Mars van die mummies: Egipte se goue parade

Die goue parade deur Kaïro (Foto: Ministry of Tourism and Antiquities/Facebook)

Die gemummifiseerde oorskot van 22 antieke konings en koninginne van Egipte is Saterdag tydens ʼn uitspattige koninklike optog deur die strate van Kaïro na hul nuwe rusplek vervoer.

Die 18 konings en vier koninginne is elkeen afsonderlik in ʼn spesiale “strydwa”, met die oudste heel voor, tydens die sogenaamde “goue parade van die farao’s” vervoer. Elke strydwa is versier in die antieke Egiptiese styl.

Hulle is van hul dekades lange verblyf by die Egiptiese Museum in sentraal Kaïro vervoer na die Nasionale Museum van Egiptiese Beskawing. Die nuwe museum, in die suide van die hoofstad, het in 2017 sy deure oopgemaak met ʼn beperkte hoeveelheid uitstallings, maar het Sondag ten volle oopgemaak. Die mummies-uitstalling sal van 18 April vanjaar te sien wees.

Salima Ikram, professor van Egiptologie aan die Amerikaanse Universiteit in Kaïro, het gesê met die mummies se aankoms by die museum sal hulle aanvanklik in “effens opgegradeerde kiste” geplaas word. “Die temperatuur- en humiditeitbeheer sal selfs nog beter wees as wat dit was by die ou museum,” het Ikram bygevoeg. Hy is ʼn spesialis in mummifisering.

Die naam van elke koninklike is op die voorkant van die goudkleurige strydwaens aangebring en die strydwaens is toegerus met skokbrekers vir die 40 minuut lange reis deur Kaïro, om seker te maak dat die kosbare vrag nie per ongeluk versteur word oor ongelyke oppervlaktes nie.

Die mummies is voor die optog in spesiale houers, gevul met stikstof, geplaas onder toestande wat soortgelyk is aan hul gewone uitstallingskiste.

Seqenenre Tao II, “die dappere”, wat sowat 1 600 voor Christus oor suidelike Egipte regeer het, was in die eerste strydwa. Ramses IX, wat in die 12de eeu voor Christus regeer het, was in die laaste strydwa.

Ramses II en koningin Hatsjepsoet, die magtigste vroulike farao, het ook aan die reis deelgeneem.

Die optog het onder die waaksame oog van sekuriteitsmagte plaasgevind. Musikante en kunstenaars van Egipte het tydens die seremonie opgetree wat regstreeks op staatsmedia uitgesaai is.

Die Egiptiese Museum was al sedert die vroeë 1900’s die tuiste vir meeste van die 22 mummies. Van die 1950’s was hulle in ʼn klein kamer, langs mekaar, te sien. By hul nuwe tuiste sal hulle elkeen individueel uitgestal word, elkeen langs ʼn sarkofaag, en in sommige gevalle ʼn standbeeld.

“Die mummies sal vir die eerste keer op ʼn mooi manier uitgestal word – vir opvoedingsdoeleindes, en nie vir sensasie nie,” het nog ʼn Egiptoloog, Zahi Hawass, aan AFP gesê.

Die land sal oor die volgende paar maande na verwagting nóg ʼn nuwe fasiliteit inwy – die Groot Egiptiese Museum, naby die Giza-piramides. Dit sal ook verskeie farao-versamelings huisves, insluitend die gevierde skatte van Toetankamen. Die graf van die jong heerser, wat vir ʼn kort rukkie in die 14de eeu voor Christus geheers het, is in 1922 gevind. Dit het skatte van goud en ivoor bevat.

ʼn Sogenaamde “vloek van die farao” het aan die lig gekom ná Toetankamen in 1922-23 opgegrawe is. ʼn Sleutel-finansier van die Britse opgrawing, Lord Carnarvon, het maande ná die graf oopgemaak is, aan bloedvergiftiging gesterf. ʼn Vroeë besoeker het onverwags in 1923 gesterf.

Sommige gebruikers het op sosiale media gespekuleer dat verskeie rampe wat Egipte onlangs getref het, ʼn teken is dat die mummies se versteuring hulle tot vloeke uitgelok het. ʼn Dodelike spoorwegongeluk het onlangs plaasgevind en ʼn gebou het in Kaïro ineengestort. Die reusehouerskip MV Ever Given het ook die Suezkanaal vir byna ʼn week lank versper.

Hawass en Ikram hou vol daar is nie enige verband tussen die mummies se parade en onlangse gebeure nie. “Jy weet almal hou van só storie,” het Ikram gesê. “Dit maak dinge baie meer dramaties.”

Hier is ʼn video met die hoogtepunte:

En hier is die volledige uitsending:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elize ·

Nou gaan daar seker hier ook so parade gehou word vir “our people” se voorvaders. Wonder waar gaan hulle herbegrawe word?

Stofdonkie ·

Seker by die uniegebou of by die voortrekker monument sodat hulle die monument kan onteien en dan omskep in ‘n klipgooiersmonument.

annie ·

So reg tydens wanneer Paasfees deur Christene en Jode gevier word, hierdie vertoon. Natuurlik moes SA se ANC ook ‘n grootse mommy se nagedagtes op Goeie Vrydag vier, Winnie Mandela, en klomp plekke wat na haar vernoem is, bekend word. En so beweeg ons back to the future. Binnekort kry ons die grooot beeld vir aanbidding…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.