Hollywood: ‘Moana 2’ op pad; Oscars kry nuwe kategorie; sangers sorg vir tranetrekoomblik by Grammys

Tracy Chapman en Luke Combs op die Grammys-verhoog. (Foto: John Shearer/AFP)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Moana 2 onverwags aangekondig

Ouers van peuters moet hul ore spits – en hul beursies voorberei – want ʼn tweede aflewering van die geliefde Disney-animasieprent, Moana, sal op 27 November op die silwerskerm te sien wees.

Moana vertel die verhaal van ʼn eilandprinses wat onbekende waters moet aandurf om haar familie en eiland te red en het sedert sy bekendstelling in 2016 een van Disney-liefhebbers se gunstelingflieks geword.

Die fliek meer as $680 miljoen (sowat R12 928 miljoen) by die loket verdien en is tot op hede meer as ʼn miljard uur op die stroomdiens Disney+ gekyk.

Die maatskappy se uitvoerende hoof, Bob Iger, het dié nuus op die Amerikaanse nuusprogram CNBC gedeel en vertel dat die tweede Moana oorspronklik as ʼn TV-reeks ontwikkel is.

Iger het egter op ʼn vollengte fliek besluit nadat hy ʼn voorsmaak van die reeks se beeldmateriaal gekry het, berig Variety.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn weergawe met akteurs van dié fliek ook tans in die pyplyn is.

Oscars spog in 2026 met nuwe kategorie

Gesogte rolverdelingregisseurs sal nou ook met Oscar-beeldjies op hul trofeekassie kan spog.

Bill Kramer, Janet Yang, onderskeidelik die uitvoerende hoof en president van die Academy of Motion Picture Arts and Sciences (AMPAS) het Donderdag aangekondig dat dié kategorie vanaf 2026 by die Oscar-toekennings gevoeg gaan word.

Mense in rolverdeling is van die eerste sleutelpersoneel wat by nuwe rolprentprojekte aansluit en help om te kies watter akteurs in die betrokke projek betrek sal word.

(Foto: Mark Ralston/AFP)

Dit sal die eerste keer in meer as twee dekades wees wat ʼn nuwe kategorie bygevoeg word.

“Rolverdelingsregisseurs speel ʼn noodsaaklike rol in rolprentvervaardiging, en soos die akademie ontwikkel, is ons trots om rolverdelingswerk te voeg by die dissiplines wat ons erken en vier,” het Kramer oor dié besluit in ʼn amptelike verklaring gesê.

VSA ervaar ‘salige oomblik van samehorigheid’ op Grammys

“’n Balsem vir ons erg verdeelde nasie.”

Só het Peter Wehner, ʼn Amerikaanse joernalis en rubriekskrywer, die bekroonde musikant Tracy Chapman en country-sanger Luke Combs se treffende duet-optrede van Chapman se 1988-treffer “Fast Car” by vanjaar se Grammy-toekennings beskryf.

“Fast Car” het in 2023 ʼn herlewing gehad danksy Combs se country-verwerking van die 66-jarige se bekendste treffer. Dié weergawe is vanjaar benoem vir beste country-liedjie, terwyl dit Chapman in 1989 die toekenning vir beste vrouepopkunstenaar besorg het.

Die uiters private Chapman, wat jare laas regstreeks voor gehore opgetree het, en Combs se onverwagse optrede by die Grammys het nie net Amerikaners verras nie, maar baie se harte ook geroer – veral te midde van die land se uiters verdeelde politieke klimaat.

Baie het die optrede as ʼn “volsirkel en emosionele oomblik” beskryf, met Combs wat veral geprys is vir die manier waarop hy die kollig op Chapman wou hou tydens die optrede.

Daarbenewens het “Fast Car” se stroomgetalle op musiekstroomdienste met 241% gestyg ná Sondag se Grammys, aldus Billboard.

Elon Musk help aktrise om Disney te dagvaar

Disney gaan dalk wens dat “The Force” binnekort met hom sal wees.

Die aktrise Gina Carano het Disney en LucasFilms, wat verantwoordelik is vir al die Star Wars-flieks en reekse, gedagvaar.

Dít volg nadat sy in 2021 afgedank is oor ʼn sosialemediaplasing waarin sy die Amerikaanse Republikeine en die Jode se stryd tydens die Joodse menseslagting vergelyk het.

Carano het die rol van Cara Dune in die eerste twee seisoene van die Disney-stroomdiens se reeks The Mandalorian vertolk.

Dié regsgeding word gefinansier deur Elon Musk, wat al in die verlede onderneem het om diegene wat diskriminasie ervaar weens hul X-plasing, finansieel te ondersteun.

Hy het in ʼn verklaring gesê hy is “trots”” om Carano se regsgeding te steun as deel van sy “verbintenis tot vrye spraak”.

Carano eis $75,000 (nagenoeg R1,4 miljoen) se skadevergoeding en vra ook dat haar kontrak met LucasFilms hervat moet word.

Saltburn-akteur aangekla van aanranding

Die Australiese-akteur Jacob Elordi, bekend vir sy rolle in The Kissing Booth, Euphoria en mees onlangs die donker komedie Saltburn, word tans betrek by ʼn polisie-ondersoek in sy geboorteland nadat hy na bewering ʼn radiovervaardiger aangerand het.

Australiese media berig dat Elordi vir Joshua Fox, ʼn vervaardiger vir The Kyle & Jackie O Show op KIIS FM, in ʼn hotel in Sydney se oostelike voorstede “aan die keel gegryp en gedreig het”.

Fox beweer hy het vir Elordi onverwags genader en tergend op kamera gevra of hy “van sy badwater vir Jackie O vir haar verjaardag kan kry” – met verwysing na ʼn kontroversiële badwatertoneel waarin Elordi se karakter in Saltburn betrokke is.

Elordi het Fox glo gevra om op te hou verfilm en die beeldmateriaal uit te vee, waarna die situasie volgens Fox “geëskaleer het”.

Australiese polisie het aan Variety bevestig dat ʼn aanrandingsaak tans ondersoek word.

Aanhangers van Elordi het vinnig vir die akteur op sosiale media in die bresse getree en Fox se gedrag as “onvanpas” en “onnodig” beskryf.

Bronne: Variety, Billboard, USA Today, AFP.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.