Hollywood: Millie Bobby Brown, Bon Jovi se seun verloof; Kardashian kry rol in ‘American Horror Story’

Millie Bobby Brown en Jake Bongiovi is verloof. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Maroela Media bied jou ’n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Trouklokke lui vir Millie Bobby Brown en Jon Bon Jovi se seun

Die Stranger Things-aktrise, Millie Bobby Brown, het vandeesweek bekend gemaak dat sy en Jon Bon Jovi se seun, Jake Bongiovi, verloof is.

“Ek het jou nou drie somers liefgehad, skat, ek wil almal hê,” het die 19-jarige aktrise op Instagram geskryf.

Die 20-jarige Jake het dit op sy eie Instagram-bladsy gedeel en bloot geskryf: “Vir altyd.”

Gelukwensings vir die paartjie stroom sedert die aankondiging in.

“Geluk my kleinsus,” skryf Sam Claflin, Millie se mede-akteur op Enola Holmes, op Instagram.

Millie se mede-akteurs van die Stranger Things-faam, Noah Schnapp, Jamie Bower en Brett Gelman, het ook die paartjie gelukgewens.

Jeremy Renner weer op die been

Vier maande ná die Avengers-akteur Jeremy Renner meer as 30 bene in sy lyf gebreek het in ’n sneeuploeg-ongeluk, het hy eindelik weer die rooi tapyt, kierie byderhand, betree.

Jeremy Renner op ‘Rennervations’ se rooitapyt. (Foto: Valerie Macon/AFP)

Dié tapyt is uitgerol vir die première van sy nuwe vier episode lange Disney+-reeks Rennervations. In dié reeks herbou die 52-jarige akteur en ’n span bekwame bouers voertuie om eindelik elkeen ’n kreatiewe doel in verskeie gemeenskappe te kan dien.

Hy nooi ook verskeie gaste, onder wie Anthony Mackie, Vanessa Hudgens, Nil Kapoor en Sebastián Yatra, om dié ombouings saam met hom aan te pak.

Renner het op 1 Januarie vanjaar ernstige beserings, wat talle gebreekte bene, skade aan sy oog en lewer insluit, opgedoen terwyl hy sneeu by sy huis naby Reno in Nevada weggeploeg het.

Kim Kardashian toets waters van toneelspel

Kim Kardashian sal binnekort weer op die kassie te siene wees, en dié keer nie in haar familie se bekende werklikheidsreeks, The Kardashians, nie.

Argieffoto van Kim Kardashian. (Foto: Patrick T. FALLON/AFP)

Sy sal saam met onder meer Emma Roberts in die twaalfde seisoen van die gewilde gruwelreeks American Horror Story (AHS) te siene wees.

“Kim is deel van die grootste televisiesterre in die wêreld en ons is verheug om haar by die AHS-familie te verwelkom,” het American Horror Story se medeskepper, Ryan Murphy, in ’n onlangse verklaring gesê.

Die rol wat dié 42-jarige werklikheidster gaan vertolk, is aanvanklik met haar in gedagte geskryf.

Die jongste seisoen van die antologiereeks is getiteld Delicate en is gegrond op Danielle Valentine se boek Delicate Condition.

Fyre Festival II op pad

Ten spyte daarvan dat die musiekfees Fyre Festival in 2017 ’n flop was, het die swendelaar Billy McFarland vroeër vandeesweek Fyre Festival II aangekondig.

Billy het in samewerking met Ja Rule ’n reuse-musiekfees, Fyre Festival, wat aanvanklik as ’n glansgeleentheid by die Bahamas bemark is, geskep. Met klagtes oor diefstal, beweerde bakleiery oor kos en haglike oornagomstandighede, het dié fees bekendheid vir al die verkeerde redes verwerf.

Na afloop van die fees is Billy in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog, waarop hy skuldig gepleit het en ’n ses jaar lange tronkstraf opgelê is. Hy het sy tronkstraf gedeeltelik uitgedien voordat hy op vroeë vrylating na ’n tussentydse huis gestuur is. Hy is eindelik aan die einde van verlede jaar vrygelaat.

Die storie van die flop van ʼn musiekfees het ook ʼn gewilde dokumentêr, getiteld Fyre: The Greatest Party That Never Happened, op Netflix geword.

Nadat mense hom op Twitter gekritiseer het oor die skielike terugkoms, het hy bloot teruggekap dat dit niemand baat as hy net op die bank sit en televisie kyk nie.

Nuwe musiek vir Céline Dion ten spyte van skokdiagnose

Die immergewilde sangeres Céline Dion het vroeër die week aangekondig dat sy nuwe musiek gaan uitreik.

Céline Dion in September 2018 in Quebec, Kanada. (Foto: Alice Chiche / AFP)

Dit sal die eerste musiek uit dié ster se pen wees nadat sy verlede jaar bekend gemaak het dat sy aan ’n seldsame neurologiese siekte, wat haar sang aantas, ly.

Die nuwe album, Love Again, sal op 12 Mei vanjaar uitgereik word en bestaan uit 14 nuwe liedjies. Dit dien ook as die klankbaan vir die romantiese rolprent Love Again, waarin Céline te siene gaan wees.

“Ek het pret gehad tydens die verfilming van dié fliek,” het Céline in ’n verklaring gesê.

“Ek het die voorreg gehad om saam met pragtige en talentvolle akteurs soos Priyanka Chopra Jonas en Sam Heughan in my eerste rolprent te werk, ’n geskenk wat ek vir altyd sal koester.”

Love Again sal op 5 Mei vanjaar die silwerskerm tref.

Bykomende bronne: The Hollywood Reporter, BBC News, EWN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

PersHeks ·

Die is Kardashian is klaar ‘n “American Horror Story”….hulle hoef nie eers in een te speel nie…

Meisie ·

Sy is ook nie ‘n goeie aktriese nie, sy gaan dit op-voeter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.