud met die Amerikaanse glanstydskrif Variety gesels.

Markle word in dié tydskrif se jongste uitgawe – wat op die krag van vroue in 2022 fokus –  vereer en as ʼn “tipiese Amerikaanse ma” beskryf.

Dié langverwagte onderhoud sou September reeds gepubliseer word, maar is uitgestel en verwerk weens die koningin se afsterwe op 8 September.

Ná haar huwelik met prins Harry, die hertog van Sussex, het Markle verskeie geleenthede gehad om tyd saam met die koningin deur te bring en het met die tydskrif oor haar persoonlike verhouding met die koninklike matriarg gesels.

“Ek het nagedink oor daardie eerste amptelike geleentheid wat ek saam met haar bygewoon het en hoe spesiaal dit gevoel het. Ek voel bevoorreg en bly trots daarop dat ek ʼn warmte met haar gedeel het.”

Sy het die koningin ook as “die mooiste voorbeeld van ʼn vroueleier” beskryf en bygevoeg dat hoewel die koningin se afsterwe ʼn “ingewikkelde tyd” was, sy graag haar man daardeur wou ondersteun.

“My man, wat altyd ʼn optimis is, het gesê dat sy nou met haar man herenig is.”

Markle en prins Harry woon sedert 2019 in Kalifornië in die VSA nadat hulle drie jaar terug finaal van hul koninklike pligte afstand gedoen het.

Volgens die 41-jarige Markle sien sy en prins Harry nou daarna uit om op hul huidige projekte – wat haar nuwe Spotify-podsending Archetypes insluit – asook hul filantropiese toekomsplanne met hul organisasie Archewell te fokus.

Talle vrae het ook onlangs oor dié egpaar se nuwe opspraakwekkende Netflix-reeks ontstaan en daar word bespiegel dat hulle die inhoud daarvan heroorweeg in die lig van die koningin se dood.

Markle het aan Variety vertel dat sy en prins Harry egter opgewonde is om dié reeks met lede van die publiek te deel, “al beteken dit dat dit dalk nie is soos ons dit sou vertel het nie”.

Dit is nog nie duidelik wanneer dié reeks, wat een van verskeie winsgewende ooreenkomste is wat die egpaar met media-instansies die afgelope twee jaar gesluit het, die lig sal sien nie.

Luidens mediaberigte sal prins Harry se memoir ook nog binnekort verskyn.

Bronne: Variety, Glamour, BBC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Geurt ·

Regtig, gaan ons nou hier ook die vrou se nonsies stories aanhoor?! Rapporteer maar eerder oor Kate. Ek vermoef dat sy baie meer eerbaar optree!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.