Hollywood: K-Pop-sterre kuier in koningshuis; sanger, akteur aangekla van seksuele misdrywe

Koning Charles saam met die K-pop-groep, Blackpink. (Foto: Victoria Jones/Pool/AFP)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

K-Pop-sterre kuier in koningshuis

Die prinsesse van K-pop, Blackpink, is vroeër vandeesweek hartlik welkom geheet by die Buckingham-paleis.

Dié Suid-Koreaanse musiekgroep het nie net skouers geskuur met koning Charles III nie, maar is ook as erelede van die Orde van die Britse Ryk (MBE) ingestel. Yoon Suk Yeol, die Suid-Koreaanse president, en sy vrou, Kim Keon Hee, kuier ook tans in Engeland by die Britse koninklikes, en het dié spesiale seremonie bygewoon.

Die militêre orkes van die Eerste Bataljon Walliese Wagte het dié geleentheid gevier deur een van Blackpink se bekendste treffers te speel.

Kyk die video hier:

Sanger en akteurs aangekla van seksuele wangedrag

Drie Hollywood-bekendes se beweerde seksuele wangedrag is vroeër vandeesweek aan die groot klok gehang.

Klagtes is teen Jamie Foxx, Axl Rose en Cuba Gooding Jr. gelê ʼn paar dae voordat ʼn spesiale vergunning vir volwasse slagoffers luidens New York se wet van verjaring verval het. Dié vergunning het ʼn jaar lange tydperk behels waartydens volwasse slagoffers van seksuele geweld aanklagtes teen hul aanvallers kon indien, ongeag wanneer of hoe lank terug die voorval gebeur het. Dié vergunning is spesifiek in New York gemaak en het op Vrydag 24 November amptelik verval.

Jamie Foxx. (argieffoto)

Die Collateral-akteur, Jamie Foxx, word daarvan aangekla dat hy in 2015 ʼn vrou by ʼn restaurant in New York seksueel aangerand het. In die dagvaarding, waarvan besonderhede deur TMZ gepubliseer is, beweer die eiser dat sy Foxx by ʼn tafel na aan haar sien sit het.

Sy het hom glo om 01:00 genader vir ʼn foto, waarop hy na bewering geantwoord het: “Natuurlik, baby, enigiets vir jou. Wow, jy het daardie supermodellyf en jy ruik so lekker.”

Sy beweer dat hy haar daarna aan die arm gelei het na die dak van die gebou, waar hy haar seksueel aangerand het. Hy word daarvan beskuldig dat hy onderskeidelik sy hande onder haar hemp en in haar broek ingesteek het.

In nog ʼn aanmelding, het Sheila Kennedy, ʼn voormalige model, die Guns N’ Roses-hoofsanger, Axl Rose, van seksuele aanranding aangekla.

Volgens die dagvaarding, wat in New York ingedien is, het Rose haar na bewering in 1989 in ʼn hotelkamer aangeval. Kennedy is ná die voorval met angs en depressie gediagnoseer.

Kennedy is nou op soek na geldelike vergoeding vir die emosionele toestand wat Rose se beweerde wangedrag veroorsaak het. Sy was ten tyde van die beweerde aanval ʼn 26-jarige model vir die Penthouse-tydskrif. Sy het Rose in ʼn nagklub in New York City ontmoet, en ʼn paar uur later het die beweerde aanval in ʼn hotelkamer plaasgevind.

Alan S Gutman, Rose se regsverteenwoordiger, hou vol dat dié voorval bloot nie gebeur het nie.

Cuba Gooding Jr. tydens ʼn vorige hofsaak waartydens hy skuldig gepleit het. (Foto: David Dee Delgado/Getty Images/AFP)

“Om dit eenvoudig te stel, hierdie voorval het nie gebeur nie. Rose herroep glad nie dat hy ooit vir Kennedy ontmoet het nie.”

Daar is ook twee nuwe aanklagte van seksuele aanranding teen die akteur Cuba Gooding Jr. aangebring.

Jasmine Abbay en Kelsey Harbert het vroeër vandeesweek ʼn dagvaarding ingedien wat beweer dat Gooding hulle albei, onderskeidelik in 2018 en 2019, onsedelik aangerand het.

Gooding het reeds in 2019 (vir die aanval op Harbert) en in 2022 (vir die aanval op Abbay) skuldig gepleit, hoewel dit destyds as ʼn blote misdryf afgemaak is. Harbert en Abbay eis egter nou geldelike vergoeding vir die voorvalle.

Ander figure wat onder dié spesiale wet onder die spervuur beland het, sluit onder meer oudpres. Donald Trump, Bill Cosby en Sean “Diddy” Combs in.

Trouklokke lui vir Percy Jackson-akteur

Logan Lerman, bekend vir flieks soos Percy Jackson en The Perks of Being a Wallflower, het vroeër vandeesweek aan Ana Corrigan, sy meisie van die afgelope drie jaar, verloof geraak.

“Dit is mev. Logie vir jou,” het Ana, ʼn keramiekkunstenaar op Instagram, gedeel.

Bykomende bronne: People, The Hollywood Reporter, USA Today.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.