Mediamagnaat Murdoch trou op 92 vir die vyfde keer

Rupert Murdoch (Februarie 2015) (foto: Adrian Sanchez-Gonzalez/AFP)

Rupert Murdoch, mediamagnaat, sal vir die vyfde keer afhaak – in die ouderdom van 92 jaar. Hy het die Maandag in ʼn onderhoud met sy eie koerant, die New York Post, bevestig.

Murdoch is verloof aan Ann Lesley Smith, ʼn 66-jarige voormalige polisiekapelaan in San Francisco en weduwee van die Amerikaans countrysanger Chester Smith.

“Ek was op my senuwees. Ek hou nie daarvan om op iemand verlief te raak nie, maar ek het geweet hierdie sal my laaste wees. Dit beter my laaste wees!” het hy aan die koerant gesê. “Ek is gelukkig.”

Murdoch het verlede jaar, ná ses jaar van getroude lewe, van sy vierde vrou, model Jerry Hall, geskei.

Murdoch, oorspronklik van Australië, se mediaryk sluit die Wall Street Journal, Fox News en ander invloedryke media in. Sy waarde beloop meer as $20 miljard, aldus Forbes.

Murdoch het sy nuwe verloofde verlede jaar by ʼn geleentheid, wat hy by sy wingerd in Kalifornië aangebied het, ontmoet. Die twee het gou besluit om “die tweede helfte van ons lewens saam te spandeer”.

“Dis nie my eerste rodeo nie. As mens 70 nader, is dit die laaste helfte van jou lewe,” het Smith bygevoeg. “Ek het vir die regte tyd gewag. Vriende is bly saam met my.”

Die twee sal in die somer trou en beplan om hul tyd te spandeer tussen die VSA en Engeland.

Murdoch, wat ses kinders het, was eers getroud met Patricia Booker, ʼn Australiese lugwaardin. Die twee het laat in die 1960’s geskei.

Hy was meer as 30 jaar lank getroud met sy tweede vrou, Anna, ʼn koerantverslaggewer. Hulle het in 1999 geskei. Sy derde huwelik met Wendi Deng het in 2013 tot ʼn einde gekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.