Minstens 28 dood ná trein in Pakistan ontspoor

Spoorwegwerkers herstel die spore langs beskadigde waens ’n dag ná die ontsporing van ’n passasierstrein in NawabShah (Foto: Asif Hassan/AFP)

Minstens 28 mense is dood en talle beseer toe ’n sneltrein in die suide van Pakistan ontspoor het.

Die ongeluk het naby die Sahara-treinstasie naby die stad Nawabshah in die suidelike Sindh-provinsie plaasgevind. Agt treinwaens het ontspoor.

Treinongelukke en ontsporings kom gereeld voor weens die land se verouderde spoorwegstelsel, wat ’n spoorlyn van byna 7 500 km het en meer as 80 miljoen passasiers per jaar vervoer.

Khawaja Saad Rafique, minister van spoorweë, sê dat daar minstens 1 000 passasiers aan boord van die Hazara Express was toe dit ontspoor het op ’n gedeelte van die spoorlyn waar geen foute voorheen aangemeld is nie.

Volgens Rafique kon die ontsporing weens twee redes plaasgevind het: ’n meganiese fout of ’n fout wat weens sabotasie ontstaan het.

“Die departement gaan die oorsaak ondersoek,” bevestig hy.

Roubeklaers kom bymekaar tydens die begrafnis van ‘n wat tydens die treinongeluk in Pakistan omgekom het (Foto: Akram Shahid/AFP)

’n Noodtoestand is by die Nawabshah-traumasentrum afgekondig, met dokters wat sukkel om die dosyne beseerdes te behandel. Die beseerdes is in groot getalle per ambulanse en private motors na die sentrum gehaas.

’n Man het van agter uit ’n ambulans gespring en ’n kind vasgegryp, sy klere deurweek van bloed, terwyl ’n vrou van pyn gekreun het toe sy op ’n draagbaar in die sentrum gedra is.

“Ons weet nie wat gebeur het nie, ons het net binne gesit,” het een verdwaasde vrou gesê.

By die ongeluksterrein buite Nawabshah was daar tientalle motors, trekkers, riksjas en motorfietse wat geparkeer was op ’n pad wat langs die treinspoor loop.

Waens word deur hyskrane opgelig by die ongeluksterrein ná die ontsporing van die trein (Foto: Asif Hassan/AFP)

Vrywilligers het deur ’n kanaal wat die pad van die spoorlyn skei, geloop om die beseerdes te help.

Sommige passasierskompartemente was steeds regop, hoewel van die spoor af, terwyl ander op hul sy gelê het.

Senior polisiebeampte Younis Chandio het gesê sommige passasiers het in een wa vasgekeer gebly.

Ijaz Shah, ’n provinsiale spoorwegbeampte, het bevestig ’n noodledigingstrein is na die terrein gestuur.

Die Hazara Express is ’n daaglikse passasierstrein wat die hawestad Karachi in die suide verlaat en ongeveer 33 uur neem om Havelian in die Khyber Pakhtunkhwa-provinsie, sowat 1 600 km noord, te bereik.

In Junie 2021 het twee treine naby Daharki in Sindh gebots en minstens 65 mense was dood en sowat 150 ander beseer.

In daardie ongeluk het ’n sneltrein op die oorkantste spoor ontspoor, en ’n tweede passasierstrein het ongeveer ’n minuut later teen die wrak vasgery.

Minstens 75 passasiers het in Oktober 2019 doodgebrand toe ’n brand aan boord van die Tezgam-sneltrein uitgebreek het, terwyl ’n twee-treinbotsing by Ghotki meer as 100 lewens in 2005 geëis het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Charles ·

Dit is n tragedie, maar glad nie n skok nie. Kyk net hoe lyk die kondisie van hul treine en spore. Niks word onderhou nie. Maar vir een of ander rede is die “leiers” in sulke lande altyd skatryk. Hoe werk hierdie geldstelsel wat op die mensdom afgedwing was? Hoe kan agterlike lande se leiers altyd in weelde lewe?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.