‘Incognito’: Google skik reuseregsgeding

Argieffoto

Google het onderneem om ʼn groepsregsgeding van miljarde dollar rakende sy incognito- of private modus te skik.

Die reuse-eis van $5 miljard (sowat R94 miljard) in skadevergoeding is reeds in 2020 in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië ingedien deur ’n groep gebruikers wat aangevoer het dat die soekreus hul data nagespoor het terwyl hulle in incognito-modus op die internet geblaai het.

Die eisers het aangevoer dat die incognito-modus op Google se Chrome-blaaier – wat veronderstel is om gebruikers se privaatheid te beskerm – aan gebruikers ʼn valse gevoel gee dat dit wat hulle aanlyn blaai, nié deur Google nagespoor word nie.

Dit terwyl interne Google-e-posse, wat weens die regsgeding die lig gesien het, wys dat gebruikers wat incognito-modus gebruik, steeds nagespoor word deur middel van die groot en kragtige soek- en advertensie-monster vir die meet van webverkeer en die verkoop van advertensies.

Die eisers se onderskeie regspanne het aanvanklik minstens $5 000 in skadevergoeding geëis vir elke gebruiker wat volgens hulle deur die firma se Google Analytics- of Ad Manager-dienste opgespoor is, selfs wanneer hulle in die private blaai-modus was en nie by hul Google-rekening aangemeld was nie.

Dit sou minstens $5 miljard beloop het – hoewel die skikkingsbedrag waarskynlik nie daardie syfer sal haal nie en geen bedrag gegee is vir die voorlopige skikking tussen die partye nie.

Die eisers het onder meer aangevoer dat Google se praktyke op gebruikers se privaatheid inbreuk maak deur hulle “opsetlik” te mislei met die incognito-opsie en dat Google en sy werknemers die “mag gegee is om intieme besonderhede oor individue se lewens, belangstellings en internetgebruik te wete te kom”.

Daar is ook beweer dat “miljoene individue” waarskynlik geraak is.

’n Regter het egter nou in hofstukke bevestig dat Google se prokureurs ʼn voorlopige ooreenkoms bereik het om die groepsgeding te skik. Die presiese skikkingsbedrag is nie aan die media bekend nie.

Die skikking volg maar weke nadat Google se versoek geweier is dat die saak deur ʼn regter beslis word. ’n Jurieverhoor sou na verwagting volgende jaar begin.

’n Formele skikking word verwag vir hofgoedkeuring teen 24 Februarie vanjaar.

Klasaksie-regsgedinge het een van die vernaamste maniere geword om groot tegnologiemaatskappye die stryd aan te sê oor data-privaatheidsake in die Verenigde State aangesien die land nie ʼn omvattende wet op die hantering van persoonlike data het nie.

Google het in Augustus verlede jaar $23 miljoen betaal om ʼn uitgerekte saak te skik rakende die gee van toegang tot gebruikersoekdata aan derde partye.

Facebook se moedermaatskappy Meta het in 2022 ʼn soortgelyke saak besleg en ingestem om $725 miljoen te betaal vir die hantering van gebruikersdata.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.