Leerder slaan assistent tot in hospitaal

’n Skermskoot uit die video van waar ’n leerder ’n assistent by ’n skool in Florida in die VSA aanrand.

ʼn 17-jarige leerder van Florida in die VSA het ʼn onderwysassistent aangeval en bewusteloos geslaan nadat sy dié tiener se Nintendo-speletjiestoestel tydens ʼn klas afgevat het. Die voorval het verlede Dinsdag by die Matanzas High School in Palm Coast plaasgevind.

Polisiebeamptes van Flagler het intussen beeldmateriaal van die aanranding vrygestel, wat teen Woensdag al meer as 1, 4 miljoen keer op YouTube gekyk is. Die video kan sensitiewe kykers ontstel.

Op die video kan gesien word hoe die leerder die assistent kragtig en gewelddadig stamp, skop en slaan. Sy was byna onmiddellik bewusteloos ná die harde stamp en het bewegingloos op die grond gelê terwyl die tiener aangehou het om haar te slaan en skop – selfs terwyl ander personeellede probeer het om hom van die vrou af te trek. Sy het veral houe teen die agterkant van haar kop gekry.

Die 17-jarige is na afloop van die voorval in hegtenis geneem en is luidens ʼn berig op Fox News steeds in polisieaanhouding. Hy word aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Volgens die polisie het die assistent die tiener se Nintendo Switch, ʼn handtoestel waarop videospeletjies gespeel kan word, gedurende ʼn onderrigsessie by hom afgeneem, wat die leerder rooi laat sien het.

Wesh TV berig dat die tiener ʼn “leerder met spesiale behoeftes” is.  Hy is glo sowat twee meter lank en weeg 120 kg – heelwat groter as die skraal assistent. Sy is glo spesifiek aangestel met doel om leerders by te staan wat spesiale leerprogramme volg.

Polisiehoof Rick Staly het aan Wesh TV gesê dat die voorval maklik in moord kon ontaard het.

Luidens ʼn berig op Daily Mail het die leerder glo voor die aanval aan ʼn ander leerder gesê dat hy die assistent “gaan doodmaak” omdat sy sy speletjie gevat het.

Volgens USA Today het die tiener ook aggressief geraak toe polisiebeamptes op die toneel nie aan hom ʼn antwoord kon verskaf oor wat volgende met hom gaan gebeur nie. Hy het glo ʼn tafel en rekenaarstelsel geskop.

Luidens dié berig het hy ook na die slagoffer gespoeg terwyl nooddienswerkers haar behandel en polisiebeamptes hom in boeie van die toneel verwyder het.

Sy is na afloop van die aanranding in die hospitaal opgeneem, maar is intussen weer ontslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Eugene ·

Dis orals. Wereld wyd. Sulke leerders moet van alle skole en kolleges lewenslank geskors word.

Republikein in die Wes Kaap ·

Jy gee so ‘n leerder al die speelgoed wat hy wil hê. Dan sit jy hom in ‘n kamer weg van ander mense waar hy heeldag kan speel tot tjaila tyd.

Elize ·

Ek oorhandig hom aan die owerhede om te hou en self verder deur die lewe te help

Julian ·

ek het daai video gesien en is geskok hoe slapgat daai mans is,die een kruip skoon agter n vrou weg en die ander een kom stadig aangestap en sit eers rustig iets op die tafel neer voor hy help…pateties

Onnie ·

Meeste van hulle lyk nie “fiks” genoeg om te kan help nie… self die onderwyseresse wat so vinnig daar verby loop.

Dirk ·

Want in Amerika kan jy hoef toe gevat word vir enige iets. So mense kies eerder om nie hulp te gee nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dan word die mans van kindermishandeling aangekla.

miraclealigner ·

Sulke goed maak mens se bloed kook. Die ou wat heel rustig aangestap kom sowel as die aanrander self. As dit ek was sou ek nie so kalm aangestap kom nie….

Lillian ·

Nog ‘n bewys van hoekom lyfstraf nie afgeskaf behoort te word nie.

Chris ·

Indien dit omgekeer was sou dit as ‘n rasse voorval beskryf gewees het en op elke TV in die wereld verskyn het. Jammer dat mens sulke onreg moet aanskou en niemand wys dit uit nie. Die feit dat ‘n vrou die slagoffer was van die lafhartige aanval kry ook nie baie melding nie. Hoop die dame herstel vinnig.

Elize ·

Genugtig geen wonder niemand van die mans wou help nie want hulle is net te stewig gebou. Het nie die spoed of moed om iets te doen nie. Welgedaan aan die een man wat wel so vinnig die gemors vasgehou het en al die vrouens wat dit gedoen het. Wat het geword van selfrespek oor jou voorkoms en gewig?

JM ·

God en Sy gebod geld mos nie meer nie. Behoorlike opvoeding is by die venster uit.

Gerrie ·

Hulle moet sy ouers ook toesluit. Die probleem het sekerlik al by die huis begin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.