Man in Nieu-Seeland aangekla van moord op rugsakreisiger

Grace Millane (Foto: Grace Millane/Facebook)

Die polisie in Nieu-Seeland, wat na die vermiste Britse rugsakreisiger Grace Millane op soek was, het Sondag op ʼn liggaam afgekom.

Alhoewel die liggaam nog nie formeel uitgeken is nie, word daar aangeneem dit is die vermiste toeris, het speurderinspekteur Scott Beard aan verslaggewers gesê. “Dit bring die soektog na Grace tot ʼn einde, en dit is ʼn ondraaglike tyd vir die Millane-familie. Ons innige meegevoel aan hulle.”

ʼn 26-jarige man sal Maandag in die Auckland-distrikshof verskyn in verband met Millane se moord. Die man is gesien toe hy op 1 Desember saam met die jong toeris ʼn hotel in Auckland betree het. Dit is die laaste keer wat sy lewend gesien is.

Die polisie glo haar liggaam is na ʼn huurmotor verskuif en dit is later in Taupo, ongeveer 275 km suid van Auckland, gevind.

Beard het gesê hy weet nie of Millane, wat twee weke gelede in Nieu-Seeland aangekom het, die man vantevore geken het en kan nie spekuleer hoe hulle ontmoet het nie.

Haar pa, Britse eiendomsontwikkelaar David Millane, het Vrydag in Auckland aangekom en tydens ʼn perskonferensie emosioneel vir inligting gepleit om sy “liefdevolle, vriendelike dogter” te vind. Hy het gesê sy dogter was besig met ʼn een jaar lange oorsese reis. Sy het in Suid-Amerika begin en het uitgesien na die tweede deel van haar reis na Nieu-Seeland. “Sy het op 20 November hier aangekom en verskeie foto’s vir ons aangestuur met boodskappe oor haar avonture.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Elvira ·

Innige innige simpatie vir hierdie familie. Ai die drek van die aarde is orals. Hoop net nie syt hom op sosiale media leer ken en toe daar ontmoet nie. Sooo bly hy is gearresteer.

Ballon ·

Hartseer nuus. Gehoop hulle spoor haar iewers op. Dit klink altyd vir my vreemd as jong mense veral meisies alleen toer. (Al is dit in veiliger lande) omdat ek so gewoond is daaraan om.aan my kinders te klou. Moet die heeltyd kyk waar hulle is. Baie sterkte aan die familie. Ek kan nie verstaan hoekom mense so wil moor die heeltyd nie. (Wonder soms of dit dalk invloed van geweldadige flieks en rekenaar speletjies kan wees).

Sam ·

@ballon. Ek ht ook al gewonder, maar tog is daar al moordenaars van tye lank voor tv en speletjies. Ek dink tog daar is ‘n ander,dieper afwyking/versteuring en dat iemand wat dan reeds so ‘n versteuring ht,deur blootstelling aan hierdie speletjies vererger word, maar ‘n ander persoon,sonder versyeuring, verstaan die verskil tussen speletjie/realiteit, reg/verkeerd ens. Ek voel nie dat die speletjie self die blaam kan dra. Baie meer mense speel dit,maar net ‘n klein persentasie moor. Maar dis ‘n baie interissante onderwerp. Dis tragies.
Aan die familie:ek is so innig jammer vir jul verlies.

Dienkie ·

@ Ballon, ek is geneig om met jou saam te stem dat die geweld op TV moontlik ‘n invloed op mense se gedrag kan he.

Simpatie en sterkte aan hierdie gesin.

Karolis ·

Gee een goeie rede waarom sy alleen die wye wereld moes aanpak.
Ek kan miljoene redes gee waarom sy dit nie moes doen nie.
David klink volgens my nie baie vaderlik slim nie.

Sonja ·

Karolis, ek stem, sal ook nooit dat my kind so iets doen nie, maar in ander lande besef hulle nie die gevare in die wêreld of in sekere lande nie. Soms stem die ouers ook nie saam met die kinders se keuses nie, maar wat kan mens doen. As hulle oor 18 is kan mens amper niks meer sê of doen om hulle te keer nie. In sommige lande word oor 16 as volwasse gesien en het die ouers geen sê meer nie. Jy kan probeer keer, maar tog kan hul maar doen wat hulle wil. Baie kinders in ander lande doen dit. Jy kry baie backpackers in Aus in NZ en daar is selfs plekke net vir backpackers om oor te slaap. Dis n algemene ding vir jong mense om te doen, maar wys om dit te doen is dit beslis nie meer nie. Selfs in Aus is daar al backpackers vermoor. Jy kry moordenaars, verkragters en al sulke slegte mense oral.

La La Land ·

Daar is beslis een manier om hul te keer – deur te weier om die ekspedisie finansiëel te ondersteun. Toe ek 18 was het my ouers twee keuses aan my voorgelê – of jy gaan studeer en ons sal jou ondersteun of, vir enige ander droom wat nie verder studeer behels nie, sal jy gaan werk om self daardie droom te finansier. n Jaar breuk vat en toer was toe nie eens vir my n opsie toe ek begin somme maak van hoe ek gaan moet spaar en hoe lank dit gaan neem nie – en my liewe ouers het my mooi laat verstaan “sussie, as jy R 5000 n maand nou gaan verdien dan gaan jy nie R 5000 spaar nie – jy kan aanbly in die huis maar jy gaan R 1500 huur betaal en R 1500 kos as jy saam ons wil eet… Met R 2000 oor moet jy maar self sien kom klaar werk toe en terug sussie”…

attie ·

50mense word hier elke dag vermoor maar dis wereld nuus as so iets in nz gebeur

Wiena ·

Attie, jy is reg. n Mens verwag nie dat so iets in die pragtige, rustige NZ gebeur nie. As ouer sou ek baie meer bekommerd gewees het met n kind wat deur Suid-Amerika toer. Dit moet des te meer vir die ouers n geweldige skok en hartseer wees. Ongelukkig is mens deesdae nêrens meer 100% veilig nie.

wolla ·

La La Land – Jou ouers help jou nie juis nie, baie terleurstellend van hulle sou ek dink. Lyk amper asof hulle jou so gou moontlik wil uitskop.

Joubert ·

La La, n beter keuse sou wees om n jaar af te vat en na die tyd net met n ryk man te trou.

La La Land ·

Wolla miskien is dit die persepsie wat jy skep en natuurlik wou my ouers my so gou moontlik regkry vir hierdie harde onregverdige wêreld… Vandag 15 jaar later is ek suksesvol deur harde werk en geniet so te sê jaarliks lang vakansies in Switzerland. Vandag leef ek my droom van wêreld toer op my eie inkomste met baie meer wysheid as n 18 jarige dame vars uit Hoërskool… Ek sê dankie vir ouers wat my nie opgepiep het nie.

Kopskud ·

Dit is so betreurenswaardig, maar dit kon mos ook voorspel geword het. Meeste mense dink sulke verkriklikhede kom net in SA voor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.