Internasionale oorsig: Linkses stel al hoe meer eise aan Biden, alles nie wel in China

Cori Bush. (Foto: Twitter)

Cori Bush, pas verkose lid van die Amerikaanse huis van verteenwoordigers vir die eerste distrik van Missouri en ’n uitgesproke linkse aktivis en sosialis, het Woensdag daarop aangedring dat die Biden-administrasie en Demokrate in die Amerikaanse kongres ná Joe Biden se inhuldiging as Amerikaanse president in Januarie, stappe moet doen om alle studieskuld en mediese skuld van alle Amerikaners te laat afskryf. Volgens haar is onderrig en gesondheidsorg basiese menseregte en behoort dit gratis beskikbaar te wees.

Bush is nie die eerste lid van die Demokratiese Party se koukus in die huis van Verteenwoordigers wat wil sien dat alle Amerikaners se studieskuld afgeskryf word nie. Kort na haar eis Woensdag het senator Elizabeth Warren Donderdag ook gevra dat Biden stappe moet doen om alle studieskuld af te skryf.

Bush en Warren se eise is ook nie die eerste eise van die linkse vleuel van die party oor die afgelope paar dae nie. Die linkervleuel van die Demokratiese Party het vroeg vanjaar uit afkeer vir president Trump agter Joe Biden se kandidatuur ingeval, maar met ’n duidelike veronderstelling dat hulle ná die verkiesing resultate sal wil sien.

Selfs die linkse The New York Times-koerant het hierdie week geskryf dat die linkervleuel van die Demokratiese Party tans die grootste bate vir die Republikeinse Party is. Marc Farinella, ’n bekende raadgewer vir Demokratiese kandidate, het ook vandeesweek geskryf dat die Demokratiese Party te ver na links gedruk word. Dit veroorsaak dat kiesers in voorstedelike gebiede ongemaklik raak, veral met voorstelle oor die onttrekking van befondsing aan die polisie, sosialistiese ekonomiese voorstelle en drakoniese nuwe regulasies wat ekonomiese herstel kan belemmer.

Terwyl die Demokratiese Party die afgelope paar dae probeer sin maak het van die verlies van meer as tien setels in die huis van verteenwoordigers, ten spyte daarvan dat hul presidentskandidaat gewen het, het dit duidelik geraak dat ekstreem-linkse boodskappe tydens die veldtog baie gematigde kiesers afgeskrik het. Cori Bush en ander ekstreem-linkse lede van die huis van verteenwoordigers, soos Ilhan Omar, Rashida Tlaib en Alexandria Ocasio-Cortez se aandrang op, eerstens die benoeming van linkse politici soos Bernie Sanders en Elizabeth Warren in topposte, en tweedens die saamstel van ’n duidelik linkse politieke agenda deur die Biden-administrasie, lei tans tot ernstige spanning binne die Demokratiese Party.

Oor die afgelope paar dae het Biden begin om aankondigings oor aanstellings in die Withuis te maak en dit is duidelik dat hy hoofsaaklik mense uit sy binnekring in senior poste in die Withuis wil aanstel. Hoewel Biden tydens die voorverkiesings redelik na links beweeg het om uiteindelik die Demokratiese Party se benoeming te kry, het hy ’n meer pragmatiese en sentrum-linkse rekord oor meer as veertig jaar in die politiek opgebou. Biden is links, maar nie ekstreem-links nie en sy opmerking, dalk per ongeluk, tydens die tweede debat teen Trump dat hy nie die sogenaamde Groen Nuwe Ooreenkoms wat deur linkses in sy party voorgestel is, aanvaar nie, het tot heelwat ongelukkigheid aanleiding gegee.

Ook ten opsigte van buitelandse beleid stel die linkse deel van die party ernstige eise oor optrede teen Israel, die VSA se vriendskap met Indië en eise vir ’n sagter benadering jeens Iran, Kuba en Venezuela, wat alles tot ’n wesenlike verskuiwing na links in die VSA se buitelandse beleid aanleiding kan gee.

Terwyl die Republikeinse Party se ondersteuners ideologies meer homogeen is, is die Demokrate se ondersteuners meer divers. Die rede daarvoor is eenvoudig die groot konsentrasie van Demokratiese Party-kiesers in enkele groot metropolitaanse gebiede. Vir die party om nasionaal mee te ding, moet hulle dus setels in voorstede en kleiner stede – waar die bevolkings ideologies baie meer gematig ingestel is – wen. Dit bring mee dat die kanse vir interne spanning in die Demokratiese Party groter is as in die Republikeinse Party.

Biden sal dus moet fyntrap indien hy beleidsuksesse wil behaal sonder om een faksie van sy party te vervreem. Tot dusver is dit onduidelik hoe hy dit gaan regkry terwyl die Republikeine waarskynlik die senaat sal beheer en die Demokrate se meerderheid in die huis van verteenwoordigers die kleinste in dekades gaan wees.

Sommige Europese leiers hoop vir terugkeer na pre-2016- transatlantiese verhouding

Pres. Emmanuel Macron wil sien dat Europese lande self verantwoordelikehid neem vir hul eie veiligheid. (Foto: AP Photo/Thibault Camus, Pool)

Terwyl die Franse president Emmanuel Macron die afgelope drie jaar gereeld Europese lande en die Europese Unie aangemoedig het om minder afhanklik van die VSA te raak ter wille van, onder meer, die veiligheid van Europa, is daar Europese leiers, veral van Duitsland, wat vir die teenoorgestelde gehoop het. Met Joe Biden se oorwinning in die onlangse Amerikaanse verkiesing hoop die Duitsers nou dat die verhouding tussen Europa en die VSA maklik en vinnig kan terugbeweeg na die era voor Trump.

Die werklikheid is egter dat baie van die taboes wat Trump op die tafel gesit het, nie maklik en vinnig bloot weggepak kan word nie. Trump se standpunt dat Europese lande groter verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid moet aanvaar en dus meer omvattende militêre besteding moet onderneem, geniet wye steun in die VSA, en hoewel Biden gedeeltelik sal afwyk van Trump se planne om, byvoorbeeld, soldate in Duitsland te verminder, sal die vraagstuk oor die toekomstige beskerming van Europa nie verdwyn nie.

Die Duitse minister van verdediging, Annegret Kramp-Karrenbauer, het die afgelope week in ’n toespraak gesê dat Duitsland en Europa nie oor die vermoë beskik om hulself te beskerm nie. Sy het spesifiek verwys na die Amerikaanse weermag se vermoë om langafstandmissiele te onderskep en ook die VSA se arsenaal kernwapens wat in Europese lande teenwoordig is en wat moontlike kernaanvalle op Europa kan verhoed.

Daarteenoor wil Macron sien dat Europese lande self verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid neem. Hy het selfs al die voorstel gemaak dat ’n Europese weermag ontwikkel moet word.

Nog ’n rede waarom baie Europese leiers verlig is dat Biden die verkiesing gewen het, is omdat hulle hoop dat ’n Amerikaanse regering onder Biden se leiding weer ’n groter rol in die behoud van die sogenaamde liberale orde in die wêreld sal speel. Trump se onwilligheid om, byvoorbeeld, op groot skaal by die oorlog in Sirië betrokke te bly of in ander belangrike konfliksituasies soos in Libië in te gryp, het die Europeërs gegrief. Ook Amerika se leiding in supranasionale organisasies soos die Verenigde Nasies was tot voor Trump se verkiesing byna ’n gegewe. Daarmee saam het natuurlik die enorme finansiële las vir die onderhoud van hierdie organisasies gegaan.

Die vraag nou is of Biden en sy span eenvoudig gaan probeer om die horlosie vier jaar terug te draai. Met enorme binnelandse uitdagings soos die Covid-19-pandemie, groeiende staatskuld en voortslepende rassespanning, en op die buitelandse front die handelsoorlog met China, China se aggressiewe optrede in die Suid-Chinese See en Turkye se toenemende vervreemding van die Weste (om slegs enkele voorbeelde te noem), is dit nie ’n uitgemaakte saak dat Biden so vinnig gaan spring om weer soos Barack Obama ’n leidinggewende rol in die liberale wêreldorde te speel nie.

Dit is meer realisties om te verwag dat die transatlantiese verhouding onder Biden slegs gedeeltelik ’n terugkeer na die pre-2016-era sal maak. Die beste opsie is eerder ’n transformasie van dié verhouding en die noodsaaklike herbedink van die rol van verskeie ooreenkomste en instellings soos die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie. Dit is natuurlik dinge waarvoor Trump juis gevra het. Daarmee saam is Macron reg in sy oproep aan ander Europese leiers om groter verantwoordelikheid vir Europa se eie veiligheid te neem. Meer as sewe dekades ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog, maak dit geen sin dat die VSA steeds die grootste bydrae moet lewer tot die versekering van veiligheid op die Europese kontinent nie.

Macron van Frankryk en Kurz van Oostenryk vra ook vir nuwe rigting in Europa

Foto: Pixabay

In twee totaal uiteenlopende mediaonderhoude het die Franse president, Emmanuel Macron, en sy Oostenrykse eweknie, Sebastian Kurz, die afgelope week ’n duidelike visie vir ’n Europa wat groter verantwoordelikheid vir sy eie lot neem, voorgestel.

Macron verkeer onder druk om ferm op te tree ná die onlangse terreuraanvalle in sy land. Daarmee saam is daar ook in 2022 ’n presidentsverkiesing in Frankryk en Macron sal heelwat werk moet doen indien hy tot ’n tweede termyn herkies wil word.

In ’n onderhoud van meer as 12 000 woorde in die tydskrif van ’n bekende Franse dinkskrum bespreek Macron sy visie vir Europa met ’n baie sterk fokus op groter integrasie en samewerking tussen Europese lande, maar ook groter beskerming van Europese waardes, Europa se buitegrense en veral Europese oplossings vir Europese probleme.

Sebastiaan Kurz, die jong, energieke kanselier van Oostenryk, het in ’n onderhoud in ’n bekende Duitse nuusblad gesê dat Europese lande ernstig moet besin oor Europa se plek in die wêreld. Kurz ondersteun Macron in sy versoek dat Europa en die Europese Unie ernstig moet herbesin oor hul verhouding met Turkye. Europese leiers sal op 10 Desember op ’n spesiale beraad samesprekings voer oor Europese lande se verhouding met Turkye.

Terwyl Macron egter homself vir groter Europese integrasie en ’n meer liberale en sekulêre samelewing wil beywer, benadruk Kurz die uitdagings van Europese lande se swak immigrasiebeleid. In dieselfde onderhoud vra hy vir die beskerming van Europese lande se Christelik-demokratiese waardes. Kurz is ook baie meer as Macron ingestel op fiskale verantwoordelikheid en hy het vroeër vanjaar saam met die leiers van Nederland, Swede en Finland ernstig kapsie gemaak teen die EU se planne om gedeelde skuld aan te gaan ten einde ’n ekonomiese hulppakket vir Europa te befonds. Terwyl Macron en Kurz op sommige punte saamstem, verteenwoordig Macron egter die liberale noordwestelike elite van Europa terwyl Kurz die meer konserwatiewe blok van sentraal- en Oos-Europese lande se visie verwoord.

Selfs met Biden se verkiesing in die VSA en die verwagte normalisering van verhoudinge tussen Europese staatshoofde en die Amerikaanse regering, moet die vraag oor hoe die Europa van die toekoms gaan lyk en werk, en wat die rol van die Europese Unie daarin gaan wees, beantwoord word. ’n Ernstige debat hieroor kan moontlik oor die volgende jaar of twee in Europa gevoer word.

Hongarye en Pole sê genoeg is genoeg, oor EU se inmenging in eie sake

Die vlag van die Europese Unie. Foto: Pixabay

Die Europese Unie se besluit om die goedkeuring van ’n langtermynbegroting wat ’n spesiale ekonomiese hulppakket insluit waaroor EU-lidlande in Julie vanjaar ooreengekom het, te koppel aan sogenaamde vereistes oor die oppergesag van die reg, is die afgelope week deur Pole en Hongarye verwerp.

Die EU voer reeds die afgelope paar jaar ’n stryd met die konserwatiewe regering in Pole nadat dié regering hervormings aan Pole se regstelsel ingestel het. Sommige leiers in die EU lewer ook voortdurend kritiek op beleid van die Poolse en Hongaarse regerings wat tot toenemende spanning tussen Wes-Europese en Sentraal-Europese lande gelei het. Pole en Hongarye word grootliks deur Slowenië ondersteun.

Dit het die afgelope week daartoe gelei dat Pole en Hongarye hul vetoreg gebruik het om die inwerkingtreding van die EU-begroting van 1,82 triljoen euro, wat die hulppakket insluit, te verhoed. Pole en Hongarye voer aan dat die EU ’n ekonomiese en nie ’n politieke eenheid vorm nie en dat die EU nie politieke vereistes aan lidlande kan stel nie.

Verdere onderhandeling sal nou tussen EU-leiers en die leiers van Pole en Hongarye plaasvind. Die beledigings wat egter die afgelope tyd vanuit Brussel na die leiers van Pole en Hongarye geslinger is, is onverantwoordelik en kan tot ’n groter verdeeldheid in die EU aanleiding gee.

Bulgarye steek stokkie voor gesprekke oor Noord-Masedonië se insluiting in EU

Die Europese Unie se planne om die afgelope week met samesprekings vir die uitbreiding van EU-lidmaatskap na Noord-Masedonië en Albanië te begin, is vir eers in die wiele gery toe Bulgarye dit weens ’n geskil met Noord-Masedonië geblokkeer het.

Terwyl verskeie EU-lidlande, insluitende Nederland, Oostenryk en Finland, skepties staan oor die uitbreiding van die Europese Unie, is daar in Maart vanjaar besluit om wel die aansoekproses vir Noord-Masedonië en Albanië te open met die veronderstelling dat dié twee lande se aansoekproses saam sou verloop. Met Bulgarye wat nou Noord-Masedonië se aansoek blokkeer, kan Albanië, ’n Balkan-land waarvan die meerderheid van die bevolking Moslems is, se aansoek ook nie voortgaan nie.

Verskeie leiers in die EU wil graag sien dat dié instelling se lidmaatskap en invloed verder in die Balkan-streek uitbrei ten einde ’n groter mate van demokrasie in dié streek tot gevolg te hê. Verskeie Europese leiers hoop ook dat hulle deur EU-lidmaatskap kan verhoed dat sommige Balkan-lande en lande in Oos-Europa nouer bondgenootskappe met Rusland sluit.

Die geskil tussen Bulgarye en Noord-Masedonië handel oor hul gedeelde geskiedenis en oor die taal wat in Noord-Masedonië gepraat word en wat uit Bulgaars ontwikkel het. Die regering van Bulgarye beweer dat die Noord-Masedoniërs nie hierdie historiese band wil erken nie.

Hierdie oënskynlik klein en nietige verskil bevestig weer eens die komplekse etniese verskille wat steeds in die Balkan en Oos-Europa teenwoordig is. Die regering van Noord-Masedonië het intussen gesê dat hulle weer met Bulgarye sal skakel oor die hantering van hierdie geskil. Ou verdelingslyne en gevoeligheid oor historiese gebeure gaan egter nie oornag verdwyn nie, en net so gaan etniese verskille nog vir lank teenwoordig wees en daardeur integrasie binne Europa belemmer.

Sommige EU-lidlande staan vas oor eise vir Brexit

brexit2

Argieffoto.

Terwyl die tyd bitter kort raak om ’n ooreenkoms tussen die Europese Unie en Brittanje te bereik vir ’n ordelike onttrekking deur die Britte uit die EU, is dit veral Frankryk, Nederland en Spanje wat hierdie week druk op die EU se hoofonderhandelaar, Michel Barnier, geplaas het om nie verdere toegewings aan die Britte te maak nie. Hoewel die leierskap van die EU en die meeste staatshoofde van EU-lidlande graag wil sien dat ’n ooreenkoms nog bereik word, is dit veral dié drie lande wat bekommerd is dat ’n ooreenkoms waarin die EU nog meer toegewings aan die Verenigde Koninkryk maak, so sleg kan wees dat EU-lidlande slegter daaraan toe sal wees as wat hulle sou wees indien 1 Januarie 2021 sonder ’n ooreenkoms sou aanbreek.

Barnier het die afgelope week verskeie pogings aangewend om die Britte te oortuig om ’n ooreenkoms te bereik. Slegs drie sake staan tans tussen die EU en ’n ooreenkoms met Brittanje. Dit is visseryregte, ’n gelyke speelveld in veral handel, en dan die praktiese implementering van die ooreenkoms en veral die hantering van geskille wat uit die ooreenkoms kan ontstaan.

Dit is juis ten opsigte van die eerste twee strydpunte waar lande soos Nederland, Frankryk, Spanje en tot ’n mate België, weens hul geografiese ligging – maar ook hul sterk koppeling aan die Britse ekonomie – groot skade kan ly indien bedrywe in hul lande nie beskerm word teen wat hulle beskou as onbillike handel met Brittanje nie.

Leiers van hierdie lande sien eerder daarvoor kans dat geen ooreenkoms bereik word nie, as dat Britse maatskappye onbeperkte toegang tot hul markte behou, maar sonder die omvattende regulasies waaraan maatskappye in hul lande moet voldoen.

Die Britse regering het na bewering die afgelope week sy onderhandelaars opdrag gegee om tot die laaste minuut te bly onderhandel. Onafhanklike ontleders het reeds gesê dat ’n geen-ooreenkoms-scenario minstens oor die kort termyn groter risiko’s vir die Britte as die EU inhou. Tog is die EU bekommerd oor die langtermyngevolge van ’n Brittanje wat buite die Europese regulatoriese raamwerk globaal sake doen en met Europese maatskappye meeding. Die kans dat ’n ooreenkoms nog betyds bereik kan word, is egter besig om heeltemal weg te kwyn.

Alles nie so wel in Chinese ekonomie

Betogers skeur ʼn banier waarop pres. Xi Jinping van China se gesig pryk middeldeur. (Foto: Ajit Solanki, AP)

Nuus uit China is gereeld dat die Chinese ekonomie heeltemal herstel het ná die pandemie, en dat dit weer baie sterk groei. Die Chinese regering probeer veral die afgelope paar maande baie hard om die persepsie te skep dat die Chinese ekonomie nie so ernstig deur die pandemie geraak is nie en dat uitvoere grootliks weer herstel en selfs begin toeneem het.

Daar is egter belangrike ander data uit China wat nie so algemeen bekend is nie. Verskeie Chinese maatskappye het oor die afgelope paar weke nie daarin geslaag om by te hou met die terugbetaling van lenings nie. Die mees onlangse is die vervaardiger van rekenaarskyfies, Tsinghua, wat hierdie week nie daarin kon slaag om sy lening van 1,3 miljard joean (270 miljoen Amerikaanse dollar) terug te betaal nie.

Verskeie ekonome het die afgelope tyd gewys op ’n groeiende skuldkrisis in China. Dit volg nadat ’n kommersiële bank in China ook verlede jaar in duie gestort het. Dit is egter veral skuld van groot maatskappye en die enorme huislenings van honderde miljoene Chinese wat hulle oor die afgelope twee dekades in stede gevestig het, wat beleggers bekommerd maak.

Die Chinese regering beweer dat die situasie onder beheer is, maar wat hierdie skuldprobleme wel toon, is dat ’n groot deel van die ekonomiese groei in China deur lenings gedryf word. Dit laat ernstige vrae oor die volhoubaarheid van China se ekonomiese wonderwerk van jaarlikse ekonomiese groei bo 6% die afgelope paar jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Adriaan ·

Biden is nie as die wenner van die afgelope presidentsverkiesing aangewys nie.

LANA is ELANè ·

Jy kry op die einde waarvoor jy stem ~ die VSA het probleme met die ver linskes wat hulle eie agendas betref.

twaalfboor ·

En daar kom die Afrika mentaliteit nou. Mahala studies en medies…..en sosialistiese ekonomie.

Lian ·

Hulle het mos hierdie linkse ideologie op Suider Afrika afgedwing en nou wil hullenie hul eie medisyne sluk nie . Jammer om van julle probleem te hoor

Sarel ·

Die Amerikaners is besig om hulle sekf in die voet te skiet.
Hdbsug dn Arrogansie gaan hulle ondergang wees en jy ksn maar kyk die ” Feas must fall” is weer asn die kom

Sarel ·

Hoor my vandag rk weet nie of die ouman dy termyn gaan oorleef nie

Konserwatief ·

Kan nie glo dat die MSM steeds berig asof daar geen verkiesingsongeruimdhede in Amerika was nie en steeds nie die strategie van die linkses wil raaksien nie if daaroor berig nie. Hoop net dat die sheeples sal wakker word.

Human ·

Die tjankkommando is alweer besig met disinformasie, hulle tjank is nie goed genoeg afgetrap.

Jannie van Niekerk ·

Van vandag af dink die meeste Amerikaners wat vir Biden gestem het so: Dagsê President Biden…Koebaai Amerika… (Aitog, waarom het ons nie vir President Trump gestem nie?!)

Adam Adriaan ·

Dit is maar so. Van Adam se tyd af, wil die mens na gekyk word. Te lui om te werk, wil alles verniet hê. Die Amerikaners moet maar vir hulle kry. Dit is waarvoor hulle gestem het. Daar is maar net ‘n klein groepie mense in die wêreld wat wil werk en na hulle self wil kyk., die res “Demand net” Wil alles verniet hê. Vry Medies , maandelikse salaris (sonder om te werk). Vry krag ens. ‘n Mens kan net vry wees as jy jou Skepper dien en jy in die sweet van jou aangesig jou brood verdien. Net Geloof ,Werk en die Waarheid maak ‘n mens Vry. Nie ‘n gehim en ‘n gehaar en soek na argumente as jy nie voldoen aan die bogenoemde nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.