Kultusleier aangekeer ná vier volgelinge sterf

Argieffoto (Foto: Tep Ro/Pixabay)

Die polisie in Kenia het Saterdag gesê hulle het die leier van ʼn plaaslike kultus in hegtenis geneem ná vier volgelinge gesterf het. Hy het hulle glo aangesê om hulself te verhonger “om Jesus te ontmoet”.

Elf ander volgelinge van die Good News International Church gelei deur Makenzie Nthenge is na ʼn hospitaal geneem. Drie persone is in ʼn kritieke toestand nadat hulle Vrydag in die Shakaholawoud naby Malindi gered is.

Volgens die polisie is hulle bevrees dat nog slagoffers gevind sal word.

“Die pastoor is in hegtenis geneem nadat hy homself oorgegee het. Hy het geweet ons was op soek na hom,” het Charles Kamau, hoof van strafregtelike ondersoeke in Malindi, gesê.

Nthenge sal Maandag in die hof verskyn.

Die polisie het Vrydag ʼn klopjag op die woud uitgevoer ná berigte van “onkundige mense wat hulself verhonger onder die voorwendsel dat hulle Jesus sal ontmoet nadat hulle deur die verdagte, Makenzie Nthenge, gebreinspoel is”.

Die vier slagoffers se name is nog nie bekendgemaak nie.

Van die elf persone wat na ʼn hospitaal geneem is, is sewe mans en vier vroue tussen 17 en 49 jaar oud. Slegs twee van hulle was Saterdagoggend nog in die hospitaal, het Said Ali, administrateur van die hospitaal, aan AFP gesê.

Sommige van die nege mense wat agtergelaat is, het geweier om medikasie of kos te gebruik wat vir hulle aangebied is, het hy bygevoeg.

Ondersoekbeamptes se soektog duur Saterdag voort in die woud te midde van berigte van ʼn moontlike massagraf waar ander volgelinge na bewering begrawe is.

“Daar is vermoedelik baie meer slagoffers in die woud. Die grond behoort aan die verdagte,” aldus die polisie.

Plaaslike media het berig Nthenge is verlede maand in hegtenis geneem en aangekla ná twee kinders in hul ouers se sorg verhonger en gesterf het. Hy is in daardie stadium vrygelaat op borgtog van 100 000 Keniaanse sjilling (sowat R14 000).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.