“Kaper” vrygelaat

Matt Christopher Lockley

Matt Christopher Lockley

Matt Christopher Lockley, ʼn Australiër wat ʼn kapingswaarskuwing op ʼn Virgin Australia-vliegtuig laat afgaan het toe hy aan die kajuit se deur gehamer het, is sonder enige aanklagte vrygelaat.

Lockley het glo die deur van die kajuit verwar met die toilet en die vlieënier het die lughawe in Bali in kennis gestel dat daar moontlik ʼn kapingspoging op die vlug is.

Beamptes het Sondag gesê die polisie in Indonesië het Lockley sonder enige aanklag vrygelaat en die Australiese owerhede sal die voorval verder ondersoek, aangesien die voorval Vrydag plaasgevind het in ʼn vliegtuig wat in daardie land geregistreer is.

Suryambodo Asmoro, woordvoerder van die polisie in Bali, het gesê die 28-jarige Lockley sal sonder begeleiding na Australië terugkeer, aangesien hy “goeie bedoelings het om na sy land terug te keer”.

Aanvanklike berigte was dat Lockley onder die invloed van alkohol was toe die voorval plaasgevind het.

Lockley het egter gesê dit was ʼn misverstand. “Ek het ʼn fout gemaak om aan die kajuit se deur te klop,” het hy gesê. “Ek bedank die polisie in Indonesië en die owerhede. Hulle het slegs prosedure gevolg en het my versorg en baie ondersteuning gebied.”

Sekuriteitsmagte het die Boeing 737-800 van Brisbane bestorm toe dit land ná die berig van die vlieënier. Lockley is van die vliegtuig verwyder en in hegtenis geneem. Die lughawe is vir ʼn tyd lank gesluit en verskeie vliegtuie moes herlei word na ander lughawens in die gebied. -SAPA

Lees ook:
“Kaper” het gemakhuisie gesoek
Virgin-vliegtuig nie gekaap nie, slegs besope passasier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.