Kleuter skiet ma toe hy met vuurwapen speel

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Erik Mclean/Unsplash)

ʼn Driejarige Amerikaanse kleuter het per ongeluk sy ma doodgeskiet toe hy die naweek met ʼn vuurwapen in hul motor gespeel het.

Die tragedie, deesdae alte algemeen in die VSA, het hom Saterdagaand in die parkeerterrein van ʼn  supermark in Dolton, ʼn voorstad van Chicago, afgespeel.

Die seuntjie het in sy karstoeltjie op die agtersitplek van die gesinsmotor gesit toe hy oënskynlik ongesiens sy pa se pistool in die hande gekry het.

“Die kind het in die motor daarmee begin speel. In ʼn stadium het hy die sneller getrek,” het die plaaslike polisiehoof, Robert Collins, aan AFP gesê.

Die kind se ma, Daejah Bennett (22), het in die voorste passasiersitplek gesit toe die skoot afgaan en is agter in haar nek getref. Sy is ná die voorval na ʼn hospitaal in Chicago gehaas waar sy dood verklaar is.

Die kind se pa is sedertdien in hegtenis geneem. Die polisie moet nou vasstel of hy die vuurwapen wettig besit, asook of strafregtelike klagte teen hom aanhangig gemaak moet word.

Honderde kinders in die VSA verkry jaarliks toegang tot “onbeveiligde en gelaaide vuurwapens in kaste, bedkassielaaie, rugsakke en handsakke of wapens wat net oop en bloot gelos word” en vuur per ongeluk skote af, lui die bevinding van ʼn verslag deur Everytown For Gun Safety, ʼn organisasie wat hom beywer vir strenger toesig oor vuurwapens.

Die organisasie skat dat ʼn “onopsetlike skietery” deur minderjariges elke jaar gemiddeld 350 sterftes veroorsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Gert ·

Die Amerikaners moet begin om kinders te leer om hulle hande tuis te hou en goed te los wat nie aan hulle behoort nie

Jedi Knight ·

Suid-Afrikaanse kinders kan ook nie ander mense se eiendom uitlos nie. En dan dink die ouers hulle is net “woelig”, en nie stout nie.

Clarisse ·

“ʼn Driejarige Amerikaanse kleuter het per ongeluk sy ma doodgeskiet toe hy die naweek met ʼn vuurwapen in hul motor gespeel het.”

En DIS die probleem met Amerika.

Grens ·

Hope mense wat gewere besit het gewoontlik nie ‘n idee van geweer veiligheid. As jy nie gereeld met die ding oefen en weet hoe om hom veilig te stoor nie, moet jy liewers nie een besit nie.

Hendrik ·

Dis heeltemal te maklik om n vuurwapen in die VSA in die hande te kry. Daar is geen bevoegdheidstoetsing nie. Wie se skuld is dit? Die National Rifle Association en al die Republikeinse politici wat in hulle sakke is.

Cherokee ·

My eerste rewolwer, wat ek steeds het, het ek gekoop, ‘n vorm geneem om deur ‘n landdros te laat teken, en diè was besig om met ‘n vriend te gesels. Sonder om sy gesprek te onderbreek het hy die vorm geteken, ek het dit na die winkel geneem en my rewolwer gaan haal. Niè in die VSA nie maar hiersô.

AmY ·

Hoe kry ‘n kind ‘n wapen in die hande wanneer hy in sy karstoeltjie sit? Hoe kon daai wapen enigsins binne sy bereik gewees het?

Delia ·

Dalk moet die saak mooi ondersoek word. Kan n 3 jarige genoeg krag het om n sneller te trek

madels ·

Hoe op aarde het die 3 jarige kind die vuurwapen in die hande gekry? Het hy homself los gemaak in sy stoeltjie en toe die wapen gevat en mee gespeel?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.