Kommer dat duisende kinders in Soedan kan sterf

Kinders speel sokker naby ʼn plantasie in die begin van die oesseisoen in Barkal in die noorde van Soedan (15 Mei 2023) (Foto: Ashraf Shazly/AFP)

Die Verenigde Nasies het Dinsdag gesê hy is besorg dat duisende kinders in Soedan moontlik besig is om te sterf weens geweld, siekte en ernstige ondervoeding in die konflikgeteisterde land.

Die VN se vlugtelingeagentskap het gesê meer as 1 200 kinders het sedert Mei in vlugtelingkampe gesterf, deels as gevolg van ʼn uitbreking van masels. Nog duisende sterf weens wanvoeding en ʼn gebrek aan gesondheidsorg, het die VN se kinderagentskap Unicef gesê.

“Unicef vrees dat Soedan se jongste burgers ʼn tydperk van ongekende sterftes binnegaan,” het woordvoerder James Elder aan verslaggewers in Genève gesê. “Ons is regtig op die rand.”

Soedan beleef tans ʼn gewelddadige konflik wat op 15 April uitgebreek het tussen leërhoof Abdel Fattah al-Burhan en sy voormalige adjunk Mohamed Hamdan Daglo, hoof van die paramilitêre Rapid Support Force (RSF). Minstens 7 500 mense reg oor die land is reeds weens die geweld dood, volgens ʼn konserwatiewe skatting van die Armed Conflict Location & Event Data Project.

Die oorlog het ook reeds infrastruktuur vernietig, 80% van die land se hospitale gesluit, miljoene mense ontheem en miljoene burgers beleef akute hongersnood.

Die krisis het ʼn besonder swaar las op Soedan se jongste inwoners. Minstens 435 kinders is reeds dood volgens amptelike slagoffergetalle, maar Elder het gesê die werklike getal sterftes is waarskynlik veel hoër.

Unicef vrees dat “baie duisende kinders … in die volgende paar maande sal sterf,” het hy bygevoeg. “Ons vrees duisende het in die afgelope paar maande gesterf. En solank hierdie krisis voortduur, sal baie, baie duisende kinders nog sterf. Dit is moeilik om te verstaan waarvoor die wêreld wag.”

Hy het onder andere gesê dat die “wreedheid teenoor burgerlikes en die genadelose aanvalle op gesondheid- en voedingsdienste” beteken dat baie duisende pasgeborenes die gevaar loop om teen die einde van die jaar te sterf.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het 56 aanvalle op gesondheidsorgfasiliteite en personeel sedert die begin van die konflik geverifieer, met minstens 11 sterftes en 38 beserings tot gevolg.

Elder het daarop gewys dat 333 000 kinders tussen Oktober en Desember in die land gebore sal word, in ʼn tyd waar voedingsdienste “verwoes” is.

“Elke maand het 55 000 kinders behandeling nodig vir die mees dodelike vorm van ondervoeding, en tog is minder as een uit 50 voedingsentrums in Khartoem funksioneel. In Wes-Darfoer is dit een uit 10,” het hy gesê.

Masels, cholera

Die VN-vlugtelingeagentskap het gesê dat hul spanne in Soedan se Wit-Nyl-streek vasgestel het dat meer as 1 200 kinders tussen 15 Mei en 14 September onder die ouderdom van vyf jaar in nege vlugtelingekampe gesterf het. Daardie kampe het hoofsaaklik vlugtelinge uit Suid-Soedan en Ethiopië gehuisves, het Allen Maina, UNHCR-hoof van openbare gesondheid, aan verslaggewers gesê.

Nog 3 100 vermoedelike gevalle van masels is ook in dieselfde tydperk aangemeld, sowel as meer as 500 vermoedelike gevalle van cholera in ander dele van die land, tesame met uitbrekings van denguekoors en malaria, het die agentskap gesê.

“Die wêreld het die middele en die geld om elkeen van hierdie sterftes as gevolg van masels of ondervoeding te voorkom,” het UNHCR-hoof Filippo Grandi in ‘n verklaring gesê. “Ons kan meer sterftes voorkom, maar het geld vir die reaksie, toegang tot diegene in nood, en bo alles ‘n einde aan die stryd nodig.”

Unicef het ook gesê hy kort dringend geld, met die opmerking dat dit slegs ʼn kwart van die $838 miljoen wat hy versoek het om 10 miljoen kinders in Soedan te help, ontvang het.

“So ʼn finansiële gaping sal lewens kos,” het Elder bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Harley Davidson ·

Africa ” leiers” ondersteun Rusland en Putin so Rusland moet voorsien,en wanneer hulle ontrek uit Oekraïne kan hulle weer koring plant.

Jacobus ·

SA is mos hand om die blaas met Soedan se leiers so is dit die pad waarheen hierdie ANC krimenele bende met ons ook oppad is? Die ANC is mos ook gewoond aan bedel.

Hendrik ·

n Soort van benoudheid laat my keel effens toetrek. Met die huidige gedrewe kommunistiese veval wat die regering weier om afstant te doen en die totaal onveratwoordelike aanwas en sassa se huidige nood voorspel niks goed nie.

domheks ·

Dit is al wat Afrika se bevolking goed kan doen – kinders te maak. Dan staan hulle bakhand by Westerse lande. Soos CR ons weereens bewys het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.