Mans vas wat KFC in Auckland probeer smokkel

Argieffoto (Foto: KFC, Facebook)

Die polisie in Auckland, Nieu-Seeland, het twee mans vasgetrek nadat hulle probeer het om ’n kattebak vol KFC en sowat NZ$100 000 die stad in te smokkel.

BBC berig die mans word daarvan aangekla dat hulle die land se streng Covid-19-regulasies oortree het.

Auckland is tans onder streng vlak 4-inperking – alle restaurante, ook wegneemdienste, is tydelik gesluit.

Volgens die polisie het die mans, onderskeidelik 23 en 30 jaar oud, van Hamilton af gekom, ongeveer 120 km suid van Auckland.

Volgens ’n polisiewoordvoerder het die polisie die mans in ’n verdagte voertuig op ’n grondpad aan die buitewyke van die stad opgemerk.

“Toe die mans die polisiemotor sien, het hulle ’n U-draai gemaak en probeer om van die polisie te vlug,” het die woordvoerder gesê.

“Die polisie het die motor voorgekeer voordat hulle kon wegkom. Hulle het die motor deursoek en sowat NZ$100 000 (R1 043 402) en KFC in die kattebak gevind.”

Volgens die polisie se foto’s is minstens drie emmers vol KFC-hoender, ongeveer 10 houers koolslaai, ’n groot pak skyfies en vier groot sakke met ander KFC-items gevind.

Dit is in hierdie stadium nie duidelik of die mans van plan was om die kos te verkoop of om dit as ’n afleiding te gebruik indien hulle afgetrek sou word nie.

Die mans sal later in die jaar in die hof verskyn vir die oortreding van openbare gesondheidsregulasies. Bykomende klagtes kan moontlik bygevoeg word.

Oortreders van Covid-19-regulasies in Nieu-Seeland kan deur erge straf in die gesig gestaar word – van boetes van NZ$4 000 tot selfs ses maande tronkstraf.

Auckland sal Dinsdag vanaf middernag na vlak 3 van inperking oorgaan.

CNN berig Nieu-Seeland het tans sowat 4 800 bevestigde Covid-19-gevalle en 27 sterftes aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Barney ·

Die nuwe Wêreld Orde het ons mos ook geblok van warm hoenders en plakkies koop. Belaglik. Gaan weer gebeur. Hou die toneel dop. Julle almal dink dis verby. Dit is slegs die begin.

Suzette ·

Nee Barney ons weet dis nie verby nie. Niks gaan in anyway ooit weer dieselfde wees nie.

Friedrich ·

Ag asseblief. Volg dan vir ou Japie van Zyl ebn sy sekte.

Cecilia ·

As dot nou in SA was. Het d SAPS beslag gele op d kos en d ouens laat gaan terwyl hulle (SAPS LEDE) ltr lekker smul aan d kos

Fritz ·

Jy moet regtig desperaat wees om daar te wil gaan bly. En dan nog in daai goor weer ook. En n piepklein huisie.

VaalDonkie ·

Is waar. Afgesien van die lae misdaadkoers is daar weinig aan New Zealand waarin ek belangstel.

Misky ·

Ek sal my voortande gee om daar te kan gaan bly. Eerste ding wat my opval is dat dit so skoon is en misdaad is baie laag. Daar is ‘n toekoms vir kinders en soveel mooi toeriste atraksies. Ek sal dit love!!!!!

fransdutoit3 ·

Onder die regte leiding hier in SA sou hulle geslaag het.. ????

Karina ·

Lekker lag! Hul families was net lus vir bietjie lekker Kentucky!

VaalDonkie ·

Mense is honger en hulle rekeninge hoop op. Maar daai vrou met die tande dink sy is “stunning and brave” deur hulle lewens te verwoes. Ek vrek eerder aan COVID voordat ek van honger omkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.