Hollywood: Rihanna amptelik ʼn miljardêr; Scarlett dagvaar Disney

Maroela Media bied jou ‘n opsomming van die week se internasionale vermaaknuus.

Rihanna amptelik ʼn miljardêr

Rihanna. (Foto: Facebook)

Forbes het Woensdag aangekondig dat Robyn Fenty, bekend aan die wêreld as Rihanna, amptelik ʼn miljardêr is.

Haar grimeringmaatskappy, Fenty Beauty, is in 2017 op die been gebring en het sedertdien ʼn gesogte kosmetiese reeks vir vroue wêreldwyd geraak. Dié maatskappy het haar die hupstoot na miljardêrstatus gegee.

Volgens Forbes is Rihanna (33) nou sowat $1,7 miljard (sowat R24,4 miljard) werd. Dit maak haar die rykste vrouemusikant ter wêreld, tweede agter Oprah Winfrey, wat tans die wêreld se rykste vroulike vermaaklikheidster is.

Fenty Beauty, waarvan sy 50% besit, is haar hoofsaaklike bron van inkomste. Fenty Beauty is sowat $2,8 miljard werd.

Sy het ook aandele in die onderkleremaatskappy Savage x Fenty, wat na raming $270 miljoen werd is. Sy verdien ook ʼn inkomste uit haar loopbaan as sangeres en aktrise.

Fenty Beauty is ʼn 50-50-onderneming saam met die Franse luuksegoedere-konglomeraat LVMH, wat in 2017 deur Bernard Arnault, die wêreld se tweede rykste persoon en man van die aktrise Selma Hayek, op die been gebring is.

Die maatskappy word geloof vir sy inklusiwiteit, met produkte soos onderlaag wat in 50 verskillende kleure aangebied word. Die modelle vir die produkte verteenwoordig ook ʼn diverse groep mense.

Fenty Beauty-produkte is aanlyn asook by Sephora-winkels in Amerika beskikbaar. Sephora word ook deur LVMH besit. In 2018, die maatskappy se eerste kalenderjaar, het die grimeringreeks meer as $550 miljoen ingeoes.

Dit het stof in die oë geskop van ander bekendes se handelsmerke soos Kylie Jenner se Kylie Cosmetics, Kim Kardashian se KKW Beauty en Jessica Alba se Honest Co.

“Baie vroue het gevoel daar is nie reekse daar buite wat geskep is om hulle velkleur te pas nie. Dit was lig, medium, medium-donker of donker,” sê Shannon Coyne, medestigter van Bluestock Advisors, ʼn verbruikersproduk-konsultasiemaatskappy

“Ons almal weet dit is nie die realiteit nie. Fenty Beauty was een van die eerste handelsmerke wat uitgekom het en gesê het ‘ek wil met al die verskillende mense praat’.”

Kathy Griffin het longkanker

Kathy Griffin. (Foto: Facebook)

Kathy Griffin, die Amerikaanse komediant en aktrise, gaan ʼn operasie ondergaan nadat sy met longkanker gediagnoseer is.

Die 60-jarige aktrise het op sosiale media geskryf dat sy “binnekort ʼn operasie ondergaan om die helfte van haar long te verwyder”.

Sy het gesê dokters is “baie optimisties” en dat die kanker nog nie verder as haar linkerlong versprei het nie.

“Ek behoort binne sowat ʼn maand weer op die been te wees,” het die ster, bekend vir rolle in reekse soos Suddenly Susan, gesê.

“Hopelik sal chemoterapie en bestraling nie nodig wees nie en behoort ek normaal te kan asem haal.”

Sy het bygevoeg dat sy nog nooit in haar lewe ʼn roker was nie. Tussen 10% en 20% van longkankergevalle kom voor by mense wat nie gerook het nie, volgens ʼn studie deur die Amerikaanse sentrum vir siektebeheer en voorkoming.

In 2017 het Griffin die hoofopskrifte gehaal toe sy gekritiseer is nadat sy met ʼn nagemaakte, afgekapte kop van die voormalige Amerikaanse president, Donald Trump, poseer het.

Sy is afgedank as aanbieder van CNN se Nuwejaarsuitsending en het aan ABC News gesê die aanslag het gelei tot ʼn verslawing aan pynpille en selfmoordgedagtes.

“Die ironie ontgaan my nie dat ek net ʼn bietjie meer as ʼn jaar gelede wou sterf nie, en nou is al wat ek wil doen, om te leef,” het sy gesê.

Sy is ook bekend vir die realiteitsreeks Kathy Griffin: My life on the D-list, wat van 2005 tot 2010 uitgesaai is.

Griffin se broer, Gary, is in 2014 dood aan kanker en sy het ook haar suster, Joyce, in 2017 aan die siekte afgestaan.

Scarlett dagvaar Disney oor ‘Black widow’

Scarlett Johansson en Florence Pugh in ‘Black Widow’. (Foto: Facebook/Black Widow)

Scarlett Johansson, die Amerikaanse aktrise wat tans te sien is as ʼn Russiese superheld in die Disney-rolprent Black widow, dagvaar nou dié maatskappy vir kontrakbreuk. Dit volg nadat die fliek ter gelykertyd op stromingsdienste en in fliekteaters uitgereik is.

Die fliek het ʼn loketrekord opgestel vir die fliek wat tydens die pandemie die grootste inkomste in sy eerste naweek, met ʼn bedrag van $218 miljoen (R3,1 miljard), ingeoes het.

Johansson (36) se kamp sê egter die fliek se tanende ontvangs by die loket het alles te doen met die beskikbaarheid van die fliek op die maatskappy se stromingdienste.

Disney het egter teruggekap deur te sê hy het “ten volle” aan haar kontrak voldoen en dat haar saak “geen meriete” het nie.

Johannson sê sy is deur Marvel-ateljees, wat deur Disney besit word, belowe dat Black widow ʼn “teateruitreiking” sou hê.

Sy voer aan sy het verstaan dit beteken dat ʼn vensterperiode – gewoonlik ʼn periode van 90 dae – sou verloop voordat dit op stromingsdienste beskikbaar gestel word.

Verskeie Hollywood-ateljees het gedurende die pandemie verkies om flieks direk op stromingsdienste uit te reik, aangesien vele fliekteaters wêreldwyd hulle deure gesluit het.

Gedenkdiens vir Engelbert Humperdinck se vrou

Engelbert Humperdinck en sy vrou, Patricia, voor haar afsterwe in Februarie vanjaar. (Foto: Facebook/Engelbert Humperdinck)

Maande nadat Engelbert Humperdinck se vrou, Patricia, in Februarie aan Covid-19 gesterf het, het die sanger sy aanhangers gevra om hulle medelye teenoor haar in die aanloop na haar gedenkdiens te betoon.

Die diens het Dinsdag in Loughborough plaasgevind. Die Leicester-sanger (85) het in ʼn YouTube-video gesê sy vrou was “die sout van die aarde en baie geliefd”.

Die sanger, bekend vir liedjies soos “Release me” en “The last waltz” het voorheen gesê hy “hartgebroke oor sy liefling-vrou”.

Die egpaar is in 1964 getroud nadat hulle mekaar in 1953 in die Palais de Danse-nagklub in Leicester ontmoet het. Patricia was net 17 jaar oud.

Humperdinck, gebore Arnold George Dorsey, het gesê Patricia se “finale reis” sou by die Market Harborough begin na die familie se huis in Great Glen voordat dit na die kapel in Loughborough sou voortgaan.

Hoewel die diens privaat was, het hy gesê hy hoop lede van die publiek sal hulle liefde teenoor sy vrou betuig.

“Dit sal lieflik wees om langs die pad ʼn paar vriendelike gesigte te sien en ʼn gebed of ʼn wuif sal ook wonderlik wees.”

Patricia het jare gelede in ʼn onderhoud met BBC oor haar en Humperdinck se eerste ontmoeting gesê: “Die eerste aand wat ek Enge gesien het, was dit net iets anders. Hy het uitgestaan omdat hy ʼn wonderlike wit pak gedra het.”

Engelbert Humperdinck het die foto van hom en Patricia gedeel op hulle huweliksherdenking in April vanjaar. Sy het in Februarie aan Covid gesterf. (Foto: Facebook/Engelbert Humperdinck)

Bronne: Forbes, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.