Hollywood: Gwyneth Paltrow in die sop oor haar sop; Hugh Grant glo romansflieks is bog

Gwyneth Paltrow in die hof. (Foto: Rick Bowmer/POOL/AFP)

Maroela Media bied jou ’n opsomming van hierdie week se jongste internasionale vermaaknuus.

Gwyneth Paltrow in die sop

Die 50-jarige aktrise, Gwyneth Paltrow, het vroeër vandeesweek in die hof verskyn om dagvaardiging oor ʼn ski-ongeluk te betwis.

Gwyneth en nog ʼn vakansieganger, Terry Sanderson, het tydens ʼn 2016-ski-vakansie in Utah, Amerika, ʼn botsing in die ski-heuwels gehad. Terry beweer dat Gwyneth dié botsing veroorsaak het en dat dit tot sy drastiese fisieke agteruitgang gelei het. Die 76-jarige Terry het haar vir $300 000 (sowat R5,4 miljoen) se skadevergoeding gedagvaar.

Die aktrise hou egter vol dat hy bog praat en het hom vir $1 (sowat R18) terug gedagvaar.

Terry se eerste dagvaardiging, van sowat $3,1 miljoen (sowat R56,5 miljoen), is afgekeur. Hy het harsingskudding en vier gebreekte ribbes in die ongeluk opgedoen.

Intussen is Gwyneth ook op sosiale media skerp gekritiseer oor haar ongewone eetgewoontes. Sy het in ʼn onlangse episode van Dear Media se The art of wellness-podsending gesê dat sy ʼn leefwyse van afwisselende vas (intermittent fasting) volg en dat sy deur die res van die dag slegs beensop (bone broth) en groente eet.

Sy het in die gesprek ook gesê dat dit deel vorm van haar “detoks”. Dit het egter gelei tot talle sosialemediagebruikers wat wonder waarom sy die detoks nodig het.

“Dis gevaarlik. Dis dodelik. Meer as wat vetsug ooit sal wees. Dit is oukei om meer te verwag van diegene wat meer sosiale mag het, niemand is vrygestel nie,” het een Twitter-gebruiker geskryf.

Gwyneth het later in ʼn Instagram-vraag-en-antwoordsessie verduidelik dat sy meer as dit eet, maar dat hierdie dieet haar met kroniese gesondheidsprobleme help.

Amanda Bynes op straat gevind, gehospitaliseer

Nadat ʼn video van ʼn benoude Amanda Bynes in die strate van Los Angeles soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het, is daar duisende mense wat hul besorgdheid oor dié voormalige kinderster uitgespreek het.

Amanda Bynes. (Foto: Amanda Bynes/Instagram)

ʼn TikTok-gebruiker met die naam Kaytlin het ʼn video van haar en Amanda op dié video-app gelaai. In die video, loop sy saam met Amanda wat aan haar klou om haarself stewig te hou.

Dié video is enkele dae voor Amanda se uiteindelike psigiatriese hospitalisasie op sosiale media gedeel. TMZ berig dat Bynes op 19 Maart in die strate van Los Angeles geloop het, ʼn kar nader gewink het en gevra het om 911, die Amerikaanse nooddienstenommer, te skakel. Sy is daarna vir 72 uur in ʼn psigiatriese hospitaal onder bewaring geplaas.

Amanda het in die 1990’s bekendheid verwerf met reekse op Nickelodeon en flieks soos She’s the man, What a girl wants, en Sydney White. Sy was in daardie stadium van haar loopbaan uiters gewild en het die skerm met talle ander groot name in die bedryf gedeel.

In 2012 het haar loopbaan egter begin agteruitgaan nadat sy vir dronkbestuur in hegtenis geneem is. Sy is die jaar daarna onder voogdyskap geplaas, wat uiteindelik nege jaar sou duur, en het deurlopend met sielkundige en verslawingsprobleme gesukkel.

Hugh Grant glo romantiese flieks is ʼn leuen

Vergeet van die aantreklike boekwinkeleienaar in Notting Hill, die 80’s-musikant in Music and Lyrics en selfs die sjarmante rugsteker in Bridget Jones’s Diary, Hugh Grant glo dat romantiese rolprente ʼn “groot, vet leuen” is.

Hugh Grant. (Foto: Ricardo Moreira/ Getty Images North America/AFP)

“Die groot vraag is of ʼn man en vrou werklik saam hoort die waarheid is – en of dit iets is waaroor ons desperaat behoort te wees –en of dit eintlik ʼn leuen is,” het Hugh aan verslaggewers op ʼn rooitapyt in Parys, waar hy sy nuwe rolprent, Dungeons and Dragons: Honour amongst thieves bemark, vertel.

“En ek het ʼn gevoel dat dit ʼn groot, vet leuen is, ten spyte daarvan dat ek ʼn hele loopbaan daarop gebou het.”

Hy glo ook dat indien daar ooit opvolgflieks op van sy eie, gewilde romantiese rolprente sou wees, dat die meeste van hulle in die kantore van egskeidingsprokureurs sou afspeel.

Hy glo ook dat hy nou te “oud en lelik” geword het om nog die held in romantiese rolprente te speel, en dat hy deesdae die rol van die booswig meer geniet.

Paris Hilton reik boek uit

Paris Hilton is ʼn rykmansdogter, werklikheidster, platejoggie, ma en ook nou boekskrywer.

Sy het pas haar outobiografie, Paris: The Memoir, waarin sy talle onthullings oor haar lewe voor en ná beroemdheid maak, uitgereik. Sy delf dieper in van die oomblikke wat deel van haar lewe en loopbaan gevorm het en bied aanhangers die geleentheid om haar beter te leer ken.

Paris Hilton. (Foto: Xavier Collin/Image Press Agency/NurPhoto/AFP)

Sy skryf in die boek oor haar befaamde seksvideo wat in die 2000’s die lug gesien het, haar struikelblokke met aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom en die pad wat sy met Provo Canyon School, ʼn hervormingskool, gestap het.

In ʼn onderhoud met Vogue het Paris gesê dat sy besluit het om die boek te skryf nadat ʼn dokumentêr, This is Paris, in 2019 oor haar lewe uitgereik is.

Sy het reeds in dié dokumentêr haar misnoeë uitgespreek met hoe sy en talle ander tieners deur die Provo Canyon School na bewering mishandel is. Sy het ook onthul dat die fyn stem waarmee sy bekend geword het, eintlik glad nie is hoe sy praat nie.

“Daardie dokumentêr het my lewe verander,” het sy gesê.

“Dit was die eerste keer wat ek weerloos kon wees en daardie kant van my kon wys.”

Bykomende bronne: Glamour, BBC News, TMZ, Jacaranda FM, Vogue.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.