Legendariese Amerikaanse ‘oudio-ingenieur’, Steve Albini, sterf

Steve Albini (Eric Alper/X)

Die Amerikaanse oudio-ingenieur, musikant en vervaardiger, Steve Albini, wat bekendheid vir sy werk met gewilde name in die musiekbedryf, soos Nirvana, Pixies en PJ Harvey, verwerf het, is in die ouderdom van 61 dood.

Werkgewers by sy maatskappy, Electrical Audio Recording, het die nuus dat Albini laat Dinsdagaand onverwags aan ʼn hartaanval oorlede is Woensdagoggend bevestig.

Albini was ʼn Amerikaanse musikant, vervaardiger, oudio-ingenieur en musiekverslaggewer.

Hy het egter die titel “oudio-ingenieur” bo “vervaardiger” verkies en het veral bekendheid verwerf vir sy rol in die skep van Nirvana se derde en laaste ateljee-album, In Utero, wat in 1993 vrygestel is.

Albini het regdeur sy loopbaan ʼn prominente figuur in die Amerikaanse musiekbedryf gebly en het verskeie musiekgroepe gedurende sy loopbaan gevorm, insluitend sy mees onlangse groep, Shellac.

Steve Albini (Elijah Wood/X)

Duisende huldeblyke het die afgelope twee dae op sosiale media vir dié kunstenaar ingestroom.

Onder die huldeblyke het Pixies ʼn foto van hom op X geplaas, met die onderskrif “Rus in vrede, Steve Albini”.

Die bekende ateljee in Engeland, Abbey Road Studios, skryf in ʼn plasing op X dat hulle altyd spyt sal wees dat hulle nie sy werksaansoek aanvaar het nie.

“Jy was ʼn legende, rus in vrede.”

Elijah Wood, die Amerikaase akteur en filmvervaardiger, veral bekend vir sy rol as Frodo in The Lord of the Rings, sê dit is ʼn hartverskeurende verlies in die musiekbedryf.

“Liefde aan sy familie en ontelbare kollegas.

“Vaarwel, Steve Albini.”

Die rock-groep, theBreeders, skryf ook in ʼn plasing op X dat hul harte in stukke is oor die skielike heengaan van Albini.

“Jy het nuwe wêrelde met jou musiek gebou, niemand kon enigiets so goed soos jy laat klink nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jacques ·

Nou al so paar opskrifte in die hoofstroom media gelees dat die styging in kanker, hartaanvalle en stilgeboorts te danke is aan klimaatsverandering. Wonder hoe hulle die kloutjie by die oor uitbring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.