Meer as 100 sterf in Malawi, Mosambiek ná sikloon Freddy tref

Sikloon Freddy het groot verwoesting in Malawi gesaai. (Foto: Amos Gumulira / AFP)

Meer as 100 mense is in Malawi en Mosambiek dood nadat tropiese sikloon Freddy sy terugkeer na Suider-Afrika gemaak het.

Dr. Lazarus McCarthy Chakwera, Malawi se president, het sy kommer uitgespreek oor die verwoesting wat die tropiese sikloon reeds aan die meeste distrikte in dié land aangerig het. Hy het Maandag ʼn ramptoestand in die suidelike streek van Malawi afgekondig.

Sikloon Freddy, wat op koers is om die langste storm nóg te word, het die naweek vir die tweede keer binne ʼn paar weke deur Suider-Afrika getrek.

Malawi is die hardste getref en 99 sterftes is tot dusver aangeteken nadat modderstortings oornag oor huise en slapende inwoners gespoel het. Plaaslike owerhede in Mosambiek het 10 sterftes aangemeld en aangedui dat minstens 14 mense beseer is.

“Ons verwag dat die getal sal styg,” het Charles Kalemba, ʼn kommissaris by die departement van rampbestuursake in Malawi, op ʼn nuuskonferensie gesê.

Nog 134 mense is beseer en 16 is as vermis aangemeld.

Malawi se kommersiële hoofstad Blantyre het 85 van die 99 sterftes aangeteken.

Inwoners het hul kaal hande gebruik om deur die modder te grawe in die hoop om oorlewendes te vind.

Inwoners voer aan dat reddingswerkers van die regering te laat op die toneel opgedaag het.

“Die mense is oorweldig. Die situasie is baie moeilik,” het Honest Chirwa, ʼn ambulansbestuurder, gesê. Hy het ook gesê dat reddingswerkers nie voldoende toerusting het nie.

Meer as 11 000 mense is deur die storm geraak, het die Verenigde Nasies (VN) gesê.

Die uitwerking van die sikloon het verdere verwoestende gevolge veroorsaak vir ʼn land wat worstel met die dodelikste cholera-uitbreking in sy geskiedenis. Sowat 1 600 mense is sedert verlede jaar aan dié siekte dood.

“Erge weersomstandighede soos hierdie sal waarskynlik die verspreiding van waterdraende siektes soos cholera vererger,” het die VN-kinderagentskap Unicef gewaarsku.

Malawi het skole in tien suidelike distrikte beveel om tot Woensdag gesluit te bly, met reën en wind wat na verwagting die land se suide sal aanhou tref.

Die Mosambiekse Nasionale Instituut vir Rampbestuur het ook aangedui dat die storm erger is as wat owerhede verwag het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.