Michael Jordan-trui kan vir miljoene opgeveil word

Die ikoniese rooi Chicago Bulls-trui, met Jordan se nommer 23 agterop, is die tweede trui wat die ster tydens sy ses kampioenskappe gedra het om op ’n veiling verkoop te word (Foto: Sotheby’s/AFP)

’n Trui wat die basketballegende Michael Jordan tydens die eerste wedstryd van die 1998‑NBA-eindstryd, sy laaste titeloorwinning, gedra het, gaan in September vir tussen $3 miljoen en $5 miljoen (tussen R49 miljoen en R81 miljoen) opgeveil word.

Dit word geskat as die hoogste prys wat ooit vir ’n Jordan-item betaal sal word.

Jordan se wit-en-rooi Nike Air Ship-tekkies, wat hy in sy eerste seisoen by die Chicago Bulls in 1984 gedra het, is verlede jaar vir ’n rekordbedrag van $1,47 miljoen (amper R22 miljoen) by ’n veiling verkoop.

Hierdie basketbalster se unieke Nike-basketbaltekkies waarmee hy in 1985 gespeel het, is in 2020 vir $560 000 (R10,3 miljoen) opgeveil.

Die legendariese Michael Jordan. Foto: Twitter.

Die ikoniese rooi Chicago Bulls-trui, met Jordan se nommer 23 agterop, is die tweede trui wat die ster tydens sy ses kampioenskappe gedra het om op ’n veiling verkoop te word.

Die meeste van Jordan se NBA-eindstryd-truie bly in private besit, hoewel hy een aan die Smithsonian National Museum of African American History and Culture in Washington DC geskenk het.

Jordan, nou 59, het die grootste deel van sy basketballoopbaan vir die Chicago Bulls opgedraf, saam met wie hy al ses sy titels gewen het. Hy het in 2001 uitgetree.

Sy laaste seisoen by die Bulls is uiteengesit in die ESPN/Netflix-dokumentêr The Last Dance wat in 2020 vrygestel is.

“Die 1997-’98-seisoen is miskien een van die gewildste onder Jordan-aanhangers, aangesien hy die hoogtepunt van sy vermoëns bereik het terwyl hy terselfdertyd nagejaag het wat hy aangeneem het sy laaste kans op ’n NBA-kampioenskap met die Chicago Bulls sou wees,” sê Brahm Wachter, hoof van straatklere en moderne versamelstukke by die afslaers Sotheby’s, gesê.

Die trui sal eers in Monterey, Kalifornië, in die openbaar vertoon word voordat dit na New York verskeep word, waar aanhangers ook die kans sal kry om dit te besigtig tydens die aanlyn veiling wat van 6 tot 14 September sal plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Voilet ·

Die wereld raak mal en die mense vergaan van die honger. Wie soek nou n hemp wat eintlik niks werd is in prys nie. Seriously

Alta Alleman ·

Ek het ook n trui in my kas….stokoud….maar niemand wil hom eers koop vir R10 nie. :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.