Kitaarlegende; supermodel sterf

Jeff Beck. (Foto: Kevin Winter/Getty Images North America/AFP)

Hulde stroom in vir die Britse kitaarlegende Jeff Beck, en Duitse supermodel Tatjana Patitz wat albei onlangs skielik dood is.

Rockster gegroet

Jeff Beck, die man wat bekendheid verwerf het vir sy voortreflike kitaarvernuf en in 2009 sy plek in die Rock and Roll Hall of Fame gekry het, is op 10 Januarie in die ouderdom van 78 weens bakteriële meningitis dood.

“Hy was een van die min kitaarspelers wat wanneer ons gespeel het, na my sang geluister het en daarop gereageer het,” het Rod Stewart, saam met wie Beck in die Jeff Beck-musiekgroep was, gesê.

“Jeff, jy was die beste. Dankie vir alles. Rus in vrede.”

Die rockgroep Hollywood Vampires wat uit Johnny Depp, Alice Cooper, Joe Perry en Tommy Henriksen bestaan, het ook hulde aan Beck gebring.

“Jeff se ongelooflike toonkunstenaarskap en passie vir die kitaar was ’n inspirasie vir ons almal. Hy was ’n ware innoveerder en sy nalatenskap sal bly leef in sy musiek,” het die groep se boodskap op sosiale media gelui.

Bekendes soos Eric Claptan, sir Mick Jagger, Ozzy Osbourne en Queen se sir Brian May het ook hulde aan die ontslape kitaarspeler gebring.

Beck was sedert 1965 aktief in die vermaakbedryf as kitaarspeler en het deur die jare heen deel gevorm van verskeie musiekgroepe, insluitend The Yardbirds, Beck, Bogert and Appice en The Jeff Beck Group.

Supermodel sterf

Die Duitse supermodel Tatjana Patitz is op 11 Januarie dood. Sy was 56. Die rede vir haar dood is nie bekend gemaak nie.

Patitz word as een van die invloedrykste modelle van die 1990’s beskou en het in musiekvideo’s van onder andere George Michael en Duran Duran verskyn.

Tatjana Patitz. (Foto: Kay Nietfeld/DPA/AFP)

Sy is in 1966 in Hamburg gebore hoewel haar gesin nie lank daarna nie na Swede verhuis het. Op die ouderdom van 17 het sy vir ’n skoonheidskompetisie ingeskryf en ’n derdeplek behaal. Na ’n paar stil jare in haar loopbaan is sy in 1988 deur die modefotograaf Peter Lindbergh gekiek, en dit was die katalisator wat haar jarelange modelloopbaan sou afskop.

In ʼn 1988-onderhoud met Vogue het sy gesê dat haar sukses toegeskryf kan word aan die feit dat sy “anders” lyk. Sy is saam met die supermodelle Cindy Crawford, Naomi Campbell, Linda Evangelista en Christy Turlington vir die bekende 1990-voorblad van British Vogue afgeneem, iets wat haar status as deel van die vyf “oorspronklike” supermodelle van dié era verewig het.

Sy word oorleef deur haar 19-jarige seun, Jonah.

Bykomende bron: BBC News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cherokee ·

Die woord legende het heel van pas geklink toe dit begin gebruik word, maar nou word dit absoluut oordryf deur dit te algemeen te gebruik. Alle bekendes is nou legendes. Joernaliste behoort woordkunstenaars te wees, so dink vir ‘n slag ‘n ander woord uit.

Oudste ·

Ek weet julle gaan ny nou weer verwyder, maar julle is so behep met uitlandse sterwes, maar een wat sy lewe gegee het, deur misdaad te bekamp, Adjudant Offisier Anton Seeber, wat brutaal langs sy vrou doodgeskiet is, wat gister ter ruste gele is, word skaars in julle beriggewing genoem. Hy het vir 30 jaar plus ons met sy lewe beskerm, maar julle stilte oor hom is oordonderend. Skaam julle.

Vettiemaragartos ·

Sjoe stadig oor die klippe. Maroela Media het op 2 Januarie 2023 daaroor berig. Lees meer gereeld koerant.

Riaan ·

Wat daar ‘n Covid Inspuiting betrokke die afgelope jaar of so ?

Anonymouse ·

Hy was 78 en dood aan breinvlies ontsteking, en sy is dood aan borskanker. Baie mense voor die inenting is in hulle 70s dood, en selfs jonger dood aan breinvlies ontsteking, en baie vrouens, en selfs mans, is dood aan borskanker voor die inentings. Hou op om julle nonsens te versprei. Mens sou dink niemand is ooit dood voor Covid inentings nie,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.