Johnson het ‘kultuur van inperkingspartytjies’ geskep – verslag

LP Anglea Eagle van die Arbeidersparty hou ‘n foto uit die Sue Gray-verslag op waarin Boris Johnson by ‘n partytjie gesien kan word. (Foto: PRU / AFP)

Die Britse eerste minister, Boris Johnson, het tydens die inperking ’n kultuur van partytjies in Downingstraat toegelaat met sommige partytjies wat selfs in vuisgevegte onder personeellede ontaard het.

Dít is die uitkoms van ’n lank verwagte ondersoek deur senior staatsamptenaar Sue Gray na partytjies wat tydens die Covid-19-inperking in Downingstraat plaasgevind het terwyl Britse burgers in hul huise gekluister was.

“Ek neem volle verantwoordelikheid vir alles wat onder my toesig plaasgevind het. Ek is nederig en ek het geleer,” het Johnson in reaksie op ’n verslag van Gray gesê.

Die Konserwatiewe leier is een van verskeie in Downingstraat wat sedert 2020 boetes ontvang het vir die oortreding van Covid-19-regulasies. Die Arbeidersparty dring nou daarop aan dat Johnson afgedank word.

Johnson hou egter vol hy was nie self by die meeste van die partytjies nie en ontken dat hy ooit vir die parlement gelieg het.

Verdoemende foto’s

Daar bestaan egter foto’s, wat deur Gray gepubliseer is, waarin die eerste minister gesien kan word waar hy saam met personeel ’n heildronk in Downingstraat instel.

“Baie van hierdie geleenthede moes nooit toegelaat gewees het nie,” lui Gray se verslag.

Luidens die verslag is sekerheid- en skoonmaakpersoneel in Downingstraat tydens die inperking gespot toe hulle teen die personeel se optrede probeer betoog het. Daar is ook bevind dat die junior personeellede – van wie die meeste vroue – wat die partytjies bygewoon het, deur hul base aangesê is om die geleenthede by te woon.

“Die senior leierskap wat sentraal staan, polities sowel as amptelik, moet verantwoordelikheid dra vir hierdie kultuur,” het Gray bevind.

Gray se verslag kom te midde van ’n verdoemende foto – ’n tafel in Downingstraat wat kreun onder wynbottels en oliebolle – wat vandeesweek deur die Britse publikasie Daily Mirror gepubliseer is.

Die amptelike opposisieparty sê nou die “katalogus van misdadigheid” wat deur die verslag aan die lig gebring is, bevestig sy oproepe dat Johnson afgedank moet word.

“Gray se verslag verskaf duidelike bewyse van hoe diegene binne die gebou (Downingstraat 10) die opofferings van die Britse volk met uiterste minagting behandel het,” het Keir Starmer, leier van die Arbeidersparty, aan Johnson in die Laerhuis gesê.

“Jy kan nie ’n wetgewer en ’n wetsoortreder wees nie. Dit is tyd om jou tasse te pak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

KB ·

Johnson moet die paadjie volg van Scott Morrison (Australië).
Tata aan al die hoeha’s!

Burgermeester ·

Boris is vir die Britte soos Cyril vir Suid-Afrikaners, ‘n pyn waar ‘n mens nie in die openbaar kan krap nie.

JohanR ·

Hoeveel maal kan jy opmors en aanbly. Wat jou goed en trek Ferreira! Het Jacob Zuma die ou geleer om te duck and dive?

Blomme ·

Die Britte maak bohaai oor partytjies… Wonder wat hulle sal maak met al die korrupsie klagte in ons geliefde land?

Treurwilger ·

‘n Eerstewêreld land wroeg en sanik oor ‘n paar partytjies, terwyl ander mense wonder of daar ‘n more is.
Johnson was van die begin af skepties en teësinnig oor die belaglike ‘lockdowns’, en het uitgestaan as ‘n leier wat ten minste vir homself kan dink en nie slaafs navolg nie.
Die laaste tikkie agting vir westerse drama-queens is besig om soos mis voor die son te verdwyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.