Man vas 30 jaar ná moord op 8-jarige

April Tinsley

John Miller (59) is Sondag in hegtenis geneem in verband met die moord op die agtjarige April Tinsley in 1988.

April is op 1 April 1988 ontvoer terwyl sy na ʼn maatjie se huis gestap het in Fort Wayne, Indiana, in die VSA. Haar liggaam is drie dae later sowat 32 km van waar sy vermis geraak het in ʼn sloot gevind. Sy is seksueel aangerand en verwurg.

BBC berig Miller word deur DNS-bewyse aan die moord verbind. Polisiebeamptes is Sondag na Miller se huis. Hulle het glo aan hom gevra of hy weet hoekom die polisie na hom soek, waarop hy geantwoord het: “April Tinsley.”

Miller het intussen in die hof verskyn op aanklag van ontvoering, verkragting en moord. Hy bly in aanhouding tot sy volgende verskyning.

Miller het glo aan die polisie erken dat hy April vermoor het en dat hy oor die jare briewe aan die polisie geskryf het waarin hy gedreig het om nog meisies te vermoor.

John Miller.

Die polisie het volgens berigte gebruikte kondome wat in Miller se vullis gevind is gebruik om sy DNS positief te verbind aan die DNS wat op April se onderklere gevind is.

In 1990, twee jaar ná die moord op April, het die polisie ʼn boodskap op die muur van ʼn skuur gevind naby aan waar April se liggaam gevind is. “I kill eight-year-old April Marie Tisley [sic] I will kill agin [sic]” het op die muur gestaan.

In 2004 het die moordenaar ook glo briewe op verskillende plekke gelos, soos op klein dogtertjies se fietse, waarin hy gedreig het om nog moorde te pleeg.

Die polisie het die DNS-bewyse en inligting op stamboomwebblaaie gebruik en vergelyk wat die soektog na April se moordenaar na Miller en sy broer vernou het. Polisiebeamptes het Miller se bewegings begin dophou en drie kondome uit sy vullis verwyder en vir toetse gestuur.

Die toetse was positief en polisiebeamptes is na sy huis waar hy in hegtenis geneem is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JJ ·

Ek is amper seker hy het nog gemoor. Dis vir my weereens ‘n bewys sulke mense kan nie genees word nie en moet liewer uit die samelewing verwyder word vir altyd!

Ex speurder Katryn ·

En dit het hulle 30 jaar geneem om hom te arresteer? Lyk eerder of hy oor die jare boodskappe uitgestuur het om hom te vind en hulle wou nie hard genoeg soek nie. Rus in vrede liewe April wie in April vermoor is…

My mening ·

Sjoe, in sekere gevalle in SA soek hul NIE eers die moordenaars nie!

SeNet ·

Dit gebeur ook net in die VSA!! Om na 30 jaar verbeterde tegnologie te gebruik om ‘n moordenaar op te spoor is puik! Ten minste kan haar familie berusting vind ons wag nou-al 16 jaar vir antwoorde. Al die waarom’s, hoekom’s en wat gebeur het gaan nooit weg!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.