Huldeblyke ná dood van ‘Sugar Man’

Sixto Rodriguez tydens ‘n konsert in Junie 2015 in Austin, Texas. (Foto: by Manuel Nauta/NurPhoto/AFP)

Sixto Rodriguez, die Amerikaanse sanger en liedjieskrywer wie se loopbaan ʼn oplewing beleef het nadat sy musiek ’n kultus in die buiteland ontwikkel het, is in die ouderdom van 81 oorlede.

Rodriguez, die onderwerp van die Oscar-bekroonde dokumentêr Searching for Sugar Man, is Dinsdag oorlede. Die oorsaak van sy dood is nie bekend gemaak nie.

“Ons betuig ons innige meegevoel met sy dogters Sandra, Eva en Regan en aan al sy familie,” lui ʼn verklaring wat op sy webwerf geplaas is.

Rodriguez is op 10 Julie 1942 in Detroit gebore. Hy het in die vroeë 1970’s twee albums uitgebring: Cold Fact, wat sy bekendste liedjies “Sugar Man” en “I Wonder” bevat het, en Coming From Reality. Die albums het nie groot sukses in Amerika behaal nie en Rodriguez het die musiekbedryf verlaat om ’n stil, werkersklaslewe in Detroit te lei.

Hy het ’n graad in filosofie aan die Wayne State University verwerf en by politiek begin betrokke raak. Die musikant het geen idee gehad dat sy musiek, en veral “Sugar Man”, ’n reuse-aanhang in Suid-Afrika sowel as Nieu-Seeland en Australië gevind het nie.

Rodriguez het nie regtig van sy sukses geweet nie en baie van sy aanhangers het gerugte geglo dat die sanger dood is.

Die internet het egter Rodriguez se lewe verander nadat sy dogter Eva op webwerwe afgekom het wat aan haar pa gewy is. Aanhangers het hom opgespoor, waarna hy in 1998 ’n suksesvolle Suid-Afrikaanse toer gehad het.

“Ek het vir hom gesê: ‘In Suid-Afrika is jy groter as Elvis’,” het een aanhanger, Stephen Segerman, in 2008 in ’n onderhoud met The Detroit News gesê.

Rou sangstyl en temas van ontvlugting – “Sugar Man” is ’n surrealistiese ode aan ’n dwelmhandelaar – het in die apartheidsera Suid-Afrika ʼn snaar aangeraak, volgens Segerman.

Die musikant Dave Matthews, wat in Johannesburg gebore is, het van Rodriguez se liedjies gesing en hom ook geprys as “een van my helde toe ek grootgeword het”.

Rodriguez se albums is weer op kompakskyf vrygestel, en die merkwaardige verhaal is verewig in die rolprent Searching for Sugar Man (2012), wat toekenning na toekenning ingepalm het, insluitend ’n Oscar en ’n BAFTA.

Dit het ook gehelp dat Rodriguez sukses in die VSA bereik het en ’n musiekloopbaanherlewing is aangevuur.

Sowat vier dekades nadat hy sy albums vrygestel het, is hy genooi om by die Coachella- sowel as die Glastonbury-fees op te tree, en hy het ’n aantal wêreldtoere onderneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Dorkie ·

Hy was so nederig en dankbaar. Ek was by sy konserte in Suid Afrika. Rus sag.

Vriendelike Frikkie ·

Het groot geword met sy musiek. Ons ouers kan baie van sy lirieke nie hanteer nie. Onthou dit was in die jare van erge sensuur. Dit het ons natuurlik meer vasberade gemaak om elke woord van sy liedjies te ken.

piet ·

Ja, want almal wat nie geweet net wat “Jumpers, coke en sweet Mary Jane” was nie wou te weet wat dit is.

Kirst ·

Jy klink nou soos Rodney Seale. Volgens hom sou die woorde wat mens skaars kon uitmaak as jy liedjies soos Another one bites the dust agteruitspeel ons almal daggarokers gemaak het. Ons het grootgeword met die musiek (ook Rodriguez s’n) en niemand het dwelms probeer of verslaaf geraak daaraan nie. Ons het wel danksy Rodney al ons plate (insluitende Liewe Heksie) agteruit gespeel en ons pap gelag vir die uitkoms.

Amelia ·

Waar het ek al vantevore hierdie gerug gehoor? ;-)
Nee maar ernstig nou, ek het hom darem eenkeer lewendig gesien (lewendig en in lewende lywe). Hy het ‘n vol en baie interessante lewe gehad. Sterkte aan sy familie.

piet ·

Die Sugar man lied is verban in SA a.g.v die verwysings na dwelmmiddels in die lireke. Natuurlik het dit op sig self bygedra tot die gewildheid van die lied amper soos Jeremy Taylor se lied “Ag pleez daddy” wat ook deur die konserwatiewe regering verban is.

TRP ·

Ek is so dankbaar ek kon hom sien optree paar jaar terug. Wat ‘n legend. Rus in Vrede.

Windhond ·

Wat n legende – hy hoort saam met Carlos Santana, Meatloaf en ander groot name genoem te word RIV – ek kry nog steeds hoendervleis as ek hom hoor Sugarman sing

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.