Miljardêr-seksoortreder het wel selfmoord gepleeg

Jeffrey Epstein (28 Maart 2017) (Foto: New York-seksoortredersregister via AP, File)

Die hoofpatoloog het bevestig Jeffrey Epstein het wel sy eie lewe geneem ná hy dood aangetref is in sy tronksel.

Die 66-jarige Epstein is op 10 Augustus dood aangetref in sy sel by die Metropolitan-gevangenis in New York. Hy het homself gehang. Daar was vrae oor hoe hy sy eie lewe kon neem sonder dat bewaarders dit gesien het.

Epstein, wat skuldig bevind is op aanklag dat hy talle minderjarige meisies oor verskeie jare seksueel mishandel het, is onder selfmoordwaarneming geplaas nadat hy verlede maand, op 23 Julie, op die vloer van sy sel aangetref is met kneusmerke aan sy nek.

Talle persone wat vertroud is met bedrywighede in die tronk het egter gesê hy is ná ʼn week weer na ʼn hoëveiligheidbehuisingseenheid oorgeplaas waar hy nie deurgaans gemonitor is nie, maar na bewering moes bewaarders elke 30 minute ondersoek ingestel het.

William Barr, minister van justisie, het gesê beamptes het “ernstige onreëlmatighede” by die tronk onthul. Die FBI en die departement van justisie ondersoek Epstein se dood. Tronkbewaarders word daarvan verdink dat hulle die rekords vervals het om te wys dat hulle gevangenes elke 30 minute gemonitor het.

Sy dood het ʼn strafsaak kortgeknip wat heelwat meer lig kon werp op die binnekring van ʼn ambisieuse en skatryk verskansingsfondsbestuurder wat eens skouers geskuur het met talle bekendes van oudpres. Bill Clinton tot pres. Donald Trump en prins Andrew.

Epstein het glo minderjarige meisies betaal om hom by sy huise in Florida en New York masserings te gee waar hy hulle glo gemolesteer het. Die aanklagte teen hom hou verband met bewerings wat dateer uit die vroeë 2000’s.

Epstein se inhegtenisneming was te midde van ʼn hernude ondersoek na ʼn voorheen geheime pleitooreenkoms wat ʼn strafregtelike ondersoek teen hom beëindig het. Die ooreenkoms, wat nou in ʼn Florida-hof betwis word, het Epstein in staat gestel om in 2007 skuld te beken op ʼn minder ernstige aanklag van prostitusie.

Epstein se aansoek om borgtog is vroeër van die hand gewys en tronkstraf van tot 45 jaar – vir aanklagte van sekshandel en sameswering – het hom in die gesig gestaar. Hy het skuld ontken en was verhoorafwagtend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Zumie ·

‘n Patoloog maak net vindings rondom die fisiese oorsaak van dood en kan nie uit sy ondersoek op die liggaam enige verdere afleidings maak nie . Wanneer die totale omringende omstandighede in ag geneem word moet daar dan besluit word of dit ‘n selfmoord(hang) of verwurging (moord) was. Die omringende omstandighede is uiters verdag en ek hou ‘n groot knip sout byderhand. Epstein was ‘n gevaar vir baie belangrike persone as hy sou uitkom met getuienis oor hulle betrokkenheid.

Niklaas ·

Geen simpatie met hierdie kerel nadat al sy wandade bekend geraak het. Siek mens , as al daardie gerugte en vermoedens die waarheid is. Daar is sekerlik heelwat mense wat verlig is oor hierdie verwikkelinge.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.