‘Friends’-akteur Matthew Perry oorlede

Matthew Perry (Foto: Noam Galai/Getty Images/AFP)

Matthew Perry, een van die sterre van die trefferreeks Friends, is in die ouderdom van 54 oorlede.

Perry, bekend vir sy rol as die grapjas Chandler Bing, is Saterdag dood by sy huis in Los Angeles aangetref. Die nooddienste het Perry bewusteloos in ’n borrelbad by sy huis gevind en kon nie daarin slaag om hom by te bring nie. Die uiters gewilde Friends-reeks is vir 10 seisoene, van 1994 tot 2004, uitgesaai.

Op die kruin van sy sukses het Perry jare lank met verslawing aan pynmedikasie en alkohol gesukkel en het hy gevolglik gesondheidsprobleme ondervind.

In sy memoires Friends, Lovers and the Big Terrible Thing, wat verlede jaar gepubliseer is, het Perry beskryf hoe hy miljoene dollar aan herhaalde rehabilitasiepogings bestee het.

Perry is in 1969 in Massachusetts gebore. Sy ma was ’n Kanadese joernalis wat as perssekretaris van premier Pierre Trudeau gedien het. Sy pa was ’n Amerikaanse akteur.

As tiener was Perry ’n nasionale tennisster in Kanada voordat hy permanent na Kalifornië verhuis en met toneelspeel begin het. Hy het in die 1980’s gasrolle gehad in gewilde programme soos Charles in Charge en Growing Pains.

Sy rol as Chandler Bing in Friends het egter vir hom wêreldbekendheid teweeg gebring en sy karakter het vinnig ’n gunsteling onder aanhangers geword.

Die bekende rolverdeling van ‘Friends’. Voor van links na regs is Courteney Cox, Jennifer Aniston en Lisa Kudrow. Agter is Matthew Perry, Matt LeBlanc en David Schwimmer. (Foto: HBO Max)

Perry en sy medesterre – Jennifer Aniston, Courteney Cox, Lisa Kudrow, Matt LeBlanc en David Schwimmer – het op die kruin van Friends se sukses tot $1 miljoen elk per episode verdien.

ʼn Friends‑reünieprogram het in 2021 die lig gesien en die ses akteurs het na bewering $2,5 miljoen elk in hul sak gesteek. Perry se voorkoms en die onduidelik wyse waarop hy gepraat het, het kommer onder aanhangers uitgelok.

Perry is in sy loopbaan vir vyf Emmy-toekennings genomineer, waaronder twee vir gasoptredes in The West Wing, maar het nooit die gesogte televisietoekenning gewen nie. Hy het ook in rolprente soos Fools Rush In en The Whole Nine Yards verskyn.

Perry is nooit getroud nie, maar was in verhoudings met bekendes soos Julia Roberts en Neve Campbell. Hy was aan Molly Hurwitz verloof, maar hul liefdesbootjie het in 2021 gesink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Darts girl ·

Chandler Bing you are gonna be missed you were and will always be one of my favorites of Friends. In the famous words of Chandler: “Can this BE anymore sad?”
RIP Matthew Perry

bolletjie blom ·

Dit is so hartseer. So baie van die sterre en sangers raak verslaaf aan verdowingsmiddels en drank. Weet nie of hulle nie die roem kan hanteer nie.

Sonblom ·

Hierdie is baie hartseer. Can you BE anymore free from your struggles.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.