Internasionale oorsig: Verskeie pogings om nuwe vlaag van terreur te stuit

(Foto: Twitter)

Die kroonprins van Saoedi-Arabië, prins Mohammed bin Salman, het hom Donderdag sterk uitgespreek ná die aanval vroeër die week by ʼn herdenkingsgeleentheid vir Westerse soldate wat tydens die Eerste Wêreldoorlog in Saoedi-Arabië dood is. Die Islamitiese Staat het intussen verantwoordelikheid aanvaar vir die aanval waarin drie mense beseer is. Die geleentheid is deur diplomate van onder meer Frankryk, Engeland, Italië en Griekeland bygewoon.

Die aanval volg op verlede week se terreuraanval in Wene, Oostenryk, deur ʼn Islamitiese terroris en twee afsonderlike aanvalle die afgelope paar weke in Frankryk. Die spanning tussen Westerse en Midde-Oosterse lande het sedertdien ernstig toegeneem, veral nadat pres. Emmanuel Macron van Frankryk daadwerklike stappe teen wat hy as ʼn probleem van Islam in Frankryk beskou, aangekondig het.

Vroeër die week het die Oostenrykse kanselier, Sebastian Kurz, ook sterk nuwe optrede in die bekamping van terreur en veral ten opsigte van die radikalisering van Moslems in sy land aangekondig. Leiers van Moslem-lande, veral in die Midde-Ooste, het ʼn paar weke gelede met woede gereageer nadat Macron gesê het dat Islam in ʼn krisis verkeer weens die voortdurende radikalisering van jong Moslems in Westerse lande.

Daar heers vrees in talle Wes-Europese lande vir ʼn nuwe vlaag terreuraanvalle oor die Kerstyd. Terwyl Macron en Kurz sterk stappe aangekondig het, is dit opvallend hoe stil die Duitse bondskanselier Angela Merkel is. Net soos met die konflik in Nagorno-Karabach, en hernude spanning tussen Wes-Europese lande en Turkye, verkies Merkel om stil te bly en Macron eerder die leiding te laat neem.

Bin Salman se sterk uitsprake Donderdag behoort egter ʼn les vir leiers soos Recep Erdogan van Turkye en Imran Khan van Pakistan te wees. Erdogan en Khan het hulle albei teen Macron uitgespreek wat juis tot die verdere radikalisering van die Moslem-bevolkings van Wes-Europese lande aanleiding kan gee.

Wat Macron en Kurz deeglik besef, is dat die integrasie van hul lande se groot Moslem-immigrantebevolkings misluk het. Die meeste Moslems verkies om in hul eie woonbuurte met hul eie reëls en leefwyse te bly. Hulle stel nie belang om hul kultuur aan te pas nie en die bywoning van gebedsbyeenkomste in moskees in Frankryk, Oostenryk, België, Duitsland en Nederland neem steeds toe. Macron en Kurz het juis talle moskees as die bron van radikalisering geïdentifiseer.

Aanbidders in ‘n moskee in Athene. (Foto: Khaled Beydoun/Twitter)

Bin Salman se verwerping van enige ekstremisme volg op die Saoedi-gebaseerde Organisasie vir Islamitiese Samewerking, ʼn sambreelliggaam vir Moslem-lande, se verwerping van Macron en ander Franse leiers se uitsprake teen die sogenaamde krisis as ʼn “Islam-krisis”.

Moskees oor die hele Wes-Europa word deur lande soos Turkye, Saoedi-Arabië, Katar en die Verenigde Arabiese Emirate gefinansier en imams ontvang dikwels opleiding by aartskonserwatiewe Islamitiese skole in dié Moslem-lande. Die 500ste moskee het onlangs in Nederland geopen, waar die rol van Islam in dié land ook die afgelope twee weke die onderwerp van heelwat debat was.

Wat duidelik is, is dat Westerse leiers die krisis wat ʼn groeiende Moslem-bevolking wat weier om te assimileer vir die stabiliteit in daardie lande inhou, begin besef. Presies wat die oplossing hiervoor is, kan en wil niemand egter nog bespreek nie. Terwyl Macron en Kurz ten minste probeer om dit te doen, is Merkel se stilte tekenend van ʼn Duitse regering wat bang is om hedendaagse uitdagings op die naam te noem en aan te pak.

 Vredesooreenkoms groot terugslag vir Armenië

(Foto: IANS)

Die vredesooreenkoms wat ʼn paar dae gelede tussen Armenië en Azerbeidjan gesluit is, is

ʼn groot terugslag vir die Armeense volk en ʼn oorwinning vir Azerbeidjan en Turkye. Deur die ooreenkoms verloor Armenië beheer oor sleutelbelangrike distrikte rondom Nagorno-Karabach, asook oor die grootste deel van die suide van dié streek.

Die stad Shusha, die kulturele sentrum van Nagorno-Karabach, is ook deur Azerbeidjan verower en duisende inwoners het na Armenië gevlug en sal waarskynlik nie weer na hul huise kan of wil terugkeer nie. Die ooreenkoms is ʼn verleentheid vir die regering van Armenië, maar behoort ook ʼn verleentheid te wees vir Westerse lande wat niks gedoen het om die Armeniërs te beskerm nie.

Die weermag van Armenië is die afgelope paar weke deur ʼn veel sterker weermag uit Azerbeidjan aangeval. Azerbeidjan se sukses kan toegeskryf word aan die gebruik van gevorderde hommeltuie uit Israel, militêre ondersteuning van Turkye en honderde Siriese vegters wat ʼn bloedige stryd teen die uitgelewerde etnies-Armeense volk van Nagorno-Karabach gevoer het.

Dat Rusland, onanks versoeke om hulp uit Armenië, nie fermer en vroeër opgetree het om die konflik te beëindig nie, is ook ʼn skandvlek op dié land se invloed in die Kaukasiese streek. Uiteindelik het Wladimir Poetin met pres. Recep Erdogan van Turkye onderhandel en het die ooreenkoms wat nou onderteken is, uit hul gesprekke beslag gekry. Dit het egter Turkye se invloed in die gebied bevestig. Die besluit om Russiese en Turkse soldate in die gebied te ontplooi, is ook ʼn bitter pil vir die Armeniërs wat steeds deeglik bewus is daarvan dat Turkye en Erdogan weier om die Armeense volksmoord – toe 1,5 miljoen Armeniërs deur die Turke uitgewis is – te erken.

Azerbeidjan se outoritêre Islamitiese president, Ilham Alijef, het reeds gesê dat die outonome regering van Nagorno-Karabach nie noodwendig sal kan voortbestaan nie. Die toekoms van die gebied wat reeds bykans 2 000 jaar deur die Armeniërs bewoon word, is nou baie onseker. Hoewel Russiese soldate ʼn toegangsroete vanaf Armenië na Nagorno-Karabach sal patrolleer om te verseker dat die gebied nie van Armenië afgesny word nie, is die omliggende gebied nou in die hande van Azerbeidjan. Azerbeidjan het ook aangedring op die skep van ʼn nuwe korridor oor Armenië se grondgebied na die Nakhichevan-enklawe wat deel van Azerbeidjan is, maar nie direk met die res van die land verbind was nie. Dit skep ʼn verdere veiligheidsbedreiging vir Armenië.

Hoewel die ooreenkoms ʼn einde maak aan die bloedvergieting en vernietiging van die oorlog die afgelope paar weke, skep dit ʼn groter krisis vir die Armeense bevolking in Nagorno-Karabach. Voorts kan die ooreenkoms ook lei tot verdere politieke destabilisering van Armenië. Dat Europa en die VSA nie méér gedoen het om Armenië by te staan nie, lei tot verdere skeptisisme onder Christelike volkere in Oos-Europa, die Balkan en die Kaukasiese streek wat hul verbintenis met die Weste betref.

Ethiopië stuur af op burgeroorlog

Inwoners van die Tigray-streek in Ethiopië probeer vlug. (Foto: Twitter)

Ethiopië se grondwet, wat in 1994 aanvaar is en wat ʼn sterk federalistiese karakter het en die reg op selfbeskikking aan die land se onderskeie etniese streke bied, is vir jare as ʼn toonbeeld vir die res van die wêreld voorgehou. Die geweld van die afgelope paar dae in die Tigray-streek in die noorde van die land het alle hoop dat Ethiopië ʼn model vir die res van Afrika kan wees, uitgewis.

Ethiopië se premier, Abiy Ahmed, het verlede jaar nog die Nobelprys vir Vrede gewen nadat hy kort nadat hy in 2018 die regeringshoof geword het, vrede met Eritrea gesluit het. Ahmed het egter in die vredesonderhandelinge met Eritrea die Tigray Volksbevrydingsbeweging, wat vir dekades die magtigste politieke party in Ethiopië was, heeltemal uitgesluit. Die Tigray is ʼn sterk etniese groep van 10 miljoen mense wat ʼn groot belang by die jare lange geskil tussen Ethiopië en Eritrea het.

ʼn Paar weke gelede het die regering in Tigray beheer oor belangrike weermaginstellings in hul streek geneem. Op 4 November het Ahmed aangekondig dat hy Ethiopië se weermag in die streek gaan ontplooi. ʼn Hewige stryd het sedertdien uitgebreek met duisende mense wat reeds na Soedan gevlug het en berigte van hewige aanvalle en honderde sterftes wat ontvang is. Die hele regering van Tigray is ook afgedank.

Ethiopië het nege etniese groepe wat in semi-outonome streke woon. Verlede jaar het geweld uitgebreek weens protes deur die Oromo- en Amhara- etniese groepe wat ook gevoel het hulle word uit politieke prosesse uitgesluit.

Die huidige etniese geweld is niks nuuts nie en vertel die verhaal van ʼn land wat al hoe meer sukkel om eenheid te behou. Wêreldleiers was verheug toe Ahmed in 2018 oorgeneem het met die belofte van politieke hervorming. Intussen het sy hervormings egter begin misluk en stuur die land op ʼn burgeroorlog en/of ʼn algehele breuk tussen etniese gemeenskappe af.

Turkye se ekonomiese probleme verdiep

Pres. Recep Erdogan. (Foto: Turkse presidensie via AP)

Die Turkse president, Recep Erdogan, het verlede Sondag aangekondig dat hy die goewerneur van Turkye se Reserwebank afgedank het. Murat Uysal is die tweede goewerneur van dié bank wat binne 16 maande afgedank word. Erdogan se skoonseun het ook verlede Sondag as minister van finansies bedank.

Turkye ondervind tans ʼn enorme ekonomiese krisis met stygende inflasie, ʼn tekort aan buitelandse valuta en ʼn verswakkende geldeenheid. Sedert Erdogan in Augustus 2014 president van Turkye geword het, het die Turkse lira reeds 75% van sy waarde teen die Amerikaanse dollar verloor. Turkye se ekonomiese groei is die swakste in tien jaar en die land kan binnekort ʼn probleem hê met die terugbetaling van sy buitelandse skuld. Intussen het Erdogan, in sy strewe om die leier van die Moslem-wêreld te word, talle voormalige bondgenote vervreem.

Erdogan se stryd met Frankryk in die Middellandse See, sy voortdurende uitvalle met Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate en sy besluit om Turkye by die konflik in Libië en Sirië te betrek, kom teen ʼn groot finansiële koste, maar beteken ook ʼn verlies aan vriende in die streek.

Erdogan het hom sedertdien die vyandskap van Indië op die hals gehaal deur Pakistan se kant te kies in die stryd om die beheer van Kasjmir. Erdogan se pogings om die ou Ottomaanse Ryk te laat herleef, het ook tot sy land se betrokkenheid in die oorlog tussen Armenië en Azerbeidjan bygedra.

Ekonomiese probleme word egter nie deur militêre bravade opgelos nie. Turkye se huidige ekonomiese probleme is baie ernstig en hou wesenlike gevolge in, nie net vir die Turke nie, maar ook vir die hele Midde-Ooste.

Laaste vlammetjie van demokrasie in Hongkong geblus

(Argieffoto: Jason Lee/Reuters)

China se aanslag op die wetgewende raad van Hongkong is ʼn bewys dat die Chinese nou die laaste vlammetjie van demokrasie in die stad uitdoof. Die Chinese se besluit die afgelope week om vier demokraties verkose lede van dié raad te verwyder omdat hulle nie lojaal aan China is nie, het ʼn finale streep deur die demokrasie in Hongkong getrek. Daarna het die oorblywende prodemokrasie-lede van die raad almal uit protes bedank. Die wetgewende raad was die een instrument in Hongkong wat die sogenaamde beginsel van “een land, twee stelsels” onderskryf het. Die lede van die raad is demokraties verkies en was gereeld ʼn groot bron van irritasie vir die Chinese.

Nadat China vroeër vanjaar sogenaamde nasionale veiligheidswetgewing vir Hongkong ingestel het, was dit reeds duidelik dat die Chinese regering genoeg gehad het van demokrasie in Hongkong en dat China weer volle beheer oor Hongkong gaan neem. Dit bots lynreg met wat tussen China en Brittanje ooreengekom is toe Hongkong in 1997 aan China teruggegee is.

Westerse lande se onvermoë om teen Chinese aggressie in Hongkong op te tree, is ʼn skande. Die meerderheid van Hongkong se inwoners is ten gunste van die tweestelsel-bedeling en demokrasie, maar word toenemend aan China se optrede uitgelewer. Die jongste ingrypings kan verder bydra tot ʼn wegkalwing van Hongkong se ekonomiese krag namate al hoe meer maatskappye dit oorweeg om uit Hongkong pad te gee.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers, Wêreldnuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Dit sal nooit gestop, of stop gesit word nie. Die agenda is om die hele wereld Islam te draai, en shari wetgewing in te stel. Geen ander goddiens sal toegelaat word nie. Hulle is in Mozambique, en gee al klaar vir daai regering ‘n kopseer. Wonder hoe Frankryk en Duitsland teen 2040 sal lyk?

annie

Trump wou ‘n rustiger verhouding met Rusland bevorder wat die grootste aanval teen hom vanaf die Pentagon en veiligheidsliggame uitgelok het want die 1984-spel moes voortduur om ‘n ekonomiese en magsbasis te behou. Navo bestaan juis omdat Rusland die glo vyand is en Putin se hand word orals gekeer. Duitsland beheer die EU en Navo. WW3 sal ‘n godsdiensoorlog wees maar Europa glo hulle werk aan ‘n paradys. Trump wou Sjina troef maar hy word as ‘n boelie uitgekryt. Wie trek die toutjies?

marius

Europa was gewaarsku , maar het hulle slim gehou . Macron weet baie goed hoe Moslems oor hul geloof voel , maar gaan voort met sy bespotting . Hy het geen idee wat terreur beteken nie .

LANA is ELANè

Me Merkel se stilswye rakende tereur is doodeenvoudig omdat sy besef hoe naief sy was met opening van haar land se grense vir al wat leef en beef, onder die vaandel van sg menseregte. Haar hande drup van die bloed van haar eie burgers agv haar vrygewigheid tov toegang tot haar eie land. Al probleem is sy het nie gedink aan haar eie burgers se reg tot hul menseregte deur om in ‘n veilige land te lewe nie. Europa het so baie te leer by die Poolse regering wat betref oopmaak van grense en tereurgroepe se agenda met die infiltrering… Lees meer »

Derek

Die konsep van naaste liefde maar net nog n leuen, die verandering van die Bybel deur die liberale het ons in die gemors laat beland waarin ons tans is en ook artikek 15.1 van die handves van menseregte is die grootste onding wat ons kon tref. SA n voorbeeld van die leuen!