IMF stel $50 miljard-plan voor om pandemie te beëindig

Argieffoto (Foto: Hakan German/Pixabay)

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het Vrydag ʼn plan van $50 miljard voorgelê om ʼn einde te bring aan die Covid-19-pandemie – met ʼn teiken om teen die einde van 2021 minstens 40% van die wêreld se bevolking in te ent.

“Ons voorlegging stel teikens, verwagte finansieringsvereistes en bevat besonderhede oor pragmatiese aksie,” het Kristalina Georgieva, hoof van die IMF, tydens die Wêreldgesondheidsberaad gesê wat in Rome gehou word as deel van die G20.

Met ʼn langtermyn volhoubare wêreldwye ekonomiese herstel in gedagte, het die plan ten doel om dan minstens 60% van die wêreld se bevolking ingeënt te hê teen die einde van 2022.

Die outeurs van die verslag wys daarop dat dit nou bevestig is dat daar nie enige werklike einde aan die ekonomiese krisis sal kom sonder dat die gesondheidskrisis tot ʼn einde kom nie. Dit is dus in die belang van alle lande om ʼn besliste einde te bring aan die pandemie, lui die verslag.

Georgieva sê die ekonomiese gaping sal ook vererger tussen welgestelde lande wat toegang het tot entstof en arm lande wat nie toegang het tot entstowwe nie. Teen die einde van April is minder as 2% van die bevolking van Afrika ingeënt, terwyl meer as 40% van die Amerikaanse bevolking en 20% in Europa reeds minstens een dosis entstof teen Covid-19 ontvang het, het die IMF bygevoeg.

Die fonds prioritiseer die plan om die entstof-gaping te verklein en die wêreld terug te plaas op ʼn pad na groei. Die doelwit is “om te help om die pandemie oral onder beheer te kry tot voordeel van almal”, het Georgieva gesê.

Die IMF het benadruk om dié doelwitte te haal, het hy bykomende subsidies nodig vir die internasionale  Covax-skema – wat opgestel is om welgestelde lande te verhoed om die entstof op te gaar, maar dit was tot dusver grootliks ondoeltreffend. Die subsidies sal gedek word deur skenkings van surplus-dosisse en seker te maak dat daar rou materiaal en entstof oor grense heen geskuif kan word.

Die beraming van $50 miljard (sowat R696 miljard) is ʼn kombinasie van minstens $35 miljard in subsidies en hulpbronne van regerings en ander finansiering, het die IMF gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Die $$$$€€€£££¥¥¥+-jarder-entstofvervaardigers kan seker ok maar bydra tot hul eie inkomste want dis darem net te lekker om op mense se vrese vir covid te teer. Kry die IMF ‘n kickback vir diè plan?

Fred ·

Ek mag verkeerd wees, maar het ons regering nie al meer as dit geleen om die land te “help” nie?

My siening ·

ANC sal weer leen om SAL en ESKOM te red en die res vir korrupsie gebruik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.