Hollywood: ‘The Sims’-fliek op pad; dokkie verklap donker kant van Nickelodeon

Margot Robbie. (Foto: Tommaso Boddi/Golden Globes/AFP)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Fliek oor “The Sims” op pad

Diegene wat ure voor hul rekenaars kan sit om die geliefde videospeletjie The Sims te speel, kan gerus hul ore spits en stoele nader trek. Dié speletjie word nou ʼn fliek.

Die stof het skaars gaan lê oor die gewilde fliek Barbie, en Margot Robbie is reeds besig met haar volgende projek. Margot se produksiehuis, LuckyChap, wat Barbie vervaardig het, staan ook aan’t stuur van die fliek oor The Sims.

Dié 33-jarige Australiese aktrise het LuckyChap in 2014 saam met Tom Ackerley, Josey McNamara en Sophia Kerr gestig. Dié produksiehuis het menigte flieks vervaardig, insluitend I, Tonya, Saltburn en Promising Young Women.

Kate Herron, regisseur van die Marvel-reeks Loki, sal die regie van die The Sims-fliek behartig.

Inligting oor wie in die rolprent te sien gaan wees en wanneer dit op die silwerskerm gaan wys, is nog nie bekend nie.

Donker kant van Nickelodeon in dokkie verklap

Nickelodeon-kykers van veral die laat 1990’s tot vroeë 2000’s sal die programme wat destyds op dié kanaal uitgesaai is goed ken. Dié programme sluit onder meer The Amanda Show met Amanda Bynes, Drake & Josh, Zoey 101 en iCarly in.

Dié programme is vroeër vandeesweek weer in die kollig geplaas nadat ʼn opspraakwekkende dokumentêre reeks, Quiet on Set: The Dark Side of Kids TV op Investigation Discovery uitgesaai is.

Nickelodeon is onder die vergrootglas geplaas in ‘n opspraakwekkende dokumentêre reeks. (Foto: Kevin Winter/Getty Images North America/AFP)

Daar word verskeie beweringe in dié reeks van vier episodes gemaak, insluitend dat die kinderakteurs van verskeie Nickelodeon-reekse gebuk gegaan het onder “mishandeling, seksisme, rassisme en onvanpaste verhoudings tussen volwassenes en kinders op stel”.

Daar word onder andere ook die kollig geplaas op sekere tonele in Nickelodeon-programme waarin kinders en tieners onvanpaste dade moes doen.

Een van die onthullings wat in die reeks gemaak word, is dié van Drake Bell, een van die hoofakteurs in Drake & Josh. Brian Peck, wat destyds as ‘n dialoogafrigter by Nickelodeon gewerk het, is in 2004 daaraan skuldig bevind dat hy ‘n minderjarige seksueel aangerand het. Ná twee dekades het Drake bekendgemaak dat hy die slagoffer in die saak was.

Josh Peck, wat saam met Drake in Drake & Josh verskyn het, het sy ondersteuning aan die Nickelodeon-akteurs wat in die dokumentêr verskyn het op Instagram uitgespreek.

“Ek het ʼn paar dae gevat om die Quiet on Set-dokumentêr te verwerk. Ek het persoonlik na Drake uitgereik, maar wou hier ook my ondersteuning betoon aan die Nickelodeon-akteurs wat dapper genoeg was om hul stories van emosionele en fisieke mishandeling op Nickelodeon-stelle te vertel,” skryf Josh.

“Kinders moet beskerm word. Om dit op só ʼn openbare wyse te herleef is ongelooflik moeilik, maar ek hoop dat dit genesing vir die slagoffers en hul families sal beteken en verandering in ons bedryf sal ontketen.”

Beyoncé in die sop by New Yorkse museum

Die 42-jarige sangeres Beyoncé voer iets in die mou.

Haar nuwe album, Cowboy Carter, word op 29 Maart vanjaar uitgereik en ʼn New Yorkse museum was nie te ingenome met dié Lemonade-sanger se onlangse advertensieveldtog nie.

Bemarking vir Cowboy Carter is Woensdag 20 Maart op verskeie museums, insluitend die Guggenheim- en Whitney-museums in New York, geprojekteer. Die Guggenheim het egter ná die advertensieveldtog in ʼn verklaring aan ARTnews hul misnoeë daarmee uitgespreek.

Volgens dié verklaring het die museum nie kennis gedra of die veldtog goedgekeur nie. Hulle het egter die geleentheid gebruik om mense na ʼn volgende, soortgelyke uitstalling te nooi.

“Maar ons nooi die publiek uit, insluitend Beyoncé en haar getroue aanhangers, om die museum op 16 tot 20 Mei te besoek wanneer ons die kunstenaar Jenny Holzer se kunswerke teen ons ikoniese gebou gaan projekteer.”

Kyk: Hier is die nuwe ‘Beetlejuice’-lokprent

Ná meer as drie dekades het kykers uiteindelik ʼn kykie gekry van hoe Michael Keaton se terugkeer na die ikoniese wit, swart en groen gewaad van Beetlejuice lyk.

ʼn Nuwe weergawe van dié Tim Burton-verhaal word in September uitgereik en beloof om net so boeiend soos die 1988-weergawe te wees. Jenna Ortega, Winona Ryder, Monica Bellucci, Justin Theroux en Willem Dafoe sal in die opvolgfliek Beetlejuice, Beetlejuice te sien wees.

Kyk na die lokprent hier:

Bykomende bronne: Forbes, The Hollywood Reporter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.