Minstens 70 sterf in lugaanval op Jemen

ʼn Skermgreep uit ʼn video wys die verwoesting by ʼn tronk in Saada ná ʼn lugaanval (Foto: Ansarullah Media Center/AFP)

Minstens 70 mense is dood in ʼn lugaanval op ʼn tronk in Jemen waar die konflik Vrydag dramaties verhoog het. Antonio Guterres, hoof van die Verenigde Nasies, het die aanval veroordeel.

Die Hoeti-rebelle het grusame beeldmateriaal van die aanval vrygestel waar liggame in die puin opgemerk kan word. Geboue by die gevangenis in die noordelike stad Saada het inmekaargestort.

Die Saoedi-geleide militêre koalisie, wat al sedert 2015 teen die rebelle baklei, het Saterdag ʼn verklaring uitgereik en ontken dat hy die aanval geloods het.

Verder suid in die hawestad Hodeida is minstens drie kinders dood toe lugaanvalle deur die Saoedi-geleide koalisie ʼn telekommunikasie-fasiliteit getref het. Die kinders het naby die perseel op ʼn voetbalveld gespeel toe die missiele die geboue getref het, het die organisasie Save the Children gesê.

Jemen beleef ook ʼn landswye opskorting van internetdienste.

Agt hulporganisasies in Jemen het in ʼn gesamentlike verklaring hul skok uitgespreek oor die 70 sterftes wat migrante, vroue en kinders insluit. Volgens hulle is die tronk in Saada gebruik as ʼn hawe vir migrante.

Antony Blinken, die VSA se minister van buitelandse sake, het Vrydag versoek dat “alle partye wat by die konflik betrokke is, moet de-eskaleer” en “by die voorwaardes van internasionale humanitêre wetgewing” moet hou.

Die Verenigde Arabiese Emirate hou vol dat hy en ander koalisielede steeds toegewyd is tot ʼn “toepaslike” reaksie op Hoeti-aanvalle.

Guterres het gesê hy wil “alle partye daaraan herinner dat aanvalle wat teen burgerlikes en siviele infrastruktuur geloods word, verbied word deur internasionale humanitêre wetgewing”.

Reddingswerkers sê hospitale in Saada is oorweldig ná die aanval. Een hospitaal het 70 sterftes en 138 beseerde persone hanteer, aldus Dokters Sonder Grense. Talle beseerdes het ook by twee ander hospitale aangemeld. Daar is deurnag deur die puin na nog liggame gesoek. Volgens Ahmed Mahat, hoof van Dokters Sonder Grense in Jemen, sê talle persone word nog vermis. “Dis onmoontlik om te weet hoeveel mense gesterf het. Dit lyk soos ʼn verskriklike geweldsmisdaad.”

Die wêreldwye internetwaghond NetBlocks het ʼn “landswye ineenstorting van internetverbinding” aangemeld. AFP-korrespondente in Hodeida en Sanaa het die onderbreking bevestig.

Jemen se burgeroorlog het in 2014 begin toe die Hoeti-rebelle van hul basis in Saada na Sanaa opgeruk en dit oorval het. Saoedi-geleide magte moes ingryp om die regering die volgende jaar te ondersteun.

Die spanning loop die afgelope paar weke hoog ná die VAE-ondersteunde Reusebrigade die rebelle uit die Shabwa-provinsie gedwing het. Hul maande lange veldtog om die sleutelstad Marib, verder noord, in te neem, is hierdeur ondermyn. Die Hoeti-rebelle het op 3 Januarie ʼn VAE-skip in die Rooisee gekaap. Hulle het Maandag aanspreeklikheid aanvaar vir ʼn aanval op olie-aanlegte en die lughawe in Abu Dhabi waartydens twee Indiërs en ʼn man van Pakistan oorlede is. Ses ander mense is gewond.

Die koalisie het in reaksie hierop lugaanvalle teen die rebelle-geleide Sanaa geloods. Veertien mense is dood.

Jemen se burgeroorlog is katastrofies vir miljoene burgers wat uit hul huise moes vlug. Talle ly aan hongersnood. Die VN het dit as die wêreld se ergste humanitêre krisis beskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.