Hollywood: Mariah Carey weer gedagvaar oor Kerstreffer; Sophie Turner laat tonge klap

Mariah Carey. (Foto: Theo Wargo/Getty Images North America/AFP)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Mariah Carey weer gedagvaar oor Kerstreffer

Dit lyk of al wat Mariah Carey dié Kersseisoen gaan kry, nog ʼn dagvaarding is.

Andy Stone, ʼn liedjieskrywer en sanger, het dié 54-jarige sangeres vir $20 miljoen (sowat R367 miljoen) oor beweerde kopieregskending gedagvaar. Volgens Stone is Carey se 1994-Kersfeestreffer, “All I Want for Christmas is You”, gebaseer op sy eie gelyknamige countrylied wat in 1989 uitgereik is.

Dit is ook nie die eerste dagvaarding wat Stone teen Carey aanhangig maak nie. Hy het in Junie 2022 ʼn soortgelyke klag teen dié sangeres ingedien, met die hoop om beweerde diefstal van sy snit te bewys. Hy het egter dié saak ná vyf maande teruggetrek.

Stone, wat as Vince Vance and the Valiants optree, het vroeër vandeesweek ʼn siviele dagvaarding teen Carey, Walter Afanasieff en Sony Music Entertainment aanhangig gemaak.

In dié dagvaarding beweer hy onder andere dat sy weergawe van “All I Want for Christmas is You” in 1993 werklik op die radio begin speel het, en dat dit kort daarna ʼn verskyning op Billboard se jongste Country-trefferlys gemaak het. Daarmee wil hy glo beweer dit het Carey en haar musiekspan genoeg tyd gegee om sy liedjie te kopieer.

Sophie Turner laat die tonge klap

Twee maande nadat Sophie Turner en Joe Jonas bekendgemaak het dat hul paadjies skei, is Sophie in die arms van ʼn Britse adellike gekiek.

Dié 27-jarige Game of Thrones-aktrise en die 29-jarige Britse adellike, Peregrine Pearson, het op 28 Oktober ʼn soen in die strate van Parys gedeel. Sophie het kort voor dié omhelsing die Webb Ellis-trofee saam met Dan Carter by die Rugbywêreldbeker-finaal in Frankryk bekendgestel.

@rugbyworldcup

Sophie Turner and Dan Carter are in the house for the 2023 #RWCFinal #SophieTurner #Rugby #RWC2023

♬ оригінальний звук – ᶫᵒᵛᵉˢᵉᶰˢˢˢ

Sophie en haar vervreemde man, Joe Jonas, het in September vanjaar bekendgemaak dat hulle ná vier jaar en twee kinders saam gaan skei.

‘Mean Girls’ hou reünie

Lindsay Lohan, Amanda Seyfried en Lacey Chabert is weer in pienk getooi – dié keer vir ʼn Mean Girls-reünie.

Alhoewel aanhangers van dié 2004-tienerrolprent gehoop het vir ʼn opvolgfliek, gaan hulle maar tevrede moet wees met ʼn advertensie. Dié advertensie is vir die Amerikaanse megawinkel, Walmart, se Swart Vrydag-uitverkoping geskiet.

Kyk na die langverwagte reünie hier:

‘Friends’-skrywers hartseer oor Matthew Perry se afsterwe

Marta Kauffman en David Crane, die skeppers en skrywers van Friends, het hul hartseer oor Matthew Perry se afsterwe tydens ʼn onlangse onderhoud met Today uitgespreek.

Perry, wat die karakter van Chandler Bing deur die loop van die reeks se 10 seisoene vertolk het, was volgens Kauffman gesond en gelukkig toe hulle die laaste keer gesels het. Dié gesprek het sowat twee weke voor Perry se ontydige dood plaasgevind.

“Dit was wonderlik,” het Kauffman die gesprek herroep.

Die rolverdeling van ‘Friends’. V.l.n.r. is Matthew Perry, Lisa Kudrow, David Schwimmer, Courteney Cox, Jennifer Aniston en Matt LeBlanc. (Foto: Facebook/Friends)

“Hy was gelukkig en opgewek. Dit het glad nie gevoel asof iets swaar op hom weeg nie. Hy was op ʼn baie goeie plek; dit is waarom hierdie so onregverdig voel.”

Sy erken dat sy in totale skok was toe sy die nuus oor sy afsterwe ontvang het.

“My eerste instink was om vir hom ʼn boodskap te stuur, eerlikwaar. En toe diep hartseer, so baie hartseer. Hy het beter voorgekom as wat ek in ʼn ruk gesien het. Ek was so gelukkig om dit te sien.

“Hy het goed gelyk, hy het opgehou rook en hy was nugter. Hy het dinge deur sy reis geleer, en dit wat hy bowenal geleer het, is dat hy ander verslaafdes wil help. Dit het hom ʼn doel gegee.”

Perry is Saterdag 28 Oktober dood in sy jacuzzi aangetref. Hy was 54 jaar oud.

Bronne: People, The Hollywood Reporter, E! News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.