Man aangekla oor vreemde naaldaanvalle

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

’n 20-jarige man van Frankryk is Sondag in hegtenis geneem in verband met ‘n vlaag geheimsinnige naaldaanvalle wat sedert die begin van die jaar begin kop uitsteek het.

Dit volg nadat sowat 20 mense Vrydagaand naaldbeserings aangemeld het tydens die verfilming van ‘n Franse televisieprogram, genaamd The Song of the Year, in Toulon, in die suide van Frankryk.

Die polisie is ontbied ná paniek in die skare uitgebreek het weens berigte oor die naaldaanvalle wat die rondte gedoen het.

Een vrou is in die hospitaal opgeneem.

Die verdagte is geïdentifiseer deur twee vroue wat gesê het dat hy probeer het om hulle met ’n naald aan te rand.

Hy word aangekla van gewapende geweld met voorbedagte rade.

Die verdagte ontken die bewerings ten sterkste.

Die staatsaanklaer van Toulon, Samuel Finielz, sê gegewe verklariings vanaf getuies, glo hy daar is voldoende bewyse om ‘n saak te open en hom formeel in ’n hof aan te kla.

Sedert die begin van die jaar is minstens 100 voorvalle aangemeld van jong mense wat naaldbeserings by nagklubs en feeste opgedoen het. Die aanvalle het histerie onder jongmense laat ontstaan.

Die meeste slagoffers was jong vroue.

Nuwe beserings

Nuwe aanvalle is die naweek by twee musiekfeeste aangemeld.

Ses klagtes van tieners, tussen die ouderdomme van 17 en 18, is by ‘n fees in Belfort, in die ooste van Frankryk, ontvang nadat hulle skielike skerp pyn in hul hande of arms ervaar het.

Nog sewe mense het naaldbeserings by ‘n fees in Vic-Fezensac, in die suidweste van Frankryk, aangemeld, waarna die polisie ‘n man in hegtenis geneem het.

Die slagoffers het identiese simptome aangemeld, waaronder naarheid, duiseligheid en ’n skerp pyn. Almal getuig dat hulle eers later ’n naaldprik op hul vel opgemerk het.

Gevalle is oral in die land aangemeld vanaf die westelike stede, Nantes en Rennes, tot by die suidelike en Atlantiese kus asook die Franse Alpe.

Owerhede raai alle slagoffers aan om bloedtoetse te ondergaan en sommige het voorkomende behandeling vir MIV en hepatitis gekry. Dit lyk egter nie asof slagoffers met giftige stowwe of dwelms ingespuit is nie.

Die polisie het gesukkel om die skuldige(s) te identifiseer of presies te bepaal wat gebruik word, hetsy ‘n spuit of ‘n eenvoudige pen.

Nagklub-eienaars begin ook die impak van die aanvalle op hul inkomste voel, slegs maande ná die opheffing van Covid-19-beperkings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Henri ·

Dis ‘n eienaardige storie.

Klink soos Jack The Ripper se slegte neef Vincent The Vaxxer.

Faraway ·

Dit gaan wees soos in die dae van Noag. . .voordat die SEUN van GOD gaan kom!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.