Koalas nou bedreig

Koalas  (1 September 2011) (Foto: AP Photo/Rob Griffith, File)

Die koalabeer is Vrydag amptelik as ’n bedreigde spesie in die grootste deel van Australië se ooskus gelys.

Dié eens florerende buideldier se getalle het oor die afgelope paar jaar drasties afgeneem weens grondopruiming, bosbrande, droogte, siektes en ander bedreigings in die streek. Daar is nou net sowat 50 000 van dié dierspesie in die natuur oor.

BBC berig die federale regering het Vrydag gesê die koala is nou as bedreigde spesie in Queensland, Nieu-Suid-Wallis en die Australiese hoofstadgebied gelys.

Die spesie is reeds in 2012 as “kwesbaar” in bogenoemde state en gebiede gelys. Ten spyte van die vinnige agteruitgang, is Australiese owerhede daarvan beskuldig dat hulle nie genoeg gedoen het om dié dier te beskerm nie.

Die omgewingsminister, Sussan Ley, sê amptenare is besig om ’n herstelplan op te stel, en grondontwikkelingsaansoeke sal nou vir impak op die spesie beoordeel word.

ʼn Ondersoek wat verlede jaar in Nieu-Suid-Wallis uitgevoer is, het bevind dat koalas teen 2050 in dié deel van die land uitgestorwe sal wees tensy dringend opgetree word.

Daar word geraam dat die sogenaamde swart somer-bosbrande van 2019‑’20 verantwoordelik was vir altesaam 5 000 koalas se dood. Dié brande het 24% van die habitatte net in Nieu-Suid-Wallis geraak.

“Koalas het binne ’n dekade na kwesbaar en toe na bedreig gegaan. Dit is ’n skokkende vinnige afname,” het bewaringswetenskaplike, Stuart Blanch van WWF-Australië, gesê.

“Vandag se besluit om die koala as bedreigde spesie te lys, word verwelkom. Dit sal egter nie keer dat koalas na uitwissing gly nie, tensy dit gepaard gaan met strenger wette en grondeienaarsaansporings om dié spesie se heenkome te beskerm.”

Wetenskaplikes waarsku dat klimaatsverandering ook tot toenemende bosbrande en droogte sal lei, en die gehalte van die dier se bloekomblaardieet sal verswak.

Koalas word ook in Suid-Australië en Victoria aangetref, maar hul getalle neem nasionaal af, volgens bewaringsgroepe.

CNN berig premier Scott Morrison het reeds einde Januarie gesê hy sal ’n rekordbedrag van AUS$50 miljoen (R542 miljoen) oor die volgende vier jaar bestee om die langtermynbeskerming en herstel van die koala-bevolking ’n hupstoot te gee.

“Koalas is een van Australië se geliefdste en ikoniese diere, hier by op eie bodem en wêreldwyd, en ons is daartoe verbind om hulle te beskerm vir ons nageslag,” het Morrison in die verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.