Kuberkrakers teiken dalk Olimpiese Spele

‘n Ligvertoning op nuwejaar in Parys. (Foto: Bertrand Guay/AFP)

Verskeie Franse regeringsinstellings word geteiken deur kuberaanvalle van “ongekende intensiteit”, sê ʼn woordvoerder van die Franse eerste minister se kantoor.

Met die Olimpiese Spele oor net enkele maande, bestaan die vrees nou dat dié internasionale sportskouspel in Parys in kuberkrakers se visier is.

Eerste minister Gabriel Attal se woordvoerder het Maandag gesê verskeie ministeriële dienste is vanaf Sondag geteiken.

Die aanvalle is volgens Attal se kantoor uitgevoer “met behulp van bekende tegniese middele” maar met “ongekende intensiteit”.

ʼn Sogenaamde krisissentrum is intussen geaktiveer om teenmaatreëls te ontplooi en aanlyn dienste te herstel.

Die jongste kuberaanval volg op ʼn waarskuwing van Attal se verdedigingsraadgewer net verlede week dat die Olimpiese Spele in Julie en die verkiesing van die Europese Parlement in Junie “beduidende teikens” kan wees.

Verskeie kubergroepe, waaronder Anonymous Sudan, het intussen op Telegram, ʼn boodskaptoepassing, na vore gekom om verantwoordelikheid te aanvaar vir die aanvalle.

Anonymous Sudan is ʼn bekende kubergroep wat die afgelope jaar aanvalle op webwerwe in lande soos Swede, Denemarke en Israel uitgevoer het.

“Ons het ʼn massiewe kuberaanval uitgevoer … die skade sal wydverspreid wees,” beweer die groep ná die aanvalle op Franse regeringswebwerwe.

Die groep, glo gebaseer in Soedan, beweer verskillende digitale regeringsektore is geraak, “waaronder baie belangrike webwerwe met hul onderskeie subdomeine”.

Die groep sê hy teiken wat hy beskou as teen-Moslem-aktiwiteit. Daar is egter enkele aanduidings dat die groep simpatiekgesind teenoor Rusland is.

Die spesialis-webwerf Numerama sê Anonymous Sudan se presiese motivering is “onduidelik”. Die webwerf sê die groep is egter geneig om “vyande wat deur Moskou aangewys is” te teiken.

ʼn Sekerheidsbron het egter aan AFP gesê die aanvalle “is nie tans toe te skryf aan Rusland nie”, ʼn ooglopende verdagte vir baie gevalle, gegewe Parys se steun aan Kiëf sedert die inval van Oekraïne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.