Leeubevolking in Uganda daal drasties

(Foto: Jimmy du Plessis)

Die ministerie van toerisme en natuurlewe in Uganda het Dinsdag bevestig dat die land se leeubevolking in die afgelope 20 jaar met altesame 45% afgeneem het.

Dié land in Oos-Afrika is bekend as een van die wêreld se rykste biodiversiteite.

Volgens Tom Butime, die minister van toerisme, word die daling in die land se leeugetalle hoofsaaklik aan “toenemende konflik tussen mens en dier in die natuur” toegeskryf.

Hy het tydens die vrystelling van sy toerismeverslag aangekondig dat die leeubevolking van 493 tot ʼn skamele 275 gekrimp het, en dat “” as die hoofoorsaak dien.

Butime het ook gesê dat hy verheug is dat sommige ander spesies, waaronder gorillas, se bevolking aansienlik toegeneem het. Ongeveer 459 gorillas – van 302 in die vroeë 2000’s – loop nou in Uganda rond.

Uganda se olifantbevolking het ook oor die afgelope paar dekades byna viervoudig toegeneem en die getal olifante staan nou op byna 8 000.

In dieselfde tydperk het die aantal kameelperde sesvoudig toegeneem en die aantal buffels byna verdubbel.

Die meeste van die land se leeus, ongeveer 224, woon in die Murchison-watervalpark. Die leeubevolking in die Koningin Elizabeth Nasionale Park het egter tot ʼn skamele 39 gekrimp, waar die leeus vir hul boomklimvermoë bekend is.

Dié afname volg op verskeie oënskynlike vergiftigingsgevalle. Nege leeus is in 2022 vergiftig, ses in 2021 en 11 in 2018.

Hoewel beesboere – wat aanvalle op hul vee wil beperk – en stropers vermoedelik vir die daling in leeugetalle verantwoordelik is, het ondersoeke na die skuldiges geen resultate opgelewer nie.

Vier stropers is in 2021 in hegtenis geneem ná vier leeus se koppe en liggaamsdele saam met bottels gifstowwe, spiese, ʼn kapmes en ʼn jagnet ontdek is.

Die regering het verlede jaar in ʼn verslag oor die daling in leeu- en sjimpansee-getalle gewaarsku.

Volgens die ministerie van finansies is nasionale parke ʼn belangrike dryfveer vir toerisme in Uganda, wat verantwoordelik is vir 7,6% van die bruto binnelandse produk (BBP).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.