Motorwedren-legende Stirling Moss sterf op 90

Sir Sterling Moss (Foto: Mario Andretti/Twitter)

Die Britse motorwedren-legende Sir Stirling Moss, wat beskou word as die beste bestuurder wat nooit ʼn F1-titel ingepalm het nie, is in die ouderdom van 90 oorlede.

“Dit was een rondte te veel, hy het net sy oë toegemaak,” het sy vrou, Lady Moss, Sondag aan plaaslike media gesê.

Moss is ná ʼn lang siekbed oorlede.

Huldeblyke het oor die wêreld heen ingestroom, en veral uit motorsportkringe. Jean Todt, FIA-president, het dit “ʼn baie hartseer dag” genoem. “Hy was ʼn ware legende in motorsport en sal vir altyd een bly.”

Huidige wêreldkampioen Lewis Hamilton het ook sy meegevoel betuig. “Vandag groet ons Sir Stirling Moss, ʼn wedrenlegende. Ek gaan beslis ons gesprekke mis. Ek is baie dankbaar dat ek dié spesiale oomblikke met hom kon deel.”

Moss word beskou as een van die beste motorwedrenjaers in die geskiedenis van motorsport en tydens die beginjare van Formule Een, alhoewel hy nooit ʼn wêreldtitel ontvang het nie. Hy was van 1955 tot 1958 agtereenvolgend die naaswenner en drie keer het hy in die derde plek geëindig. Hy het 16 van die 66 F1-wedrenne gewen toe hy tussen 1951 en 1961 deelgeneem het.

Sy professionele loopbaan het in 1962 tot ʼn einde gekom ná ʼn ongeluk met sy Lotus by Goodwood in die suide van Engeland. Hy was vir ʼn maand lank in ʼn koma en vir ses maande lank gedeeltelik verlam. Hy het daarna ʼn eiendomsmaatskappy saam met sy familie bedryf en tot 81-jarige ouderdom in veteraanmotors gejaag.

Hy word oorleef deur sy derde vrou Susie en twee kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fedup ·

En wat ń legende. Die wereld van motor sport gaan hom baie mis. Ek twyfel of daar ooit iemand soos hy ooit weer kan ry. Mag sy familie vrede hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.