Koning Charles loop onder nog ʼn eiergooier deur

’n 20-jarige man is in hegtenis geneem nadat hy koning Charles III met ’n eier probeer gooi het
(Foto: Alexis (sowing discord in the west). Twitter)

’n 20-jarige man is in hegtenis geneem nadat hy koning Charles III Dinsdag in Luton, in die noorde van Londen, met ’n eier probeer gooi het.

Die voorval kom minder as ʼn maand nadat die monarg óók moes koes vir vlieënde eiers tydens ʼn besoek aan die noorde van Engeland.

Die 74-jarige koning was in Luton om gemeenskapsleiers en vrywilligerorganisasies te ontmoet, ʼn nuwe Sikh-tempel te open en ʼn nuwe openbarevervoerstelsel te besoek.

Volgens die polisie in Bedfordshire is die man wat in hegtenis geneem is, buite die Luton-stadsaal aangehou en vir ondervraging na die polisiestasie geneem.

Maroela Media het vroeër berig Charles en sy vrou, Camilla, was op 9 November in York toe hulle met eiers gegooi is.

Tydens die voorval is gehoor hoe ʼn man skreeu “die land is gebou op die bloed van slawe” en “nie my koning nie” voor polisiebeamptes hom aangekeer het. Volgens verslaggewers het die betoger die koninklike egpaar ook uitgejou voor hy glo die eiers na hulle gegooi het.

Die verdagte is later op borgtog vrygelaat.

Nuwe bewerings van rassisme het Buckinghampaleis verlede week getref nadat ʼn senior paleisamptenaar glo ʼn swart, Britse welsynswerkers herhaaldelik gevra het waar sy “regtig” vandaan kom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

JohanR ·

Miskien moet Charles III ‘n pan, klein gas stoofie en brood rolletjies saam met hom dra? Oombliklike ontbyt!

Delia ·

Nee, mens doen dit nie. Selfs al hou jy nie van Charles nie.

Nici ·

Ek is al baie gevra waar ek/my mense regtig vandaan kom. Dit beteken dat iemand geinteresseerd is in ‘n mens se agtergrond en het niks te make met rassisme nie.

Wildemien ·

Amen! Ek verwonder my net so aan die verskriklike oortreding van die senior hofdame. HOE dit rassisme is, weet ek ook nie.

Gert ·

Gooi maar swak. Gooi darem net raak as jy vir dit tronk toe gestuur word

annie ·

Vier berigte oor Britse adel se kaskenades op dié bladsy… Is ons nog lid van die Britse gemenebes van lande? Dan is Charlie mos nou ook ons koning en binnekort queen Dinamite met wederhelf Herrie. Wow, iets om na uit te sien…

trotsNAMSA ·

Die eiergooiers moet eers opleiding kry in klipgooi in SA. Ek het nie ooghare vir die “Empire” nie. Waarom moet ek lees oor hulle skandes ? Die “Empire” wat glo dat Afrika uit onopgevoede mense bestaan en in die verlede en tans Afrika misbruik vir hul ekonomiese welvaart. As daardie persoon my gevra het waar ek vandaan kom, sou daardie persoon ‘n geskiedenis les gekry het vanaf 1716.

Yvonne ·

Respek word verdien….hy is beslis nie die mense se mees ‘favourite’ nie…tragies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.