‘Lean on Me’-sanger sterf

Bill Withers. Foto: (AP Photo/Mark Duncan, File)

Die sanger en liedjieskrywer Bill Withers is in die ouderdom van 81 aan hartkomplikasies oorlede.

Hy het verskeie treffers in die 1970’s geskryf en gesing, waaronder “Lean on Me”, “Ain’t No Sunshine” en “Lonely Day”.

Withers is Maandag in Los Angeles dood maar sy afsterwe is nou eers bekend gemaak. Sy dood kom terwyl talle mense hul eie verwerkings van “Lean on Me” sing om mekaar te ondersteun te midde van die Covid-19-pandemie.

“Ons is platgeslaan deur die verlies van ons geliefde, toegewyde eggenoot en pa. In sy hart wou hy die wêreld bereik deur sy poësie en musiek, het hy eerlik met mense gepraat en hulle aan mekaar verbind,” lui ʼn verklaring van sy familie.

“Hy het ʼn private lewe naby aan intieme familie en vriende gelei, maar sy musiek behoort vir altyd aan die wêreld. In hierdie moeilike tyd bid ons dat sy musiek troos en vermaak sal bring terwyl sy aanhangers aan hul geliefdes vashou.”

Withers het drie Grammy-toekennings gewen en “Lean on Me” is tydens die inhuldigings van Barack Obama sowel as Bill Clinton uitgevoer.

Sy eerste album, Just As I Am, is in 1971 uitgereik met die treffers “Grandma’s Hands” en “Ain’t No Sunshine”. Sy laaste album is in 1985 uitgereik.

Withers is in 2015 in die Rock and Roll Hall of Fame ingehuldig. Kunstenaars soos Barbra Streisand, Michael Jackson, Aretha Franklin, Tom Jones, Linda Ronstadt, Paul McCartney, Sting, Johnny Mathis, Aaron Neville, Al Jarreau, Mick Jagger, Nancy Wilson en Diana Ross het al verwerkings van sy liedjies gedoen. Sy liedjies is ook in talle rolprente gebruik.

Withers word oorleef deur sy vrou, Marcia, en kinders, Todd en Kori.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.