Margaret Thatcher-standbeeld eers met eiers, nou verf gegooi

Dié bronsbeeld van Margaret Thatcher is verlede maand in haar tuisdorp in St. Peters Hill, Gratham, opgerig. (Foto: Paul Ellis / AFP)

Britse owerhede het kringtelevisiebeeldmateriaal vrygestel om die skuldiges vas te trek wat ʼn nuwe standbeeld van die voormalige premier, Margaret Thatcher, met verf gegooi het.

Die beeld is verlede maand in Thatcher se tuisdorp in St. Peters Hill, Gratham, opgerig waar sy in 1925 gebore is. Veiligheidskameras is vroeër by dié terrein aangebring nadat betogers dit kort ná die oprigting daarvan met eiers gegooi het.

Die standbeeld is beskadig nadat rooi verf verlede week daarop uitgegooi is. (Foto: Twitter)

Die beeld, wat aanvanklik vir die Parlementsplein in Westminster bestem was, is juis bo-op ʼn drie meter hoë voetstuk geplaas om dit te beskerm. Dit het vandale egter nie afgeskrik nie.

BBC berig dat die oppervlak van die standbeeld beskadig is nadat rooi verf verlede week daarop uitgegooi is.

Owerhede hoop nou dat mense die verdagtes aan hul kenmerkende kleredrag, bouvorm en die manier waarop hulle loop, sal uitken. Albei was in donker klere geklee en hul gesigte bedek. Hier en daar kan kentekens, soos ʼn Nike-handelsmerk, egter op hul kleredrag uitgeken word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.