‘Jaar se reën’ sak binne dag oor VAE uit

‘n Oorstroomde straat in Doebai. (Foto: Giuseppe CACACE / AFP)

Sowat ’n jaar en ’n half se reënval het tussen Maandag en Dinsdag oor die woestyn in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) uitgesak en nóg reën word vir vandag voorspel.

Internasionale media berig die reën het Maandagaand begin val en teen Dinsdagaand het sommige reënmeters in Doebai al 142 mm gemeet. Doebai teken gewoonlik sowat 140 mm reën in ’n jaar aan.

Die VAE se regering en die nasionale meteorologiese sentrum bestempel dit as die grootste reënvalgebeurtenis in 75 jaar.

Reën is ongewoon in die VAE, op die dorre Arabiese Skiereiland, maar kom periodiek gedurende die koeler wintermaande voor.

Minstens een persoon (70) is weens die stortreën dood nadat hy in sy motor in Ras al-Khaimah, een van die land se sewe emirate, deur vloedwater meegesleur is.

Gestrande reisigers wag by die Doebai-lughawe. (Foto: AFP)

Talle toegangspaaie het oorstroom en sommige metrodienste in die VAE is noodgedwonge opgeskort.

Reisigers is intussen gewaarsku om nie na Doebai se internasionale lughawe, die wêreld se besigste, te reis nie “tensy dit absoluut noodsaaklik is”.

“Vlugte word steeds vertraag en herlei… Ons werk hard daaraan om bedrywighede so vinnig as moontlik in baie uitdagende toestande te herstel,” het ’n woordvoerder van die lughawe-owerheid Dubai Airports Dinsdag gesê.

Doebai se vlagskip lugredery Emirates het teen Woensdag alle aanmeldingstye by vertrektoonbanke gekanselleer terwyl personeel en passasiers gespook het om tot by die lughawe te kom.

‘n Oorstroomde straat in Doebai. (Foto: Giuseppe CACACE / AFP)

Stormreën het die VAE en Bahrein oornag Maandag en Dinsdag getref. Erge reën in die buurland Oman het die stormweer Sondag voorafgegaan. Altesaam 18 mense, onder wie kinders, is hier weens die stormweer dood.

Die dodetal sluit in minstens nege skoolkinders en hul bestuurder nadat die voertuig waarin hulle gereis het Sondag deur vloedwater in Samad A’Shan meegesleur is.

Die klimatoloog Friederike Otto, ’n spesialis in die beoordeling van die rol van klimaatsverandering op uiterste weersomstandighede, het aan AFP gesê dit is “hoogs waarskynlik” dat aardverwarming die storms vererger het.

Amptelike media sê dit is die hoogste reënval sedert rekords vanaf 1949, voor die stigting van die VAE in 1971, gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Bolandse Nooi ·

Alles danksy onse voorouers wat nie gedagte gegee het aan wat die invloed van rewolusie, evolusie en ontwikkeling tot gevolg sou hê nie.

Wiehann ·

Ek kan nou nie sê of hul die wolke bespuit het nie, maar dit was nogals erg met vlae van reën wat neergestort het. Die pad voor my villa, in Abu Dhabi, is steeds verspoel. Dit was gister so half meter diep. Dit begin nou terug sak en die metro se dienste pomp water uit waar hul kan. Saam met al die reën was die wind met tye rondom 40-50 km/h met ruk winde van 70km/h en meer. Die VAE is nie ingerig vir sulke groot hoeveelhede reën nie, en die paaie sal nog vir ‘n paar dae plek plek poele water hê. Die VAE is 53 jaar oud, so die laaste keer wat dit so gereën het was voor die VAE gestig is. Dis verbasend om so baie water te sien in so droë land, self die onmiddellike woesten begin al groen lyk met al die reën wat ons die afgelope paar maande gesien het.

Renier ·

Ek hoop die talle hoe geboue is stewig in die sand. Hulle is nie ontwerp om so baie reen te hanteer. Daar is uiters min storm water dreine in VAE.

George ·

@Renier, hulle het n massiewe ondergrondse filtreer sisteem, maar dis net nog nie in werking nie, sou eind 2024 in werking kom, vermoed hulle gaan dit nou n prioriteit maak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.