Man ploeg deur skare ná stryery met ma

Die owerhede en omstanders op die toneel waar Adrian Oswaldo Sura Reyes met sy motor deur ‘n skare geploeg het. (Foto: Twitter)

Een persoon is dood en 17 ander beseer toe ’n man met oënskynlike opset deur ’n skare in die Amerikaanse deelstaat Pennsilvanië geploeg het. Die jong man het van die toneel gevlug en kort daarna sy ma met dieselfde motor gestamp en met ’n hamer aangeval.

Sy ma het nie die aanval oorleef nie.

CBS News berig die 24-jarige Adrian Oswaldo Sura Reyes het aan speurders van die polisie gesê dat hy en sy ma vóór die noodlottige voorvalle ’n woordewisseling gehad het.

Sura Reyes en sy ma, Rosa, was Saterdag by sy ouerhuis in Nescopeck in ’n argument betrokke voordat hy na die naburige Berwick is waar hy om 18:12 in ’n Honda Accord op ’n groep mense in die parkeerterrein van ’n kroeg afgepeil het.

Die kroeg het ten tyde van die voorval ’n fondsinsameling aangebied ten bate van die gesinne van 10 mense, onder wie drie kinders, wat verlede week in ’n huisbrand in Nescopeck omgekom het.

Daar was ongeveer 75 mense in die parkeerterrein toe Sura Reyes met sy motor deur die skare geploeg het.

Rebecca Reese is tydens die voorval dood nadat die motor haar getref en ’n ent verder gesleep het. Minstens vyf van die 17 beseerdes is in ’n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem.

Reyes het intussen aan speurders erken dat hy ná die voorval in Berwick terug huis toe is waar hy sy ma in die straat sien staan het. Hy het haar omgery voordat hy ’n hamer uit die Honda gehaal en haar daarmee bygedam het.

Reyes is met polisiebeamptes se aankoms op die toneel in hegtenis geneem en sedertdien borgtog geweier.

Die polisie in Pennsilvanië het intussen bevestig dat Sura Reyes nie ’n verdagte in hul ondersoek na die huisbrand in Nescopeck is nie, berig USA Today.

Die eerste begrafnisse vir slagoffers van die brand is Vrydag gehou. Nog slagoffers sou Sondag en Maandag ter ruste gelê word.

“Vandag was ’n absolute tragedie,” het die kroeg in Berwick Saterdagaand in ’n inskrywing op Facebook gesê.

Die kroeg het voorts gevra dat personeellede se privaatheid gerespekteer word terwyl hulle probeer sin maak van Saterdag se gebeure.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hasie ·

Net nog ‘ n geval waaar jongman dink hy is onaantasbaar ,want mamma hoef nie gerespekteer te word nie.Hy is die een wat niks verkeerd Kon doen nie en mamma het als toegelaat …..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.